AAN die einde van my militêre diensplig in die middel 1980’s, en voordat ek weer op grond van my ouderdom tot die Universiteit van Stellenbosch toegelaat sou word, ryloop ek deur Europa. Israel is my verste mikpunt oos van die Britse Eilande. Ná maande deur Wes-Europa is ek op ’n boot vanaf Bari in Italië na Patras in Griekeland. Ná vele omswerwinge in en om Athene kies ek koers na Istanbul in Turkye en ryloop van daar wes via Ankara en dan suid na die dorpie Marmaris.
Marmaris sit gerieflik in ’n vallei langs die Turkse Riviera (ook bekend as die Turquoise Coast), tussen berge oortrek met dennebos en langs die helder water van die Mediterreense See. Dit is gewilde seil- en duikbestemming. In ’n plaaslike jagklub is die bier koud en die atmosfeer vervul met lewensvreugde. Drank verdra nie onreg nie, en in die vroeë oggenduur betrek ek ’n onrustige Turk met ’n steelhou. Die Deense meisie saam met my beweer die Turkse polisie soek my, en met eerste lig vlug ek inderhaas per veerboot na die Griekse eiland Rhodos.
Soos die boot die hawe verlaat, vervloek ek myself. Ek wou nog kyk of ek oor die grens na Iran kon ryloop; nou lê daai lewensdroom ook saam met so baie ander in skerwe onder in ’n drankglas. Wel, in Rhodos was ek en ’n Nieu-Seelander ook in ’n stadium aan die verkeerde kant van die Griekse regstelsel, maar dis ’n storie vir ’n ander dag.
Ná ’n leeglêery op Kreta is ek via Ciprus per boot na Tel Aviv, vanwaar ek duimgooi in die algemene rigting van Haifa en Wes-Galilea in die noorde van Israel, op soek na Kibbutz Ga’aton. Soldate swerf oor die lengte en breedte van Israel, maar teen die Libanese grens is die olyfgroen uniforms van Israel se weermag ’n digbevolkte teenwoordigheid. Ek is 22 jaar oud en die vrouesoldate wat ongeërg en argeloos met ’n masjiengeweer oor die skouer deur die strate drentel, is ’n instinktiewe aantreklikheid. Geen vrou met maskara sou ooit weer iets vir my doen nie.
Op Ga’aton aangekom, is ek een van 46 vrywilligers: 11 mans en 35 vroue. Die mans kom van oral in die wêreld, maar die vroue is meestal goddelose Skandinawiërs. Ga’aton is sleg vir jou morele waardes, fluister ’n andersins luidrugtige Italianer die eerste aand terwyl ons ’n stapeldieet in die kibboets se eetsaal nuttig.
My eerste werk op die kibboets is in die piesangs. Ek laai die trekker en sleepwa onder leiding van Abed, ’n middeljarige Arabier wat nie ’n woord Engels verstaan nie. Ons vind op ’n vreemde manier aanklank by mekaar; daar is baie om woordeloos oor te lag. Wanneer ek ná ’n nag van fuif en suip teen halfvyf die oggend steeds nie gesig wys nie, kom maak hy my wakker. Saam stap ons deur die donker na die trekker, en ek ry van daar op die modderskerm – saam met die ander vrywilligers op die sleepwa – na eindelose plantasies. Vir ontbyt kap Abed ’n stewige bord tamaties en komkommers in klein blokkies en gooi ’n surerige wit sous oor. Ons deel ’n bottel Coke. Ek het Abed nooit sien bid nie en uiteindelik ook nooit weer gesien nie.
Ná die afgelope week se paramilitêre inval deur die Soenni-Islamitiese politieke organisasie Hamas in die suide van Israel het ek my hart vasgehou vir Ga’aton en oor Abed gewonder. Ek weet redelik seker dat verreweg die meeste Israeli’s nie hulle godsdiens gebruik as regverdiging vir hulle stryd met die inwoners van Gaza en die Wesoewer nie. Om Joods te wees is plek-plek meer kultureel as religieus. Die vestiging van ’n Joodse grondgebied in die Midde-Ooste in 1948 was waarskynlik gerig op religieus-historiese aansprake, maar sedertdien het dié politieke beginsel grootliks gesekulariseer.
Ek plaas my hoop op die tweestaat-model. Israel is ’n plek waar die Jode teen vervolging en uitwissing kan skuil. Maar hoekom nou juis daar, tussen die Palestyne, blootgestel aan ’n onoplosbare konflik? Die woord Palestina is afgelei van Philistia, die naam wat Griekse skrywers gegee het aan die land van die Filistyne, wat in die 12de eeu voor Christus grond aan die suidelike kus beset het, tussen die moderne Tel Aviv–Jaffa en Gaza. Die Palestyne het ’n gemeenskaplike vyand in die Jode, maar hoewel hulle vandag kultureel hoofsaaklik Arabies en Islamities is, identifiseer baie van hulle steeds eerder met vroeëre Palestynse beskawings.
