’n (Blykbaar) irrasionele hartsargument oor Stellenbosch en Afrikaans

EK SAL NIE MY BEK HOU NIE

’n (Blykbaar) irrasionele hartsargument oor Stellenbosch en Afrikaans

ANNELIESE BURGESS probeer haar gedagtes orden. Oor die ding in haar maag wat sy voel oor Stellenbosch. Of miskien is die ding in haar maag eintlik oor Afrikaans (wat sy in haar water weet besig is om sy gat te sien). Moontlik het die twee uiteindelik niks met mekaar te doen nie.

ANGELA TUCK

EK begin by die begin. My begin. Met taal.

Ek het grootgeword in ’n huis met ’n Engelssprekende pa en ’n Duitse ma. Die enigste lid van my familie wat Afrikaanssprekend was, was my ouma, ’n Van der Walt.

Snaaks genoeg het sy en my oupa met mekaar Engels gepraat, maar met ons het sy Afrikaans gepraat. Dit was ’n taal-deurmekaarspul in ons familie, maar die bottom line is a) dat ek gemaklik meertalig grootgeword het, en b) dat Afrikaans nie my moedertaal is nie.

Ek het met ’n onderwysbeurs op Stellenbosch gaan studeer. Ek onthou dat klasse in Afrikaans was, maar ek het elke enkele taak en eksamen in Engels geskryf. Ek was net vlotter en gemakliker daarmee. Ek kan nie onthou dat daar enige handboeke in Afrikaans vir sosiologie of politieke wetenskap was nie. Die leeswerk was oorwegend (of miskien toe al heeltemal) in Engels. 

Die Stellenbosch van 1987 is ’n plek van skrille kontraste. Aan die een kant word ons vroue saans nog soos hoenders in koshuise toegesluit en aan die ander kant is ’n revolusie aan die broei.

Dit is ’n tyd van opstand en politiek en aktivisme en verset en storms van verandering. Ons is kniediep in die politiek. (In my derde jaar moet ek my middel-van-die-jaar-rapport by die Indwe-poskantoor gaan onderskep sodat my pa nie kan sien ek is besig om Engels te pluk nie.)

Stellenbosch vorm my. Ek ontdek daar ’n sielsband met Afrikaans wat my A in Afrikaans Eerste Taal in matriek my beslis nie gegee het nie.

Hartstaal

Dit is vandag steeds vir my makliker en vinniger om in Engels te skryf. As ek ’n radio- of televisie-onderhoud moet doen, is ek beslis vlotter in Engels. As ek ’n komplekse verbale argument moet voer, doen ek dit gemakliker in Engels.

Maar daar het op Stellenbosch iets gebeur wat gemaak het dat ek vandag Antjie Krog se gedigte in Afrikaans wil lees, nie die Engelse vertaling nie. Dat ek Deon Meyer in Afrikaans koop, nie die Engelse weergawe nie. Dat ek beter baklei (en vloek) in Afrikaans. En dat ek, ’n Engels-Duitse mengsel, ná universiteit as ’n joernalis by die Afrikaanse Die Suid-Afrikaan gaan werk het en vandag ’n redakteur by ’n Afrikaanse publikasie is.

En dis ’n feit dat Afrikaans méér van ons nodig het as ons nie wil hê die taal moet wegkwyn tot net ’n om-die-braaivleis-met-brannas-en-coke-taal nie.

As ons wil hê mense moet in Afrikaans dig (en dit lees), boeke in Afrikaans skryf (en lees), en koerante en tydskrifte en musiek in Afrikaans maak (en lees en luister) – dan moet Afrikaans meer liefde en aandag kry as ’n oulike taal wat ’n laaste generasie met hulle kleuters praat voordat hulle na Engelse skole gaan. En meer respék kry as ’n taal wat jy net in jou binnekamer (mag) praat.

Is ek onprogressief?

As ek oor die jare heen in sogenaamde “progressiewe” sirkels net geneig het in die rigting van die argument vir Afrikaans wat ek nou hier probeer neerpen, is ek laat voel soos ’n apologeet vir iets onguurs.

Dit het mode geword om te sê: “Fok Afrikaans, haar tyd is oor, sy’t te veel bagasie; hoekom moet sy anders behandel word as enige van die ander 10 inheemse tale wat afgeskeep word? Wie dink jy is jy nou eintlik om ’n spesiale saak te probeer uitmaak vir die taal van die onderdrukker? En dan my gunsteling: die diep neerhalende houding teenoor enige emosionele argument vír Afrikaans. Ek noem dit die sjym-dis-’n-nie-intellektuele-meisie-argument-houding. Ek kry dit baie. 

En dan is daar altyd ook die oorkoepelende meta-argument. “Afrikaans is nie aan die sterf nie. Daar word meer Afrikaanse boeke en musiek in Suid-Afrika verkoop as in enige ander inheemse taal.”

Wel, dit is ’n kwessie van tyd. En soos my ma in Duits sou sê: “Das kann doch jeder Blinde mit einem Krückstock sehen!”

