Ons moet onsself doelgerig pantser

MAANDAG MET MAX

Ons moet onsself doelgerig pantser

MAX DU PREEZ skryf oor Cyril Ramaphosa se traagheid om dringende besluite te neem. Maar hy glo steeds Suid-Afrikaners gaan die wa deur die drif trek, al is die drif diep en die wa kwalik padwaardig. En soos gewoonlik is daar vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 06 Maart 2023
  • Daagliks
  • 11 min om te lees

Goeiedag!

1. Suid-Afrika se 27 ministers en 35 adjunkministers het die afgelope vyf jaar meer as R1,9 biljoen aan 624 persoonlike ondersteunende personeel bestee, sê die DA. Die ministers en adjunkte se eie salarisse beloop R690 miljoen vir dié tydperk. Hulle bewoon 97 staatshuise in Pretoria en Kaapstad wat saam sowat R1 biljoen werd is. Die inligting is meestal uit antwoorde op parlementêre vrae bekom – lees die volledige verslag hier

2. Die bestuur van Richards Bay Minerals (RBM), wat in 2021 R1,5 biljoen aan belasting betaal het, sê hulle ontginning van minerale soos titaan en sirkoon in die noorde van KZN word ernstig deur misdaadsindikate bedreig. Bestuurslede reis in koeëlvaste motors in gewapende konvooie nadat twee senior bestuurders en nege ander werknemers al doodgeskiet is. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

3. Rapport berig dat Tshwane se nuwe burgemeester, Murunwa Makwarela, in 2016 gesekwestreer is en dat ’n hofbevel vir agterstallige skuld in 2019 teen hom uitgereik is. Ongerehabiliteerde insolvente mag volgens wet nie in plaaslike, provinsiale of nasionale wetgewers dien nie. Makwarela is Cope se enigste lid in die Tshwane-raad.

4. ’n Verdrag wat 30% van die oseane teen 2030 tot beskermde gebiede sal verklaar om die seelewe te bewaar, is die naweek by die Verenigde Nasies onderteken. Die VN-Oopseeverdrag (UN High Seas Treaty) bevat ook nuwe reëls vir mynaktiwiteite op die oop see; dus die internasionale waters waar alle lande die reg het om te vaar, vis te ontgin en navorsing te doen.

5. Prins Harry, die hertog van Sussex, sê in ’n nuwe televisie-onderhoud met die traumaspesialis Gabor Maté hy het nog altyd “effens anders” as die res van sy familie gevoel. Dit was ook die geval met sy ma, Diana. Hy het nie in die onderhoud enigiets gesê oor die koningshuis se besluit verlede week dat hy en sy vrou, Meghan, hulle huis op die grond van Windsor Castle, Frogmore Cottage, moet ontruim nie.


Vandag se weer

Reën kan al langs die kus verwag word, veral in die Wes- en Oos-Kaap. Buie en donderbuie kan oor dele van Gauteng, Limpopo en Mpumalanga verwag word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 32°C • Johannesburg 30°C • Rustenburg 31°C • Mbombela 28°C • Kaapstad 23°C • Durban 29°C • Worcester 21°C • Bloemfontein 28°C • Polokwane 30°C • Upington 31°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 28°C.


Max du Preez | Ons wag (steeds) op die kaptein

“I have often asked myself, as president, why am I doing this job?” Dit was die woorde van pres. Cyril Ramaphosa tydens sy onlangse staatsrede.

Jy is nie die enigste een wat wonder nie, Meneer die President. Jy het duidelik jou aptyt verloor om die regering en die regerende party te lei.

Ons sien dit nie net in jou traagheid om te lei of besluite te neem nie, ons het dit ook gesien toe jy sommer so maklik wou bedank toe oudregter Sandile Ngcobo en sy paneel in November verlede jaar ’n nonsens-verslag oor Phala Phala uitgebring het.

Baie mense binne en buite die ANC was desperaat dat hy nie sy beoogde bedanking deurvoer nie, maar dit was eintlik net omdat ons nie met die skelms David Mabuza en Zweli Mkhize of ’n ander kader opgesaal wou wees nie.

Ramaphosa weet al van middel-Desember af dat hy ’n nuwe kabinet sou moes saamstel. Met Paul Mashatile as die nuwe adjunkpresident van die ANC en Mabuza waarskynlik op pad tronk toe sou ’n nuwe Nommer 2 aangestel moes word; Fikile Mbalula is as sekretaris-generaal van die party verkies en kan dus nie meer ’n lid van die kabinet wees nie; en Ayanda Dlodlo het al twee jaar gelede uit die kabinet bedank om ’n pos by die Wêreldbank te aanvaar en is nooit vervang nie.

