Wagner-grootbaas glo dood toe sy straler noord van Moskou ‘neerstort’

DONDERDAG MET MERCY

Wagner-grootbaas glo dood toe sy straler noord van Moskou ‘neerstort’

Yevgeny Prigozhin se lot is een van die dinge wat jy vandag wil weet. Plus: MERCY KANNEMEYER het dit oor die eksistensiële krisis wat deur 'n klein ou pilletjie veroorsaak kan word, en WILLEM KEMPEN hoop die moord op lt.kol. Frans Mathipa word beter hanteer as dié op Babita Deokaran.

  • 24 Augustus 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre!

1. Yevgeny Prigozhin, huursoldaat-grootbaas van die Wagner Group, is vermoedelik een van die 10 mense wat gisteraand dood is toe sy Embraer Legacy-straler naby die dorpie Kuzhenkino noord van Moskou neergestort het. Sommige nuusagentskappe het berig dat die vliegtuig neergeskiet is, ander dat die Russiese weermag verantwoordelik was. Nog ander het gesê Dmitry Utkin, ook 'n senior Wagner-amptenaar, was ook aan boord, en daar was selfs sprake van 'n tweede vliegtuig wat die eerste vergesel het en waarvan al die passasiers ongedeerd was. Dit was gister presies twee maande sedert Prigozhin sy soldate op 23 Junie in 'n opmars na Moskou gelei het uit verset teen Vladimir Putin se hantering van die oorlog in Oekraïne, 'n stap wat volgens die Russiese president tot 'n burgeroorlog kon gelei het.

2. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, sou gister 'n gesamentlike samewerkingsooreenkoms met agt Chinese entiteite onderteken as deel van die beloofde “wonderwerk" wat dié land glo vir Eskom en Suid-Afrika se elektrisiteitskrisis inhou.

3. Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het gister te velde getrek teen Reuben Brigety, Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika. Hy het gesê die party verstaan nie hoekom Brigety steeds in dié pos is nadat hy “gelieg het" oor wapens wat die Suid-Afrikaanse regering aan Rusland sou verskaf het nie.

4. Verbruikersprys-inflasie het in Julie gedaal tot 'n jaarlikse 4,7% vergeleke met die vorige maand se 5,4%. Dit is 'n laagtepunt oor die afgelope twee jaar en ook beter as wat die markte verwag het. Beter vooruitsigte vir inflasie kan beteken dat rentekoerse volgende maand onveranderd bly.

5. Gwede Mantashe meen Suid-Afrikaners is te passief in hulle pogings om aan armoede te ontsnap. “One of the things that we must change in South Africa is to change the passive nature of our society, where society thinks that it must be taken out of poverty instead of working with government in taking itself out of poverty. I can tell you, if you don't put your skin in the fire, you don't change the reality around yourself," het die minister van minerale en energie, wat ook nasionale voorsitter van die ANC is, ná 'n vergadering met pres. Lula da Silva van Brasilië gesê, het News24 berig.

6. Die Indiese ruimtetuig Chandrayaan-3 het gister veilig op die onverkende suidpool van die maan geland. Dit word beskou as 'n deurslaggewende oomblik vir Indië se status as ’n ruimtemoondheid, veral omdat dit gebeur het slegs enkele dae nadat ’n soortgelyke Russiese landingstuig op die maan neergestort het.

7. Ron DeSantis, goewerneur van Florida, sou na verwagting gisteraand (SA tyd) die grootste teiken van sy Republikeinse mededingers wees in die eerste groot debat in die stryd om die party se amptelike presidentskandidaat in volgende jaar se verkiesing te word. Die fokus het na DeSantis verskuif omdat Donald Trump, wat volgens meningspeilings 'n sterk voorsprong in die benoemingstryd het, verkies het om nie aan die debat by die Fiserv Forum in Milwaukee deel te neem nie. Pleks daarvan gaan Tucker Carlson se opgeneemde onderhoud met Trump uitgesaai word op dieselfde tyd wat die debat begin, met die potensiaal om baie kykers weg te lok.


Mis word vanoggend oor die Noord-, Oos- en Wes-Kaap verwag, asook KwaZulu-Natal, Limpopo en Mpumalanga. Dis ook vandag deels bewolk tot bewolk in dele van die meeste van hierdie provinsies. Die Oos-Kaap kan ligte reën verwag en KwaZulu-Natal buie.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 25°C • Mahikeng 30°C • Mbombela 23°C • Kaapstad 16°C • Durban 20°C • Kimberley 25°C • Bloemfontein 24°C • Polokwane 21°C • Upington 28°C • Gqeberha 17°C • Oos-Londen 18°C.


Willem Kempen | Nog ’n kans om beter te vaar as met Babita Deokaran

Die moord op Babita Deokaran twee jaar gelede het 'n simbool geword van hoe gewone Suid-Afrikaners die grootste slagoffers van korrupsie en misdaad is. Die skuldigbevinding en vonnisoplegging van ses van haar moordenaars kon dus 'n belangrike sein gestuur het dat die goeie ouens besig is om die stryd te wen; dat haar bereidheid om op te staan en uit te praat nie vergeefs was nie.

Kon gewees het, maar is nie. Daardie sein sal eers gestuur word as die ses voetsoldate se opdraggewers ook agter tralies is, en as ons weet wat daardie opdraggewers se bande met die korrupsienetwerk by die Tembisa-hospitaal is.

Dis heeltemal verstaanbaar dat Deokaran se familie weier om die kamtige apologie te aanvaar wat die ses mans as deel van hulle pleitooreenkoms met die staat aangebied het. Hoeveel betekenis kan 'n apologie hê as dit meer as enigiets anders die skuldiges se kans verbeter om 'n ligter vonnis te kry of gouer uit die tronk te kom? Hoe kan ons seker wees die ses het regtig alles wat hulle weet aan die staat en die ondersoekbeamptes vertel? Dat dit nie eintlik nogmaals deel is van 'n toesmeerdery om die grootkoppe te beskerm nie?