Terloops, Israel is ’n ongelooflike bron van prehistoriese werklikhede. Die oudste fossiele van anatomies moderne mense wat al buite Afrika gevind is, is die Skhul- en Qafzeh-hominiede, hulle wat 120 000 jaar gelede in die noorde van vandag se Israel gewoon het. In omstreeks die 10de millennium voor Christus het die Natufiese kultuur in die gebied bestaan.
Wat die meer onlangse betref: Die aansprake van die mense van Gaza en die Wesoewer op grond en soewereiniteit is nie ongegrond nie. Gaza het 17 jaar gelede laas ’n verkiesing gehad en die Wesoewer is sedert die Sesdaagse Oorlog in 1967 onder Israel se beheer. Die wedersydse onbegrip tussen die Israeli’s en die Palestyne – en die gepaardgaande geweld – is te irrasioneel om van sin te maak, maar dalk sou dit ook ’n denkfout wees om te dink elke Palestyn deel Hamas se geheelbeeld van Israel se soms wrede politieke teenwoordigheid.
Hamas is gestig kort ná die eerste Intifada (opstand) in 1987 met die ideaal om met gewapende weerstand die Israeliese besetting van Gaza en die Wesoewer te beëindig. In 2007, ná afloop van ’n wetgewende verkiesing in 2006, het Hamas die de facto-regering in die Gazastrook geword. Israel en Hamas is sedertdien in ’n skynbaar ewigdurende militêre konflik. Vir Hamas is die blote bestaan van Israel inherent onwettig, en wat dié organisasie betref, strek die Palestyns-Islamitiese staat vanaf die Jordaanrivier tot by die Middellandse See. Hulle verwerp die internasionaal voorgestelde tweestaat-oplossing. Ek het genoeg gelees om oortuig te wees dat Hamas fundamentalisties en korrup is en dat dié organisasie geen politieke kompromis met die Jode sal aangaan nie.
Hamas is vergeleke met sommige ander djihadistiese stemme in die Midde-Ooste ’n gematigde beweging. Tog bepleit die organisasie se handves duidelik volksmoord met die insluiting van die hadit (profesie) “O, Moslem, daar is ’n Jood wat agter my skuil. Kom maak hom dood.”
Die stomp byl kap na albei kante, maar die neurowetenskaplike Sam Harris tref ’n belangrike onderskeid tussen die Jode se stryd om eksistensiële oorlewing en Hamas se bevrydingstryd. Hy voer aan dat Hamas elke Jood sou uitwis indien hulle daardie keuse gehad het, maar Israel sal nie volksmoord pleeg in hulle stryd met die Palestyne nie. Hy is waarskynlik reg, maar met die vergeldende verwoesting in Gaza deur Israel die laaste paar dae begin ek wonder of Harris se argument nog steek hou.
En dit is ’n feit dat baie inwoners van Gaza en die Wesoewer die laaste dekades hulle lewe aan die hand van Joodse setlaars en Israel se soldate verloor het.
Die teenstrydighede en ongeërgdheid sny soos ’n blaasvlam oor kulture en demografieë heen. Wantroue en nydigheid kom met voorspelbare reëlmaat tot wasdom in eksistensieel gespanne ekologieë waar God se woord met ’n stomp wysvinger gelees word.
Die kibbutzniks (permanente inwoners van die kibboetse) behandel die vrywilligers soos kinders en maak selde geselsies, maar hulle aardse leefwyse herinner my aan die Afrikaners wanneer hulle nie deur hulle oorlewingsdrange geregeer word nie. Hegte gesinstrukture, intelligente, berekende toekomsverwagtinge. En wanneer dit nie absoluut noodsaaklik is nie, is hulle ook nie juis vreeslik gelowig nie. Tog het ek in Israel te dikwels die uitdrukking “die enigste goeie Arabier is ’n dooie Arabier” gehoor, ’n soort narratief wat selfs in apartheid-Suid-Afrika baie skaars was.
Die teenstrydighede van Israel is aangrypend en verwarrend. My deernis vir die minimalistiese leefwyse van ’n kibbutznik maak dat ek hulle die voordeel van die twyfel wil gee. Die wreedheid van menswees hier, te midde van fanatisme en vervloeking, is te diep gewortel vir my eenvoudige begrip. Selfs Abed het dit probeer verstaan, al het hy weg van die kibboets geleef in ’n naburige gemeenskap waar armoede en vervreemding ’n kenmerk van sy menswees was.
Terug by my destydse reis: Ná ’n maand word my gretige behoeftes aan dekadensie deur my Calvinistiese genetika oorweldig, en ek ryloop via Haifa na Nasaret. By die Basilika van die Maria-boodskap (Basilica of the Annunciation) wonder ek oor God en doen navraag oor Jesus, maar die Arabiere is ’n meerderheid in dié stad en het dit nét oor Allah en Mohammed. ’n Ondergrondse sinagoge waar Jesus – volgens oorlewering – die woord van God bestudeer het, is ’n kuriositeit. By Sint Josef se Kerk het Jesus se aardse vader ’n skrynwerkswinkel gehad, vertel ’n toergids aan ’n klompie opbetaalde besoekers uit Amerika terwyl ek op die agtergrond skepties roof-luister. Ná twee dae van veeleisende kultuur-historiese ervarings verlaat ek Nasaret, heeltemal oortuig dat Jesus en Mohammed daarin slaag om in relatiewe vrede met mekaar saam te leef.
