Klimaatkrisis is spannender as Wilders én Wonder Woman

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Klimaatkrisis is spannender as Wilders én Wonder Woman

In Indië is dit so moordend warm dat arende dood uit die lug val en diere dood in die strate lê, skryf ANESCA SMITH. Tóg scroll homo sapiens verby dié feite oor die klimaatkrisis en lees eerder oor die Kardashians.

Image: ANGELA TUCK

EINTLIK is dit ’n spanningsverhaal: Grootliks deur hulle eie hebsug bevind mense hulleself in ’n klimaatkrisis waaraan nouliks nog te ontsnap is. Gaan ons onsself red of nie?

Tog voel dit nie spannend nie. Hier in die ooste van Nederland, aan die grens met Duitsland en ver weg van die see, het ons byvoorbeeld net ’n vae begrip van die mag van water. En wat sou gebeur as die seespieël in die komende 80 tot 150 jaar met 2 tot 5 meter sou styg – ’n worst-case scenario wat deur navorsers voorspel word as ons CO2-uitset van kweekhuisgasse nie verminder nie.

Anneliese Burgess skryf gister in VWB oor die dreigende waterkrisis in Suid-Afrika. Klimaatsverandering gaan die waterprobleme net vererger.

Hier in die ooste – wat die “groen hart” van Nederland genoem word – is die natuur nog weelderig en oorvloedig en dis maklik om van aardverwarming te vergeet. Dit voel soos ’n probleem vir die toekoms. Maar ons hou onsself natuurlik vir die gek.

Aan die vooraand van die VN-klimaatskonferensie in Dubai hierdie week lees ek in ’n Nederlandse koerant dat die klimaatsdoelwitte waaroor die internasionale gemeenskap in 2015 in Parys ooreengekom het  – om aardverwarming tot 1,5º te beperk – nou nog slegs moontlik is as ons “in die rooi gaan”. Dit wil sê as daar hoegenaamd nie meer CO2-uitsette is nie – sterker gestel, as ons dit juis uit die Aarde se dampkring haal.

Maar dis 'n moeilike verhaal om te lees en maklik om verby te scroll: vol grafieke, statistieke en abstrakte taal. Geen “sexy” storie soos my nuusredakteurs altyd gesê het nie. Dit is veel lekkerder om oor die onlangse verkiesing te lees. Gaan Geert Wilders nou die nuwe premier van Nederland word of nie?

Die einste Wilders vir wie 'n kwart van die land se mense verlede week gestem het. Die man wat geen saak met skoon energie het nie en wat klimaatsubsidies wil stop en die klimaatfonds wil skrap.

Ek het geen kinders nie en soms voel dit of ek geen “skin in the game” het nie, maar ek wonder in watter mate mense met kinders en kleinkinders hulle daaroor bekommer. Peilings wys dis jong mense wat in groot getalle links in Nederland stem, dus nie vir Wilders nie.

In sy onthutsende artikel “The Age of Extinction is Here – Some of Us Just Don’t Know it Yet” skryf Umair Haque dat ons reeds die drempel van enige kans op oorlewing betree het. Hoe vriende vertel dat dit in Indië nou so warm is dat selfs arende dood uit die lug val.

“Die strate, sê hulle, is vol dooie goed. Honde. Katte. Koeie. Diere van alle soorte lê net daar. Dood. Hulle het vergaan in die moordende hitte.

“My Westerse vriende lees stories soos hierdie en sit dan hulle obsessies oor die Kardashians of Wonder Woman of Johnny Depp voort. Hulle verstaan nog steeds nie. Want dít is verby die grense van homo sapiens se begripsvermoë. Die idee dat daardie wêreld ook op hulle wag.”

Vergewe my dat ek Haque al voorheen aangehaal het, maar dit voel soos een storie wat die moeite werd is om te bly herhaal.

Mooi naweek
Anesca



Desember is hier – die maand waarin Vrye Tyd en Boeke hoogty vier, want politiek, sake en ander vername onderwerpe word vir eers opsy geskuif. Dis die seisoen vir onthaal, kuier, speel en lees. Ons laaste twee afdelings is propvol idees vir jou feestyd. 


VRYE TYD

Image: ANGELA TUCK

Volgens Jan Wolmarans is die hel vol mense wat gits, gots, griet, jissie en jikkels sê.

In die hel sing Boney M krismisliedjies in formele Afrikaans


Image: ANGELA TUCK

Laureen Rossouw ondervra Kobus van der Merwe van die Wolfgat-restaurant.

15 vrae vir Kobus van der Merwe


Image: ANGELA TUCK

Louis de Villiers gooi 'n oog oor Amerikaanse voetbal.

Verdediging is die nuwe aanval


Image: ANGELA TUCK

Emilia Smuts vertel hoe berei jy lamsribbetjies op hulle lekkerste.

Die Klein-Karoo se losbandige lammers


Image: ANGELA TUCK

Snuffel deur goeters op ons radar wat jy nie wil misloop nie.

Van bonsais tot supersampioene




BOEKE

Image: ANGELA TUCK

Ek stel kleurvolle kinderboeke vir die Kerskous voor.

’n Kleurwiel van kinderboeke


Image: ANGELA TUCK

Louis Gaigher vertel ons van Zadie Smith se jongste boek, 'n historiese roman met tande.

Fraud en maniere van vry wees


Image: ANGELA TUCK

Kerneels Breytenbach het 'n Booker-pryswenner, twee memoires en 'n kookboek verslind.

Totalitarisme, memoires en kook


Image: ANGELA TUCK

Linza de Jager het naels gekou oor 'n swanger reeksmoordenaar.

Swanger, sweterige supervrou


Image: ANGELA TUCK

Hester von Wielligh skryf 'n aktuele, roerende gedig.

Die twistende seuns van Abraham


Image: ANGELA TUCK

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.