Afrikaans sál mettertyd wegkwyn

Die wonderlike outeur Sidney Gilroy skryf verlede week in Vrye Weekblad (oor ’n gesiglose LitNet-kritikus, maar dis nie ter sake nie): “Ek het haar al in die leë sale by feeste raakgeloop. Dis nie asof sy nie kan sien wat aangaan nie: Die leserskorps van skimmelkoppe gaan nie vir altyd rondhang om die nuutste blitsblaaier te koop nie en die afwesigheid van die 25-45’s is so ooglopend dat uitgewers begin wonder of hulle ooit leer lees het.”

Dominique Botha, ’n vrou wat Afrikaans soos Mozart laat klink, sê verlede week in haar kommentaar op Max du Preez se storie oor regter Sisi Khampepe se verslag oor Stellenbosch: “Afrikaans is gemaak deur al die mense wat dit praat en gepraat het. ’n Taal is ’n gemeenskaplike sintuig. Dit behoort nie aan die Nasionale Party nie of die verlede nie. Die sogenaamde taaldebat is ’n verskreeuing. Dit wil voorkom asof ideologie en modder rondgeslinger word eerder as ’n oop gesprek waarin die kompleksiteite van die kwessie op ’n genuanseerde wyse benader kan word. Mense kan of wil mekaar nie hoor of verstaan nie, al praat hulle dieselfde taal.

“Indien Afrikaans op tersiêre vlak kwyn, sal ’n hele ekosisteem tot niet gaan. Dit is die hoë boom waaronder uitgewers, KOERANTE, literators, radiostasies, skrywers, digters, kunstefeeste, skole en veel meer floreer. Dit dra by tot die ekonomie en dit neem niks weg nie. Meertaligheid is ’n nasionale bate.”

’n Ander joernalis en skrywer, Hans Pienaar, sê: “Sekerlik is dit so ’n rookskerm vir sekere mense, maar ewe sekerlik beteken dit nie dis so vir almal nie, nie vir JM Coetzee, Breyten, Mercy Kannemeyer, die baie swart ondersteuners van Afrikaans en die talle ‘bruin’ mense wat Afrikaans op Stelliematies wil behou nie? ’n Mens kan swart mense se haat teenoor Afrikaans verstaan, en jy moet studente daaroor leer, maar ander mense se afkeer beteken nie jy moet jou arm afkap nie.” (Lees hier wat Mercy Kannemeyer in vandag se VWB hieroor te sê het.)

’n Gesprek met Wim Div

Twee maande gelede doen ek ’n onderhoud met die rektor van die Universiteit Stellenbosch, Wim de Villiers (in Afrikaans).

Ek koop heeltemal sy argument dat Maties “’n nasionale bate, nie ’n volksuniversiteit is nie”.

Ek koop sy argument oor die “inklusiewe, veeltalige taalbeleid waar Afrikaans, Engels en waar doenlik ook Xhosa as ’n ontwikkelende akademiese taal op voorgraadse vlak gebruik word”.

En ek koop sy argument dat as Stellenbosch die mees toonaangewende universiteit op die vasteland wil word, dan moet Engels ’n primêre rol speel, want hoe lok jy die beste akademici en die beste navorsers as die onderrigtaal Afrikaans is?

Maar wat ek nié koop nie, is dat die Afrikaanse “karakter” van Stellenbosch die wortel van alle euwels is. Dat die antwoord op die uitsluiting en onwelkomheid wat swart studente en akademici vir Sisi Khampepe gesê het hulle voel, daarin lê om Stellenbosch van Afrikaans te reinig. 

Die antwoord lê vir my in ’n sterk en kragtige toewyding wat meertaligheid betref. En om op te hou om skaam te wees vir Afrikaans in dié verband. 

Maak Engels dan die primêre onderrigtaal (dit is de facto reeds so), maar laat Afrikaans en Xhosa trots deel wees van Maties.

Hoekom is ons nie meer kreatief rondom meertaligheid nie?

Stellenbosch het ’n fantastiese wêreldklas-taallaboratorium. Maak dit verpligtend vir elke eerstejaarstudent om ’n jaar lank ’n kursus in Afrikaans of Xhosa te doen (of Engels vir die outjies uit die diep Afrikaanse platteland). Maak dit ’n Stellenbosch-ding: Hiér kom jy meertaligheid leer.

Terug na die persoonlike

Om my ongemak (en hartseer) oor die (moontlike) demonisering van Afrikaans by Stellenbosch te verduidelik, moet ek weer persoonlik raak. (En jy hoef dit nie demonisering te noem nie. Vanselfsprekend gaan niemand nie. Al wat jy hoef te doen, is om jong mense skaam te maak oor Afrikaans, dan is die job gedoen.) 

Ek en my dogter se pa praat met mekaar Afrikaans. En my dogter Ilke was volkome Afrikaanssprekend tot sy op vier kleuterskool toe gegaan het – ’n Engelse Montessori in Johannesburg. Binne ses maande praat sy toe Engels. En op ’n dag kondig sy aan sy gaan nie meer “that other language” praat nie, want dit maak haar deurmekaar.

