Wilders se truuk werk, maar gematigde Nederlanders sal nie...

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Wilders se truuk werk, maar gematigde Nederlanders sal nie ekstremisme duld

Sy gaan haar nie van stryk laat bring of uitlok deur die verregse Geert Wilders se verkiesingsege deur haar kop vol doem-scenario’s te prop nie, sê ANESCA SMITH. Easy does it. DEBORAH STEINMAIR vertel meer oor die jongste Vrye Tyd en Boeke-stories.

  • 25 November 2023
  • Daagliks
  • 4 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Dagsê

Dié man is die Ernest Hemingway van Nederlandse politici. Dít is wat deur my kop flits toe ek Dinsdagaand sien hoe die verregse politikus Geert Wilders in die slotdebat voor die verkiesing sy politieke teenstanders heeltemal onder die tafel in praat.

Hemingway was bekend om sy ekonomiese gebruik van woorde. Sy prosa was eenvoudig, direk en onopgesmuk, maar ráák. Hulle sê hy het dit aangeleer gedurende sy kort loopbaan as voltydse joernalis by die Toronto Star in Kansas City.

Nietemin, dis is presies wat Wilders in die debat doen. Hy bly kalm, selfs minsaam – liewe hemel – en kommunikeer sy boodskap in kort, duidelike samevattings. Met die vorige verkiesing twee jaar gelede was hy nog in die laaste debat die ene haat en sinisme – kompleet met ’n gesis na sy linkse politieke teenstanders.

Die nuwe, onopgesmukte Wilders is natuurlik ook ’n truuk, maar dit werk. Die slotdebat speel gewoonlik ’n groot rol in die verkiesingsuitslag en sy party word Woensdagaand die grootste in Nederland. Selfs die linkse media is ’n bietjie in verwondering.

Image: ANGELA TUCK

Natuurlik sal ek nooit vir Wilders stem nie. Die stommiteite wat in sy verkiesingsprogram staan, is so vergesog dat dit byna lagwekkend sou wees as dit nie so haatlik was nie. ’n Paar hoogtepunte:

  • Geen Islamitiese skole, Qur’aans en moskeë moet in Nederland toegelaat word nie.
  • Hoofdoeke moet verbied word in openbare geboue.
  • Nederland moet uit die Europese Unie stap – ’n sogenaamde Nexit.
  • Geen militêre steun mag meer aan Oekraïne gebied word nie.
  • Geen asielsoekers mag meer binnegelaat word nie.
  • Zwarte Piet moet in Nederland bly.
  • Geen subsidies mag meer aan kuns en kultuur gegee word nie.

Maar ek laat my ook nie van stryk bring deur Wilders en sy program nie omdat ek vertroue het in die regstaat en die gematigdheid van die gewone Nederlander. Ja, ’n kwart van hulle het vir Wilders gestem, maar driekwart het nié. Veral nie jong mense wat die vurigste klimaataktiviste in Nederland is nie.

Boonop glo ek talle mense het nie noodwendig vir Wilders gestem omdat hulle sy verregse gedagtegoed koester nie, maar omdat hulle ’n beperking op migrante wil sien – weens onder meer die skaarste aan huise en ander hulpbronne – en ’n verlaging in lewenskoste. ’n Versugting wat Wilders net beter as sy teenstanders verwoord het. En mense, weet julle hoe klein is Nederland? Waar o waar moet honderdduisende mense – asielsoekers, gasarbeiders, internasionale studente – wat elke jaar bykom, gehuisves word?

En les bes, dit is hoogs onwaarskynlik dat Wilders van sy mees ekstreme standpunte ooit deurgevoer gaan kry sonder die ondersteuning van koalisievennote in die parlement wat reeds duidelik gemaak het dat hulle onder geen omstandighede daarvoor oop staan nie.

Ons leef in ’n wêreld – veral op sosiale media – wat jou gedurig verontwaardig wil hou. Permanente outrage. Soms soek ons selfs dié outrage op. Is verslaaf daaraan. Soos reeds aangedui, ek gaan my nie van stryk laat bring of uitlok deur Wilders se sege deur my kop vol doem-scenario’s te prop nie. Easy does it.

My man torring aan my. Sy ma wil weet wat ek vir my verjaarsdag op 18 Desember wil hê. Eintlik weet ek dit al: ’n jaar-toegangskaartjie vir museums in Nederland. Probeer gerus maar om die kuns-en-kultuursektor dood te laat bloei, Wilders. So maklik wen jy nie.

Groete
Anesca



Daar is min naweke oor in 2023. Van 15 Desember af is dit min of meer elke dag naweek. Die meeste van ons het dus meer vrye tyd as ooit, en tyd om ons in boeke te verdiep. Soos altyd hou ons jou op die hoogte van die jongste idees, produkte, glanspersoonlikhede, skrywers en boeke. In Vrye Tyd en Boeke is dit heeljaar Desember. 


VRYE TYD

Image: ANGELA TUCK

Ons Vrye Tyd-redakteur, Laureen Rossouw, het met die redakteur van Tuis | Home gesels.

Oos, wes, Tuis bes


Image: ANGELA TUCK

Die sportfilosoof Louis de Villiers is bekeer tot eendagkrieket.

Maar hel, was die eendagkrieket bak!


Image: ANGELA TUCK

Laureen Rossouw kry onverwagse, diepsinnige antwoorde op haar 20 vrae aan 'n bekroonde skrywer.

15 + 5 vrae vir Dominique Botha


Image: ANGELA TUCK

Aletta Lintvelt deel 'n papsnoekstorie en visrespte.

’n Groot vis-storie en twee resepte


Image: ANGELA TUCK

Kerneels Breytenbach reken retromusiek moet nogtans nuut klink.

Retromusiek prut in doodspot


Image: ANGELA TUCK

Goeters op ons radar wat jy nie wil misloop nie.

Black Friday is maar net die begin


BOEKE

Image: ANGELA TUCK

Ek probeer 'n alfabetiese lys saamstel van eietydse, lewende Afrikaanse skrywers. Dis 'n onbegonne taak. Gooi voorstelle!

Afrikaanse skrywers in die alfabet


Image: ANGELA TUCK

Gerda Taljaard leer ons 'n nuwe woord: pomomanie.

Appelmanie spook in Amerikaanse gotiek


Image: ANGELA TUCK

Nadine Petrick gesels met 'n Sala-wenner.

Holden Caulfield met ’n hart


Image: ANGELA TUCK

Joan Hambidge gooi 'n houtoog op komiekstrips, sensuur en die lewe.

Komiekstrips – twee kante van dieselfde munt?


Image: ANGELA TUCK

Kerneels Breytenbach lees so wyd soos immer en deel uitstekende wenke uit vir feestydleesstof.

Speurders, wetenskaplikes en ’n kok


Baie geluk, Anneliese!

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.