Hoe oefen mens vir ’n antieke Romeinse hokgeveg?

MAANDAG MET MAX

Hoe oefen mens vir ’n antieke Romeinse hokgeveg?

Ons moet onderskei tussen die EFF-leiers en die mense wat EFF stem, skryf MAX DU PREEZ. En misdadigheid/wetteloosheid is ’n ewe belangrike probleem as armoede, werkloosheid en ongelykheid, sê hy ook. Soos gewoonlik is daar weer vandag sewe goed wat jy wil weet.

  • 14 Augustus 2023
  • Daagliks
  • 12 min om te lees

Goeiedag!

1. Die DA se steun in Gauteng is binne klipgooi-afstand van dié van die ANC, sê Helen Zille, voorsitter van die federale raad. Sy glo die ANC gaan nog in haar leeftyd verdwyn (sy is 72 jaar oud en lyk nog gesond). Die eintlike stryd gaan tussen die DA en die EFF wees: “Remember that red is hate and blue is a reconciliation of love; racism is red and non-racialism is blue. Economic growth is blue; breaking everything down and calling for the murder of people is red.”

2. Oudpres. Nelson Mandela se kleinseun en hoofman van Mvezo, Mandla Mandela, is ’n wrede diktator en sy onderdane haat hom, sê prins Azenathi, seun van die Xhosa-koning, aan City Press. Van die mense in sy klan dreig nou om die Mvezo Groot Plek af te brand en die hoofman het na sy oupa se opstal in Qunu gevlug.

3. Die oud-afrigter van die Springbokke, Nick Mallett, glo die eindstryd in die Rugbywêreldbeker gaan tussen Frankryk en Suid-Afrika wees. Hy skryf in sy nuwe boek, Insights into the Rugby World Cup, dat die kwarteindronde dalk só gaan lyk: Frankryk teen Ierland, Suid-Afrika teen Nieu Seeland, Australië teen Engeland en Argentinië teen Wallis. Sy voorspelling is dat die halfeindronde tussen Frankryk en Argentinië en tussen Suid-Afrika en Australië gaan wees

4. Eiendomspryse in Johannesburg vaar slegter as dié in alle ander Suid-Afrikaanse stede, sê eiendomsagente. Pryse in Kaapstad het in die eerste kwartaal van 2023 met 3,7% gestyg, maar met net 0,2% in Johannesburg. Veral die R3 miljoen plus-eiendomme sukkel om verkoop te word.

5. Die sterftesyfer in die dodelike brande op Maui-eiland in Hawaii trek al by 93, maar honderde mense word nog vermis. Die biljoenêr Oprah Winfrey, wat eiendom op die eiland het, het die naweek oorlewendes met kos en water gehelp en $100 miljoen aan die herstelaksie geskenk. Die derde rykste mens in die wêreld, Jeff Bezos van Amazon, besit ook eiendom in Maui.

6. Die heel rykste mens in die wêreld, Elon Musk (52), se geveg teen die sewende rykste mens, Mark Zuckerberg (39) van Meta/Facebook, gaan dalk in Rome plaasvind met ’n antieke Romeinse tema. Musk het in Junie getweet dat hy reg is vir ’n “cage fight” met Zuckerberg, wat onlangs ’n alternatief vir Musk se Twitter, Threads, geloods het. Zuckerberg se antwoord was: “Send me a location.” Volgens Musk het hy met die Italiaanse minister van toerisme oor ’n plek onderhandel. As die geveg plaasvind, sal die opbrengste aan liefdadigheid geskenk word. Die twee het die naweek glo Twitterboodskappe uitgeruil waarin Musk vra dat hulle vandag ’n oefengeveg hou, maar Zuckerberg het geantwoord dat Musk op sy eie moet oefen en nou moet besluit of die geveg wel gaan gebeur, “or we should move on”. Ja, hulle is 52 en 39, nie 15 en 10 jaar oud nie.

7. Zoom, die maatskappy wie se sagteware miljoene mense in staat gestel het om van die huis af te werk, het werknemers by sy hoofkantoor in San Jose opdrag gegee om minstens twee dae per week op kantoor te wees.


