‘Die horrel, die horrel’

IN VLOED

‘Die horrel, die horrel’

Soos sy karakter Koert in die roman Horrelpoot word EBEN VENTER verstom deur afgryse. ’n Vloed wat plafonhoogte deur sy en sy partner se huis is, het onder meer sy hele kosbare boekery verwoes. Tog wonder hy oor oorkonsumpsie wanneer hy op die sypaadjie deur muffende huisgoed krap.

© EBEN VENTER

LISMORE, Australië – Gedurende die vroegste ure van Maandagoggend, 28 Februarie 2022, begin die water ons huis binnestroom. Ek sê “ons”, maar daar was geen mens of hond meer in daardie huis nie. Pikdonker binnekant, die water ook donker en swaar met modder en riool. Die groot glasvensters aan die westekant word eerste uitgedwing; daarna is dit open house vir die aanstormende waters. In die gitdonkerte kry die huis nou ’n eie lewe.

Die waters mors eers met die los kussings op die rusbank, my sitplek dié kant, my partner, Gerard, s’n daai kant, en forseer dan die hele ding teen die muur op. Daardie selfde muur waar die skildery van Penelope Siopis hang: ’n wit vrou sit mymerend en borduur, rondom haar postkoloniale rommel, ’n dreigende aap, ’n kleuter aan homself oorgelaat, goeters. Sy word van die muur afgeruk en weggevoer, weg; van al ons kunswerke het ek die Siopis nog nie weer gesien nie. Die keramiekkat op die kaggelrak, ’n werk van Hylton Nel, grynslag vir oulaas, glip af en spartel weg. Haar sewende lewe het aangebreek: Gerard kry haar later, nadat die water gesak het, ongeskonde in die spaarkamer.

Skerwe van 'n Hylton Nel-bord. © EBEN VENTER

Kamer ná kamer vat die waters, soos ’n vuur, maar nooit so suiwer en skoon nie. Ons bed word omgestoot en ook teen die muur opgedruk. My swaar lessenaar, nog uit die dae van SAS/SAR-spoorwegkantore, begin drywe en bollemakiesie om en om, my iMac kraak en word weggevoer in ’n brander. Die water styg vinnig en slurp boekrak ná boekrak op, Breytenbachs swel en pof op van die modderige drekwater en stoot Brinke van die rak af.

Op daardie tydstip is ek in Suid-Afrika en vroegoggend kom die video’s op WhatsApp deur: ’n verskrikking vir my om te aanskou. Ek bespreek dadelik my terugvlug en begin noodsaaklike Afrikaanse gidse koop: die Tesourus, die HAT en die Afrikaans-Engelse woordeboek. My hart is lood: oor en oor kyk ek na die lugfoto van ons verdrinkte dorp, Lismore, op die oostelike punt van die Australiese vasteland, en probeer uitmaak waar die nok van ons dak uitsteek. Oor daardie staalgrys dam waar die dorp eens was, is g’n voël meer te siene nie, die swerms corellas skoonweg, die krysende swart kaketoes het gewyk. Ons huis is ’n Queenslander uit die 1940’s, ’n houthuis met verandas en hortjies omring deur palmbome, en hoog op stelte; in die 2017-vloed het die water nie ingekom nie. Miskien is ons tog nog gespaar, miskien kom die water net tot onder die werkvlak van my lessenaar. Maar dan kom die oproep: Eben, our house has been taken.

Eben (regs) en 'n vriend tydens die opruiming. © EBEN VENTER

Hoe het hierdie vloed, die grootste in menseheugenis, dan gebeur? Jy kan begin by klimaatsverandering en die gevolge van versteurde weerpatrone. Daarby kom La Niña, wat nou al maande lank op en af langs die oostelike kus besig is om geweldige volumes water te stort. Brisbane self loop deur onder swaar oorstromings; aan die Gold Coast en verder suid tot by ons stort huise ineen, karre word weggesleur soos Dinky Toys, grond verskuif en skeur klowe in die aarde, Friesbeeste swem met neusgate oopgesper, en swem, en verdrink dan, geen droë grond in sig nie.

Om en by 1855 het die eerste houtkappers in die streek wat vandag bekend is as die Northern Rivers begin kap en saag. Die groter streek het bekend gestaan as die Big Scrub vanweë die weelde van subtropiese reënwoudbome, meestal bloekomvariëteite, en veral die gesogte rooi seder. Die Big Scrub was een van die grootste ononderbroke reënwoude in Australië en het oor meer as 75 000 hektaar gestrek. Die stroping van bome het op groot skaal begin, hellings en heuwelkruine is doodgewoon kaal afgekap. Teen die begin van die 20ste eeu was daar skaars 556 hektaar reënwoud oor. Die houtkappers het ontdek dat die Wilson- en Richmondrivier op ’n bepaalde plek saamvloei en die bote wat die hout moes wegvoer, kon dus daar draai. En só het die dorp Lismore tot stand gekom, vernoem deur die Skotse setlaars na die klein eiland Lismore naby Aberdeen in Skotland.

'n Doilie en 'n Breyten-boek is uit die puin gered. © EBEN VENTER

Die plaaslike stam mense wat harmonieus met die inheemse fauna en flora van die Big Scrub saamgeleef het, was die Bundjalung. Volgens oorlewering het hulle die Skotte gewaarsku dat hulle nie daar ’n dorp kan bou nie, want dit lê in ’n vloedkom. Maar die Skotte, koppig, Bybelwys, volkome onkundig en veral geldgierig oor daardie rooi sederhout, het hierdie raad geminag, net soos hulle die Bundjalung self verag het.

