Gee ons goeie nuus wanneer alles onoplosbaar lyk

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Gee ons goeie nuus wanneer alles onoplosbaar lyk

ANESCA SMITH skryf oor die ware koste van die oorlog in Palestina en sê sy wil weet daar is nog ander mooi dinge in die lewe – en dit beteken nié sy druk haar kop in die sand nie. DEBORAH STEINMAIR vertel weer meer oor die lekkerste stories in ons Vrye Tyd-afdeling en die Republiek van Boeke.

  • 18 November 2023
  • Daagliks
  • 4 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Ek sien die Pulitzer-bekroonde digter en essay-skrywer Anne Boyer het bedank as een van die redakteurs van The New York Times Magazine uit protes teen Israel se aanvalle op Gaza en die “toon” van haar (voormalige) werkgewer se beriggewing oor die oorlog.

In haar bedankingsbrief skryf Boyer onder meer: “I won’t write about poetry amid the ‘reasonable’ tones of those who aim to acclimatize us to this unreasonable suffering.”

Dis in teenstelling met die Palestynse filmmaker Mohamed Jabaly, wat die afgelope week ’n ander besluit neem. Jabaly se dokumentêr Life Is Beautiful het die afgelope week die prys vir beste regie by die International Documentary Film Festival Amsterdam (Idfa) gewen.

Vooraf kom die fees in opspraak nadat Palestynse aktiviste, onder wie Jabaly, tydens die openingsgeleentheid die verhoog betree het met ’n spandoek wat lui: “From the river to the sea, Palestina will be free.”

‘Ek het Life Is Beautiful gemaak in die hoop dat iedereen dit sou sien. Ook Israeli’s, om te toon dat ons Palestyne ook normale mense is.’

Ifda distansieer homself nadruklik van die teks en dit lei weer tot verontwaardiging by die Palestynse afvaardiging. Vervolgens onttrek 10 Palestynse filmmakers hulle aan die fees. Opmerklik genoeg doen Jabaly dit nie.

Hy verduidelik sy besluit só: “Ifda is ook my fees. Dit is die plek waar ek ander filmmakers van oor die hele wêreld ontmoet. Ook Palestyne. Sê nou ek onttrek my film, waar anders moet ek dit dan vertoon?

“Ek het Life Is Beautiful gemaak in die hoop dat iedereen dit sou sien. Ook Israeli’s, om te toon dat ons Palestyne ook normale mense is. Dat daar geen oorlog of wapens nodig is nie. Wat is die nut van wapens in elk geval? Uiteindelik sal niemand wen nie.”

En Hamas?

“Ek gee geen moer om oor Hamas nie. Die enigste ding wat ek wil hê, is die wete dat my familie veilig is. Nie net ons geboue nie, maar ook ons herinneringe word op die oomblik verwoes. Die strate en die buurte waarin ons opgegroei het.”

Ek verstaan Boyer as sy sê sy kan eenvoudig nie gedigte loop en skryf terwyl die wêreld aan die brand staan nie.

Terselfdertyd is dit juis wat nou nodig is. Om aan die een kant soos Jabaly te sê: “Kyk hier: Dit is die ware koste van die oorlog.” Of juis ’n herinnering en hoop dat daar nog ander mooi dinge in die lewe is behalwe oorlog. Wat nie per se beteken jy steek jou kop in die sand oor die oorlog nie.

Nuusmense is lief om te sê: “Goeie nuus verkoop nie.” Persoonlik het ek die afgelope maand juis troos geput uit goeie nuus. Dit het al die slegte nuus draaglik gemaak.

Soos dié van ’n skaap aan die ooskus van Skotland by Moray Firth wat onverklaarbaar genoeg aan die onderpunt van ’n rotswand beland het en nie haar weg self terug kon vind nie. Die media het haar “die eensaamste skaap ter wêreld” gedoop. Niemand weet presies hoe lank sy daar was nie, maar daar word geglo dit was minstens twee jaar.

Eers is daar nie veel gedoen om haar te probeer “red” nie, want die redenasie was dat sy genoeg te ete en drinke het en nie in gevaar is nie. Maar daarmee was diereliefhebbers nie gediend nie en ’n paar Skotse boere het uiteindelik tot haar redding gekom.

Dié soort stories maak geen snars verskil aan die oorlog in Palestina nie, maar dit bied verposing van die gevoel dat alles op die oomblik onoplosbaar lyk.

Mooi naweek
Anesca

(Ns. Anesca se skrywe het ons aan wyle Crocodile Harris se topliedjie, “Give Me the Good News”, laat dink.)



Nou ja, ons het heelwat tyd tot ons beskikking hierdie naweek omdat die Proteas soos papierblomme gevou het teen Australië. Geen eindstryd-Sondag vir ons nie, behalwe vir die bittereinders wat Indië se wedstryd teen Australië wil gadeslaan. Lees Louis de Villiers se storie waarin hy die Protea-spelers vir 'n dop wil skiet. Ek het ook ongeskik gelag vir Lin Sampson se storie oor wat presies posh is. Michèle Meyer skilder in haar heerlike Afrikaans 'n woordprentjie van Ruda Landman. En in Boeke kan jy heelwat Kerskous- en FOMO-lys-idees kry. Want Vrye Tyd en Boeke maak jou naweek blink.


VRYE TYD

Image: ANGELA TUCK

Laureen Rossouw vra die man wat nooit 'n laagvat mis nie, vas oor die spel en die lewe.

15 vrae vir Pieter-Steph du Toit


Image: ANGELA TUCK

Michèle Meyer het by Ruda Landman gaan kuier. 

Só rol Ruda op 70


Image: ANGELA TUCK

Lin Sampson vertel ons in onvertaalbare Engels wat posh is en wat nie.

How posh are you?


Image: ANGELA TUCK

Emilia Smuts verduidelik hoe heilsaam en organies platkos (roadkill) nou eintlik is.

Platkos-resepte vir ‘freegans’


Image: ANGELA TUCK

Lees Louis de Villiers se nabetragting van die Wêreldbekerkrieket-halfeindstryd.

Proteas, boys, kan ek vir julle ’n dop koop?


Image: ANGELA TUCK

Lees oor produkte en idees wat jou lewe lekkerder en makliker maak.

’n Chilli crisp ná jou ysbad


BOEKE

Image: ANGELA TUCK

Ek deel 'n handvol Kerskousidees wat boeke behels – my gunstelinggeskenk. 

Vroegtydige Kerskousvoorstelle


Image: ANGELA TUCK

Nathan Trantraal het 'n dubbeldoor-raaiselroman gelees.

Veelvuldige raaisels verweef


Image: ANGELA TUCK

Pieter van der Lugt se FOMO-leeslys jaag ons die skrik op die lyf.

My FOMO-leeslys haal my in


Image: ANGELA TUCK

Kerneels Breytenbach span weer sy leesnet wyd en bied ons lusmakers.

Bedorwe brok, liefde en ’n wrang glimlag


Image: ANGELA TUCK

Linza de Jager is nie 'n aanhanger van goedvoelboeke nie, maar sy is in die minderheid.

’n Goedvoel- en goeddoen-boek vir ’n honger leserskare

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.