Dalk is dit nie nodig dat ons al die detail weet nie; dalk moet ons maar die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se goeie trou aanvaar en verstaan dat hierdie net 'n stap is op die pad na geregtigheid. En dat die NVG merkwaardige werk doen met die hulpbronne tot hulle beskikking.

Maar die NVG moet van hulle kant af ook verstaan dat die publiek met goeie reg wantrouig is oor presies waar misdadige sindikate se tentakels oral bykom, ook tot in die howe. En dat vir elke suksesverhaal daar 'n hele klomp is waar daar geen teken van vordering is nie.

Die jongste voorbeeld hiervan is die moord op 6 Augustus op lt.kol. Frans Mathipa, wat by die NVG se afdeling vir misdade teen die staat gewerk het. Daar is 'n baie sterk vermoede dat weermaglede wat op die punt was om deur Mathipa in hegtenis geneem te word, vir sy moord verantwoordelik was.

Gaan ons in Mathipa se geval weer twee jaar moet wag vir 'n leë oorwinning in die oorlog wat uit sy eie geledere teen die staat gevoer word?


Image: ANGELA TUCK

Oor pille en plannetjies en puisies

Vandeesweek het my dokter my op die Pil gesit. Ons het so drie maande gelede daaroor gepraat, maar ek het toe nie gevoel ek het dit nodig nie. As iemand wat nie ’n fan van pille is nie, was ek nie lus vir die idee van ’n pil vat elke liewe dag vir die res van my lewe nie.

In graad 6 was ek vreeslik siek. Ek kan nie onthou presies wat fout was nie, maar ek moes soggens twee pille drink. Die een oggend nadat mammie-goed nou die pap gemaak het, moes ek die pille vat. En ek was bang. My broer, my grootste cheerleader in die hele wye wêreld, sluk toe die twee pille: “Kyk, Merc, dis maklik. Jy sit dit net op jou tong, vat water, buig jou kop agteroor, en dan gly die pille af.” Hy het geweet dat as ek nie die twee pille vat nie, sou ek, soos wat my ma ook gewaarsku het, nie gesond raak nie.

Die twee pille het slymerig geword in my mond, want ek kon dit net geheel en al nie sluk nie. Ek is een van daai mense met ’n sterk gag reflex. Enigiets wat te naby aan my kleintongetjie beweeg, maak my naar. Hierdie rede, en dan die stigma wat met die Pil gepaardgaan, het my drie maande terug in my dokter se spreekkamer daarvan weerhou om ja te sê vir voorbehoed.

Ewe skaam vra ek toe nou dié week vir die dokter om maar die Pil voor te skryf, want my vel raak nie beter nie. Aanvanklik dag ek dis Johannesburg en sy kak droë weer. Maar die dokter meen dis hormonaal. En al wat gaan help, is die Pil. Ons, ek en my dokter, breek toe eers daar in haar spreekkamer die stigma wat met voorbehoed verband hou af. Dis mos net los meisies wat op die Pil is, so is ons grootgemaak. Vroeg-ryp-vroeg-vrot-vibes. Hoe kan ek, Mercy Kannemeyer, voorsitter van die VCSC, op die Pil wil gaan?!

Image: ANGELA TUCK

Dit was die allervreemdste gevoel om aan my dokter te erken dat ek op die Pil moet gaan. Alhoewel ek nou al ’n menigte van die mure van my konserwatiewe verlede kon afbreek, bly die Pil steeds ’n Jericho wat weier om te val. Toe ek ná die konsultasie by die apteek Pil in die hand wegstap, voel ek skielik so volwasse. So byna 30 jaar oud. Op pad huis toe was dit asof ek nóú verantwoordelikheid vir my liggaam gaan moet neem. Die realiteite dat ek heel moontlik mense kan baar, kom staan penorent in my gedagtes. Die blote gedagte dat ek verantwoordelikheid vir myself, en heel moontlik eendag ander, gaan moet neem, spook.

Bel my ouers die middag om te sê ek is op die Pil. My pa vra onmiddellik het ek dan plannetjies (lees seksplannetjies)? [Leser, verwys hier terug na my stuk in Vrye Weekblad oor maagdelikheid, asseblief.] My ma val hom in die rede, “Nee, dis vir die kind se puisies.” “O, ek wou nou net sê,” sak Deddie af.

Om kom van die bom – dit maak nie saak hoe eiewys, wys-wys, street smart, opgevoed, slim, “woke”, wakker, body and sex positive jy is nie, sommige kleintydstigmas vat langer om af te leer as ander. My vel kon maande gelede al beter gelyk het as ek net nie so skaam was om vir my dokter vir die Pil te vra nie. Maar die dobbelstene val maar soos hulle moet, nè? Ek skat dat ’n mens die lewenslesse nie juis kan aanjaag nie. Wat moet gebeur, sal gebeur. Wat jy moet ervaar, sal jy ervaar. Wanneer die tyd reg is.

Fok. Dat een klein pil nou ’n eksistensiële krisis van stapel kan stuur.


Pilgrimage

The arch of my foot aches.
Soon, we’re walking through nettles, a yellow paddock,               
fresh ginger packed between the gum
And tooth.
In excess, sugars become fat, a kind              
of sealant. Organs bleating
On the forest floor.
A first step.
Blue radiance, paper that receives ink, coffee with cream. By day 8,               
I can’t remember life
With my family.

– Bhanu Kapil

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.