Daar is 'n waarskuwing oor sterk wind in die suide van die Vrystaat en dele van die Oos-Kaap en toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou. Die binneland is vandag meestal warm. Daar is vanoggend miskolle in die Noord- en die Wes-Kaap. Die Oos-Kaap is deels bewolk met buie wat verwag word. KwaZulu-Natal is baie warm en deels bewolk tot bewolk.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 26°C • Mahikeng 28°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 16°C • Durban 23°C • Kimberley 26°C • Bloemfontein 27°C • Polokwane 28°C • Upington 25°C • Gqeberha 17°C • Oos-Londen 19°C.


Max du Preez | Dis nie net driedubbele uitdagings nie, maar viér

Byna elke keer as ’n ANC-politikus sy of haar mond oopmaak, word die “triple challenges” van armoede, werkloosheid en ongelykheid genoem, en met reg.

Dit is hoog tyd dat ons almal van die “quadruple challenges” begin praat: misdadigheid/wetteloosheid is vandag ’n ewe belangrike probleem.

Die nuus het gister gebreek dat luitenant-kolonel Frans Mathipa, ’n spesialis-ondersoeker van die Valke, verlede week in ’n lokval gelei en doodgeskiet is.

Vrydagaand is ses mense in Umlazi in KZN in ’n massaskietery dood. As dit ’n gewone dag in Suid-Afrika was, is nóg minstens 76 mense Vrydag vermoor en is 120 verkragtingsake aangemeld.

Vyf mense is in verlede week se taxi-onluste in die groter Kaapstad dood. Miljoene is ontrief, die meeste kinders kon nie by die skool uitkom nie en die streek se ekonomie het ’n knou gekry – my plaaslike supermark se rakke was gister nog leeg.

Daar is nie kitsoplossings vir die vlaag van gewelddadigheid nie, ook nie vir die polisie se verstommende onbevoegdheid nie.

Maar wat wel onmiddellik kan gebeur, is dat die president en sy kabinet in alles wat hulle sê of doen, die oppergesag van die reg moet rugsteun en geweld en misdaad in ondubbelsinnige terme moet afkeur.

Nie soos die minister van vervoer, Sindisiwe Chikunga, verlede week gemaak het nie. Sy het blatant kant vir die taxibedryf gekies terwyl hulle staking tot grootskeepse geweld gelei het.

As sy dit nie gedoen het nie, was die staking en geweld dalk gouer verby. Van haar dreigemente teenoor die DA het daar niks gekom nie – die uiteindelike skikking lyk toe nie veel anders as die DA-burgemeester en premier se voorstelle vóórdat die staking begin het nie.

Image: ANGELA TUCK

Pres. Cyril Ramaphosa het self ’n swak voorbeeld gestel toe hy ’n vonniskwytskelding vir sekere gevangenes aangekondig het net mooi toe die vraag of Jacob Zuma terug tronk toe moet gaan, beantwoord moes word.

Zuma, wat al jare lank ’n bespotting van die strafregstelsel maak, is deur die hof gelas om hom by die tronk aan te meld omdat hy net twee maande van sy vonnis van 15 maande uitgedien het voordat hy onregmatiglik “mediese” parool gekry het. Hy het, en was 65 minute later in ’n konvooi van ses swart weeldemotors van die polisie op pad terug huis toe.

Ja, die tronke is oorbevolk. Ja, daar is ’n saak uit te maak dat die vonnisse van ouer en brose mense wat nie gewelddadig was nie, verkort moet word.

Maar dit is al maande en jare lank die geval. Niemand glo dat die nuwe kwytskelding niks met Zuma te make gehad het en dat hy bloot toevallig die eerste gevangene is wat daarby baat gevind het nie.

Die boodskap is duidelik: Almal is nie gelyk voor die reg nie.

Dit sou nie ideaal gewees het dat Zuma op 81 terug tronk toe moes gaan nie, maar dit moes anders hanteer gewees het.