In Jerusalem talm ek nostalgies by die Klaagmuur, die Wesmuur van die Tempel. Blykbaar het die term Klaagmuur, ’n vertaling van die Arabiese El-Mabka, of Plek van Roubeklaging, iewers in die 19de eeu reeds in Engelse literatuur verskyn. In Frans is dit Mur des Lamentations, en die Duitse Klagemauer klink so morbied soos die Afrikaans. Die benaming het gespruit uit die Joodse praktyk om op dié terrein te kom treur oor die vernietiging van die Tempel en die verlies aan nasionale vryheid wat dit gesimboliseer het.
In Israel en elders in die Midde-Ooste is geen woord of waarheid gebore uit eenvoud nie, en niemand en niks leef voort in konsensus nie. Ek ryloop met die Aandster langs, soekend na Betlehem, die geboorteplek van Jesus, suid van Jerusalem aan die Wesoewer.
Die geboorte van die seun van God word gewaarmerk met ’n ingelegde silwerster in ’n grot onder die 6de-eeuse Kerk van die Geboorte, wat Kripplein (Manger Square) deel met die 15de-eeuse Kerk van Sint Katarina en die Omar-moskee uit 1860.
Daar is iets onwerklik-magies aan die plek. Op ’n vlooimark nooi ’n Arabier my vir tee, en sy tienderjarige seun wys trots vir my sy pa se matte. Ek verstaan nie ’n woord van wat die kind sê nie, maar sy armoedige voorkoms breek ’n mens se hart.
Anderkant die Wesoewer en die Judese Woestyn raak die saamrygeleenthede min. Palestynse families laai my op en Israeliese soldate by militêre padversperrings doen skepties navraag oor my doen en late. Dit voel asof nie-Jode se lewe met ’n mengsel van wantroue en nydigheid bestuur word.
Midde-in dié ervaring is my empatie met die Palestyne, die inwoners van Gaza en die Wesoewer, maar ek het begrip vir die eksistensiële vrese van die Israeli’s.
As ongelowige vertrou ek nie politieke motiverings wat op geloof gegrond is nie. Die sekularisme van die Jode is vir my verfrissend dog vreemd; die Christene by die huis het my verkeerdelik laat verstaan dat die volk van God diep gelowig is.
Ek reis blymoedig voort; deur die Judese heuwels wes van die Jordaanvallei, Negeb in die suide, tot by die Dooie See. Bedags praat ek met Palestyne wat met eindelose geduld en genade my oortuig dat internasionale organisasies en die Westerse wêreld geen slaap verloor oor hulle lyding nie. Ek self slaap onrustig langs die pad en stap sommige dae meer as 20 km in versengende hitte.
Israel is ’n meedoënlose mengsel van verlatenheid en hoëdigte-wreedheid. Dit is asof die Middeleeue steeds die waardes en norme van menswees bepaal.
Uiteindelik beland ek op ’n strand aan die Rooisee in ’n dorp met die naam Eilat. Eilat is bekend vir eindelose wit strande en onderwater-riwwe. My geld is min en ek soek dringend ’n inkomste. Jy word nie regtig betaal vir jou werk op ’n kibboets nie en ek kyk uit vir iets op ’n mosjaf (’n soort Israeliese landbou-nedersetting) waar die dagloon redelik is.
Soggens voor vyfuur kom laai die boere van die omgewing die handearbeiders op. Saans, ná ’n lang, harde dag, kom ’n smorgasbord van vreemde kulture en nasionaliteite in die Peace Café bymekaar om hulle sikkels wat in bloedige hitte verdien is, aan drank, kos en mekaar te bestee. Dan, teen die nanag, verskuif ons haweloses na die strande van Eilat, reg onder die borde wat sê “Moenie op die strand slaap nie”.
Dié rituele herhaal vir ’n maand of so, tot ek begin verlang na ’n lewe op die pad iewers weg van die woestyn en die wantrouige vrae van glimmende geweerlope. Die Engelsman wat saam met my in Tel Aviv op die boot klim, spot dat ek uiteindelik ’n land verlaat sonder die vrees om uitgeskop te word.
Nou, byna 38 jaar later, het min verander in Gaza en Israel. In die dae, maande en jare wat kom, sal een miljoen kinders in Gaza niks anders ken as honger, vrees en geweld nie. Dink aan hulle en ’n godverlate Israel wanneer jy saans jou gebroedsels se komberse indruk voor jy die lig afskakel. Ek sal die beelde van vlugtende jongmense en die bloedstollende geweerskote onder aanmoediging van “Allahu Akbar” nooit kan vergeet nie; my kinders is hulle ouderdom.
En ek wonder waar is Abed.
- Hierdie artikel is die eerste keer op 13 Oktober 2023 in VWB gepubliseer.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.