Maar Ramaphosa het tot 6 Maart gewag om die name van die nuwe uitvoerende gesag bekend te maak – dit is nou as dit inderdaad vanaand gaan gebeur. (Dalk het die presidensiële verkoue darem opgeklaar.) Hy het al vier weke gelede aangekondig ons gaan ook ’n minister van elektrisiteit kry.

Dit is so dat Ramaphosa sy party se nasionale uitvoerende komitee, die SA Kommunisteparty en Cosatu oor sy nuwe kabinet moes raadpleeg, soos die ANC se gebruik is. Maar het hy 11 weke daarvoor nodig gehad? Dit moes dié keer makliker gegaan het, want hyself en sy faksie staan baie sterker as ná die ANC-verkiesings van 2017.

Sy vertraagde reaksie rakende die kabinet is maar net een voorbeeld van vele dringende besluite wat Ramaphosa moes neem, maar op ys gesit het.

Soos die leier van die amptelike opposisie, John Steenhuisen, Vrydag op Twitter gevra het: “No Cabinet Reshuffle. No Emergency Electricity Plan. No SABC Board. No laws being signed. No action on greylisting. No answers on Phala Phala. No loadshedding relief. No Action on allegations of corrupt ministers. No social compact. What does our President actually do in a day?”

Cyril Ramaphosa is ’n bekwame man en daar is geen getuienis dat hy korrup is nie. As hy in 1999 as president by Nelson Mandela oorgeneem het, soos Mandela aanvanklik beoog het, sou hy waarskynlik ’n goeie president gewees het.

Maar Suid-Afrika is in ’n krisis. En Ramaphosa is geen krisispresident nie.


Image: ANGELA TUCK

Hoop is ons beste vriend

Hoop ploeg die boer se laaste voor;
Hoop voer sy wa die Dorsland oor;
Besiel die burger as hy veg
Vir vaderland en goeie reg.
Hoop is ons laaste, beste vrind.

(Uit die gedig “Hoop”, deur A.G. Visser)

Ek het met ’n swaar hart geskryf aan my stuk in ons Vrydag-uitgawe onder die opskrif “Dié keer brand daar nie ’n liggie voor in die wapad nie”.

Ek was nog nooit ’n doemprofeet nie. Ek het genoeg oor die laaste vier dekades hier in ons land en elders in die wêreld gesien om nie maklik in swartgalligheid te verval nie. Ek het in dié tyd ook al oorgenoeg profesieë gelees wat wou hê dat Suid-Afrika teen vandag ’n algehele mislukte staat met ’n burgeroorlog sou gewees het.

Image: ANGELA TUCK

Ek bly ’n agent van hoop. Ek bly glo in die inherente verbintenis van die meeste mense van Suid-Afrika tot ’n oop, vredeliewende en demokratiese gemeenskap.

Ek glo vas ons gaan die wa deur die drif trek. Dis net dat die drif diep en gevaarlik is, en die wa kwalik padwaardig.

My artikel was die gevolg van ’n onlangse gesprek met ’n bekende sakeman. Hy het my trompop geloop en gesê: “Dis jou werk om op die bergtop te klim en vir ons te sê wat aan die kom is. Jy moet die bobbejaan agter die bult eerste raaksien en die publiek laat weet.”

Ek het toe ’n hele paar gesprekke gehad met mense met diep insigte en agtergrondinligting, ek het ’n groot klomp dokumente gelees en diep nagedink. En toe kon ek nie anders nie as om te konstateer: “Ek het vandag die gevoel dat Suid-Afrika nou voor sy gevaarlikste oomblik sedert staatswording in 1910 staan.” Dit is my eerlike en oorwoë mening.

Vriend, vyand en familie was verras dat ek van alle mense so ’n starre prognose het. En almal se vraag is: Wat moet ons doen? Hoe kom ons anderkant uit?

Vandag wil ek fokus op wat ek, wat elkeen van ons as gewone burgers kan doen om ons teen ’n verdere verval van ons land te staal – dit is nou benewens om volgende jaar te gaan stem.

Laat my dus my sekulêr-pastorale hoed opsit en ’n paar gedagtes deel. (Met twee broers, ’n swaer en skoonouers wat almal dominees is/was, het ek dalk al ’n paar pastorale tips opgetel.)

Boaan my lys is die ou waarheid dat hoe sterker en veiliger jy in jou self is, hoe makliker is dit om buitekrisisse te hanteer. As jy inherent ongelukkig en beswaard is, as jy te veel krisisse in en om jou moet hanteer, as jy nie genoeg liefde en vrede in en om jou het nie, as jou spirituele tenk leeg is, gaan die verslegtende toestand in die land jou net in ’n dieper gat laat beland.

Ons moet onsself doelgerig pantser. Moenie terugsit en toelaat dat dinge net met jou gebeur nie. As jy slagoffer speel, gaan jy een word.