Jy kan egter nie nou gaan staan en kerrie-en-rys eet by een van die hulpsentrums met hulle sopkombuise en hierdie stuk geskiedenis rondswaai nie. Meer as 5 500 huise in Lismore is verwoes en totaal onbewoonbaar gelaat. Mense het niks oor nie. Lismore was buitendien nooit ryk nie; toe my ma een slag kom kuier het, merk sy op: “Ek sien nie eintlik baie Mercedes-karre in julle dorp nie.” En dis juis waarom ek van hierdie dorp met sy hoogs diverse gemeenskap hou.

Die studeerkamer. © EBEN VENTER

Klimaatsverandering en La Niña en kaalgestroopte heuwels: Die reën het mos nou vrypas. Al wat spruit is, stort water in die Wilson- en Richmondrivier en tot in die kom waarin Lismore lê. Gerard vertel die wolke het daardie Sondagnag gebreek, die breuk is nooit weer toegemaak nie, en die aarde was boonop lank reeds versadig. Hy en ons honde het nie op daardie uur voor die besluit gestaan om te bly of te gaan nie. Ons het reeds ná die vloed van 2017 besluit ons maak die huis vloedgereed (jy kan nie), en gee dan onmiddellik pad. Teen 03:00, 04:00 daardie oggend het die water sy piek bereik, 14,5 m hoog, veel hoër as wat enige weervoorspeller dit gehad het.

Ons buurvrou het nie betyds padgegee nie en moes vroegoggend aan ’n afvoergeut vasklou. Nicki sê die water het haar tights van haar bene afgestroop en die geraas was afskuwelik. Die hulpkrete van mense van hulle dakke af sal sy nooit vergeet nie. In ons huis was die waters steeds doenig, smyt ons Thonet-stoele om, pluk laaie met sokkies oop, ruk die gordyne van die gordynstaaf af – hoe lui die sin in die Nuwe Testament: Die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder? Jy sien, die saak staan so, ek kan nie meer my hand uitsteek na my boekrak en my Bybel uithaal om te tjek nie. My handgrootte-Bybel met die inskripsie My kind, gebruik hierdie boek as ’n lig op jou pad, Pappa, is weg, is saam met al my ander boeke, insluitend my eie oeuvre, op die sypaadjie uitgegooi met die stinkende, deurdrenkte massa van matrasse en wolkomberse en reeds aan’t muffende huisgoed.

Die huis van voor. © EBEN VENTER

Ons middedorp soos ons dit ken, is verwoes: die twee nuwe hotelle, die mediese kliniek, die bakkery en die supermarkte, die haarsalons en die ikoniese Mandarin Palace met sy boogvensters. Die Mud Army het so ver as die Gold Coast gekom en kom help skoonspuit, skrop, reinig. Opvallend was die spanne jong mense van Byron Bay, seksueel vloeibaar, post-post-hippies, bewoners van die antroposeen wat in hulle kombi’s oorgery het om die bietjie te kom red wat te redde was. So ’n span van vyf was dit wat my studeerkamer kom afwas het. En as ek na die video kyk, kan ek aan hulle glimlagte sien hulle kry ’n kick uit dié klas werk.

Ons ry self elke dag van buite af die dorp binne om ons huis verder leefbaar te probeer maak. Gerard sê dis soos om in die Zone in te gaan, soos daardie Tarkovsky-film met die titel Stalker: As jy eers binnegegaan het, en jy ervaar die vermolming, die afgeskeurde verandas, die slaggate oopgeruk in die paaie, kom jy anders daaruit. Presies hoe die Groot Vloed ons geestestoestand gaan verander, sal niemand nou kan voorspel nie.

Image: © EBEN VENTER

Op ons sypaadjie kniel ek net bokant die modder met ’n emmer om die gemors wat die bobcats nie kon lig nie, bymekaar te maak. Die detritus van ons menslike lewe: stukkies balpuntpen, skerwe plastiek, vrottende houtlepels, ’n geskeurde ligblou Covid-masker, ’n onoopgemaakte pakkie Post-It-plakkers – alles plein kak. En ek weet sonder enige twyfel dat hierdie artikels van oorkonsumpsie, en die kaalgestroopte heuwels op die einder, en die waansinnige ligging van hierdie dorp, en die uitbuiting van ons flora en die vernietiging van wilde diere se habitat (die koala-weeshuis het darem oorleef), en die wyse waarop ons skape en beeste en pluimvee tot blote eetgoed verskraal het, dat dit alles iets te make het met hierdie Groot Vloed, en dat dit so waar as wragtig weer sal gebeur, maar net erger.

“Die horrel, die horrel,” roep Koert uit in my distopiese Horrelpoot.

Hoe moet ek afsluit sonder om ons in moedeloosheid te laat wegsink? Ek kan nou aan niks anders dink as my moeder se ontbytgebed toe ek die laaste keer met haar aan tafel in Jeffreysbaai was nie: “Die Here seën ons en behoed ons, die Here seën al die diere en die bossies. En laat ons tog vir mekaar sorg en omgee, Here, tot in ewigheid, Amen.”

  • Hierdie artikel is die eerste keer op 24 Maart 2022 in VWB gepubliseer.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.            


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.