Vir iemand wat in robuuste meertaligheid grootgeword het, was dit ’n gatslag. Nie net oor ek so graag wou hê sy moet Afrikaans behou nie, maar ook oor al die navorsing wat wys dat dit geweldige groot kognitiewe voordele inhou om meer as een taal te praat.

Ons maak toe ’n plan. Ek sal met haar Engels praat en hy sal aanhou Afrikaans praat. Die afgelope 13 jaar doen ons dit. En Ilke praat nooit terug in Afrikaans nie. En toe, twee weke gelede, sit ek by die skool se prysuitdeling. En my kind, nou in graad 11, kry ’n prys vir “excellence in Afrikaans”. Ek sukkel om te verduidelik hoekom dit my so diep geraak het, maar ek het gesnik daar op my plastiekstoeltjie.

En toe kom die koor op die verhoog. Daar is een wit kind. En hulle sing ’n liedjie van Laurika Rauch. Die koorafrigter is ’n Mister Hoza. Hy is ’n Xhosa-man wat aan die US studeer het. En in die Stellenbosse universiteitskoor gesing het. En hy kies ’n Afrikaanse liedjie vir die opvoering by ’n Engelse skool.

Dít, net daar, is die mag van robuuste meertaligheid, sonder verdagmakery.

Terug na Stellenbosch

So, as my diep band met Afrikaans op Stellenbosch nie was omdat Afrikaans die akademiese voertaal was nie, wat was dit?

Ek sukkel om my vinger daarop te lê. Was dit die spesifieke tyd op Stellenbosch: die opstand-van-die-1980’s wat ook gepaard gegaan het met ’n terugeis van die taal? Die kragtige energie van “alternatiewe Afrikaans” sonder sy apartheidsbagasie? Die middelvinger (in Afrikaans) vir PW Botha en al die grysskoen-Broederbond-meelopers?

Ja, dit was beslis ’n element.

Maar daar was iets anders ook. En dit was omdat Stellenbosch se “Afrikaanse karakter” my toegelaat het om Afrikaans te leer ken. 

En baie daarvan het by die universiteitskoerant gebeur. Ek het al my akademiese skrywes in Engels gedoen, maar by Die Matie het my liefde vir Afrikaans wortels gekry. En ook later, toe ek redakteur van die jaarboek Die Stellenbosse Student geword het.

En dis nie net ek nie. Ons senior redakteur, Willem Kempen, was Matie-redakteur. Ons nuwe rubriekskrywer, Albertus van Wyk, was ’n redaksielid. Pearlie Joubert, die ou Vrye Weekblad se baanbreker-skrywer, was ’n redaksielid. Ons voormalige produksieredakteur, Hanlie Gouws, was ’n redaksielid van Die Perdeby, die Universiteit van Pretoria se studentekoerant. So ook ons voormalige bestuurder by Arena, Riaan Wolmarans. Ek kan hulle op ’n streep opnoem: die mense wat vandag in Afrikaans skryf en wat dit op universiteit geleer het.

Die Matie is nou blykbaar tweetalig. My voorstel sou wees dat dit sommer in drie tale uitgebring word. Drie uitgawes. Drie tale. Nie ’n halfhartige almal deel die koek nie. Want ek weet wie gaan aan die kortste ent trek: die Afrikaanses en die Xhosas. Engels gaan altyd wen, teensy ons sterk staan.

So, wat is dit wat ek sê?

Ek sou graag wou hê dat my dogter Stellenbosch toe kan gaan. Nie om in Afrikaans onderrig te word nie, maar om iets te ervaar van die Afrikaanse kulturele ekosisteem wat ek het. Om dit nie te sien as ’n taal waarvoor jy skaam moet wees nie. Om te leer dat dit trots kan staan langs Engels en Xhosa. Omdat dit deel van haar erfenis is. Nes Duits en Engels.

Maak dit my “onprogressief”? Ek glo ’n militante opstaan vir meertaligheid ís progressief. Nie ’n knieknakkende jammer-ek-leef-houding oor ’n taal wat aan veel meer as ’n paar ou wit ballies behoort nie.

“Stuur jou kind Akademia toe as jy dan so sterk voel oor Afrikaans,” sê iemand nou die dag vir my.

Nee dankie, ek wil nie my kind Akademia toe stuur nie. Dit sal ’n totale volksvreemde ervaring vir haar wees. My kind is nie Afrikaans nie. My kind is meertalig. (En dit is nie ’n refleksie op Akademia nie, ek dink hulle vervul ’n belangrike rol, en doen uitstekende werk.)

En, jammer oor die gekruide taal, maar hierdie voel fokken persoonlik vir my. En ek sal nie meer my bek hou nie. En dit is nie eens “my” taal nie. Miskien is dit juis hoekom ek so sterk voel daaroor.

  • Hierdie artikel is die eerste keer op 18 November 2022 in VWB gepubliseer.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.