Dit beteken jy moet jou geliefdes nog nader trek en vrede maak met almal met wie jy in onvrede is: jou lewensmaat, jou kinders, jou vriende, jou kollegas. Laat al die ou wrokke gaan – in jóú belang, nie vir dié wat jou te na gekom het nie. En as daar toksiese mense in jou nabyheid is wat nie rehabiliteerbaar is nie, wees dapper en sny hulle uit jou lewe uit.

Ons moet onsself doelgerig pantser. Moenie terugsit en toelaat dat dinge net met jou gebeur nie. As jy slagoffer speel, gaan jy een word.

As jy finansieel nie sterk is nie, dink mooi oor wat nie absoluut noodsaaklik is nie en raak sonder bitterheid daarvan ontslae sonder om die kwaliteit van jou lewe onnodig te verskraal.

Gee meer aandag aan jou gesondheid. Eet lekker, maar gesonder. ’n Daaglikse stappie met ’n geliefde en ’n hond, veral in die natuur, doen wondere vir jou geestestoestand en bloedsomloop.

Kweek jou eie groente en kruie. Druk jou vingers in die grond. Luister meer na musiek – en ontdek nuwe musiek; as jy nog nie ’n Spotify-rekening het nie, kry nou een.

Sosiale media is net goed om met vriende in kontak te bly, anders is dit gif. Bly weg. Lees meer boeke, ontdek nuwe skrywers. (Lees Vrye Weekblad se boekeblaaie hiervoor.)

O, en as jy nie ’n hond het nie, kry een, as dit enigsins moontlik is. Al gaan dit hoe rof met my, my honde laat my altyd glimlag. Dis die maklikste manier om liefde te gee en terug te kry, veral vir mense met ’n lae EK (emosionele kwosiënt), soos ek.

Om jou eie kokon veiliger en lekkerder te maak, moenie beteken jy onttrek jou aan die samelewing nie. Raak betrokke by jou gemeenskap; dit laat jou minder magteloos voel. Moenie ophou glo in mense nie.

Gaan lees gerus dié artikel oor die jong Nederlandse filosoof Rutger Bregman. Hy verwerp oortuigend die ou teorie dat mense inherent boos is en dat beskawing eintlik net ’n dun lagie fineer is wat by die geringste versteuring kraak. “In actuality,” skryf Bregman, “the opposite is true. It’s when crisis hits – when the bombs fall or the floodwaters rise – that we humans become our best selves.”

Verstaan dat die verslegting van die ekonomie en die ineenstorting van die dienste wat die staat moet lewer, mense meer prikkelbaar en onverdraagsaam laat word. Verstaan dit, en verstaan die verhoogde retoriek en raspolitiek van populiste ook só. Moenie jou melk weg skrik as jy na tonele van protes kyk nie.

Ons gaan nog lank met beurtkrag sukkel. Dit help regtig baie as jy die impak daarvan op jou lewe kan verminder. Vir so min as R4 000 kan jy ’n omsetter (inverter) en batterye aankoop wat jou wi-fi en TV-stel vier uur lank kan aanhou. Herlaaibare lanterns kos minder as R300 elk; kry sommer ’n paar om die donkerte te verdryf. As jy nie klaar ’n gasstoof het om jou water te kook of jou roereier gaar te maak nie, kry ’n gasplaat (R180) wat op ’n klein gasbottel vasskroef.

Koop ’n plastiektenk (R1 700 vir 1 000 liter, R5 600 vir 5 000 liter) en koppel dit aan jou geut om reënwater op te vang. Hopelik gaan jy dit nooit as huiswater nodig kry nie, maar dit bring vrede in jou gemoed as jy dit het.

Image: ANGELA TUCK

Bowenal, moenie hoop verloor nie. Hoop is ons laaste, beste vrind, sê A.G. Visser. Of soos die Engelse digter Alexander Pope in 1734 geskryf het: “Hope springs eternal in the human breast”.

Ons hier by Vrye Weekblad bied ons vriendskap en solidariteit aan. Ons is dalk skepties, maar ons is nie sinies nie. Ons is nie net ’n markplein vir idees nie, ons is ook ’n metgesel wat jou op die hoogte sal hou, vermaak en prikkel. Ons het beslis nie hoop verloor nie.

Sterkte en groetnis
Max


Woordeloos

Terwyl die waarheid klaarder skyn
sal die getye ons nerfkaal stroop,
afsigtelikheid kom reeds in sig.
Al wat ek vra
al wat ek hoop
is om, wanneer my brein te voos
word om met woordvernuf die pyn
en dorheid óm te dig,
dit te verdra
hoe ook al, woordeloos.

– Elisabeth Eybers

(Uit: Bestand)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.