Sy korrupsieverhoor wag op hom. As hy toegelaat gaan word om dit, of ’n tronkvonnis aan die einde daarvan, ook vry te spring, gaan die strafregstelsel ’n dodelike duik in geloofwaardigheid ervaar.


Moenie jou vir ’n rooi baret doodskrik nie

Is daar regtig amper 2 miljoen Julius Malema’s in Suid-Afrika? Nie soos ek my eie land bekyk nie.

Persoonlik dink ek Malema is ’n populis van die outoritêre soort, ’n roekelose demagoog en ’n narsis. Ek het goeie rede om te glo dat hy inherent korrup is.

Hy dryf ’n eng, etniese nasionalisme en druk by elke geleentheid sy mes in die ou wonde van ras en ongelykheid om dit bloederig te hou, in die hoop dat dit sal ontsteek.

Sy politieke modus operandi draai meestal om geweld, dreigemente van geweld en intimidasie.

(Een van die belangrikste artikels wat in die laaste tyd in Suid-Afrika verskyn het, is Piet Croucamp s’n in ons jongste uitgawe waarin hy die impak van Malema se retoriek op die swart gemeenskap ontleed. Dit is regtig ’n móét-lees.)

Die EFF sê hulle het meer as ’n miljoen ingeskrewe lede. Sowat 1,8 miljoen mense het in die laaste verkiesing vir die EFF gestem.

Sowat 100 000 mense het by die party se onlangse 10de verjaardagvieringe opgedaag. Malema het daar weer gewys dat hy ’n meester van teater en skouspel is: Die beeld van hom met gebalde vuis wat op ’n meganiese platform opgehys word, is klaar ikonies.

Dit is ’n veer in Malema en Kie se hoede dat hulle party in 10 jaar tot net meer as 10% steun kon groei. Ander partye wat van die ANC weggebreek het, soos die PAC, Cope en die UDM, bestaan eintlik nog net in naam.

Maar dit lyk asof die EFF nie deur dié plafon kan breek nie. Geen meningsopname die laaste jaar gee die EFF ’n kans om na meer as 15% te groei nie.

Onlangse navorsing deur prof. Collette Schulz-Herzenberg van die Universiteit Stellenbosch en prof. Robert Nyenhuis van die California State University wat in die Journal of Modern African Studies gepubliseer is, wys ook daarop dat die EFF se kiesersbasis baie vloeibaar is. Ongeveer die helfte van die kiesers wat in 2014 vir die EFF gestem het, het in 2019 vir die ANC of selfs die DA gestem. Daar was in 2019 wel nuwe EFF-kiesers, maar hulle kan dalk ook in 2024 wegdryf.

Ek sien kort-kort voorspellings van vreesbevange wit mense dat die EFF skielik gaan groei en ons dalk binnekort Malema as president gaan hê.

Die simplistiese redenasie is dat die EFF se aanbieding net te aanloklik vir swart kiesers is: wraak teenoor wittes, die nasionalisering van banke en nywerhede, die konfiskering van alle grond, gratis onderwys van graad 1 tot op universiteit en gratis mediese dienste in die beste hospitale.

Maar volgens die twee akademici glo min swart kiesers dié beloftes, en die meeste van hulle is in elk geval nie geesdriftig oor die EFF se ras-eksklusiwiteit nie.

“Compared with both the ANC and the DA, die EFF suffers from a major ‘trust gap’ in survey attitudes,” sê hulle.

Dit bevestig iets wat ek lankal vermoed en al herhaaldelik geskryf het: Kiesers dink nie die EFF gaan die land goed regeer of die ekonomie behoorlik bestuur nie.

Die ineenstorting van die ekonomie is nie ’n aanloklike idee vir die ontluikende swart middelklas, die werkers of die gefrustreerde swart jeug nie, en dit is die EFF se teikengehoor.

Hulle voel seker wel wrokkig oor die sigbare wit bevoorregting om hulle, maar hulle sal veel eerder in soortgelyke bevoorregting wil deel as om al die wittes se eiendom af te vat of hulle in die see te jaag.

Dit is waar Zanu-PF ons ’n groot guns gedoen het, hoe tragies die gevolge ook al vir Zimbabwe self was: Regstellende aksie is een ding, maar om op wit burgers jag te maak, benadeel swart mense en veral die minder gegoedes ewe veel of selfs meer.

Daar kan maar bitter min Suid-Afrikaners wees wat nie al self met ’n Zimbabwiese vlugteling hier in Suid-Afrika te make gehad het nie – daar is honderdduisende van hulle, dalk selfs meer as ’n miljoen. En dit moet seker by almal deurdring dat Suid-Afrikaners nie ’n buurland het om heen te hardloop vir werk en kos nie en net ’n klein handjievol bevoorregtes kan die vasteland verlaat.

Elke Suid-Afrikaner wat selfs net nou en dan na nuusbulletins kyk of luister of ander media gebruik, moes sekerlik al kennis geneem het van die miljoene mense van sukkelende state in Noord- en Wes-Afrika en lande soos Sirië en Afghanistan wat hulle eie lewe in gevaar stel deur na Europa te vlug. Tienduisende het al só gesterf, meestal op see.

Alle Suid-Afrikaners hoop op vrede en voorspoed; nie een wil ’n vlugteling word nie.

My eie diepe renons in alles wat EFF is, het ’n paar jaar gelede ná ’n persoonlike ervaring geskuif. ’n EFF-lid het my op Twitter ’n setlaar genoem wat terug Holland toe moet gaan, anders sal die EFF sorg dat ek en my gesin in ’n vlak graf beland. Dit was so ekstreem dat ek die ou gaan opsoek het, en gevind het dat hy ’n junior bestuurspos by ’n munisipaliteit beklee.

Hy was verstom toe ek hom bel en myself identifiseer; selfs meer toe ek vra hy moet my help verstaan hoekom hy soveel haat jeens my koester. Hy kon nie genoeg om verskoning vra nie, en het half tranerig vertel dat hy erge probleme in sy persoonlike lewe ervaar en dat dit tot probleme by die werk gelei het. Toe hy die dreigement getweet het, was hy kwaad en raadop. Hy het nie daaraan gedink dat ek dit sou lees en daarop reageer nie, hy het net op die lewe probeer skreeu.

Ek het hom geglo en sy verskoning aanvaar.

Ek wonder soms of die gedurige uitbeelding van die EFF as ’n boosaardige vyand van die mense hoegenaamd produktief is.

Image: ANGELA TUCK

Ek dink Malema, onderleier Floyd Shivambu, sekretaris-generaal Marshall Dlamini (al drie baie welgesteld) en ’n paar ander EFF-leiers is gevaarlike politici, maar dit maak nie al of die meeste van hulle lede gevaarlik of ’n bedreiging vir vrede en demokrasie nie.

Vredemakers op vervallende dorpe het al gevind dat die plaaslike EFF goeie vennote in die heropbou van gemeenskappe kan wees – Senekal is ’n voorbeeld.

Nes ek hoop dat die DA in Kaapstad en die Wes-Kaap nou na die taxibedryf gaan uitreik en goeie kommunikasie en gemeenskaplike grond gaan vind, so hoop ek politieke partye en burgerlike organisasies gaan ook na die EFF se ondersteuningsbasis en streekstrukture uitreik.

’n Rooi baret beteken nie noodwendig dat ek en die draer daarvan nie heelwat drome en vrese deel nie.

Gaan in vrede.

Max



Standing Dead

i’m at a party
(can you believe it?)
saturated w/
hyperpop
transxendance
a pretty girl
in a floral dress
asks me how
many books
i will have to write
to account for all the
US war crimes
HA i didn’t mean
ALL of them
I meant the
WAR ON TERROR
fragment
AFTER
the infrastructure
shudders
i wait for it to
take me home
the theatre of
war papered
everywhere
i say to my lover
it’s almost a fulltime
job to yearn
& crave
love OF COURSE
(unlike labor) a
dyke imperative

– Andrea Abi-Karam

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.