Tel jou seëninge, Suid-Afrika

MAANDAG MET MAX

Tel jou seëninge, Suid-Afrika

MAX DU PREEZ skryf oor sy dankbaarheid oor ons vreedsame oorgang na demokrasie terwyl 'n volksmoord in Rwanda gewoed het. Ons kyk ook na sewe dinge wat jy wil weet, veral oor vandag se weer in die Kaap.

  • 08 April 2024
  • Daagliks
  • 5 min om te lees

Goeiedag!

1. Die moeder van alle storms het die Kaap getref met ongekende stormsterkte-winde. Onder meer die historiese opstal by Blaauwklippen het afgebrand. Ontwrigtende reënval word môre in groot dele van die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Tuinroete en Overberg verwag. 'n Oranje vlak-waarskuwing is van krag oor “ontwrigtende reënval" in die Overberg en Kaapse wynlande.

2. Rapport berig dat die leier van die PA-party, Gayton Mackenzie, in 'n uurlange stemopname spog oor hoe hy DA-lede afrokkel met beloftes van hoë poste, sakegeleenthede, geldwaarborge en selfs siekefondspaaiemente.

3. Nog groot name in die ANC kan hulle plekke op dié party se verkiesingslys verloor. Die Sunday Times berig dat Zizi Kodwa, Malusi Gigaba, David Mahlobo en Cedric Frolick moontlik van die party se kandidatelys verwyder kan word.

4. Die voormalige speaker van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, beoog om vandag haar paspoort by die Lyttelton-polisiestasie in te handig as deel van haar borg-ooreenkoms. Sy sal dan ook uitvind wie uit haar binnekring teen haar gaan getuig, omdat sy sal moet instem om nie met hulle kontak te hê nie.

5. Israel gaan van sy troepe uit Khan Yunis in suidelike Gaza gaan onttrek omdat hulle sending daar voltooi is, het militêre amptenare gister gesê. Eerste minister Benjamin Netanyahu sê Israel is nou “een stap weg van oorwinning" in sy oorlog teen Hamas in Gaza. Daar is nou hernude pogings om oor 'n skietstilstand te onderhandel met Egipte as die tussenganger.

6. Senegal het 'n nuwe regering met 25 ministers en vyf junior ministers, sê die nuwe eerste minister, Ousmane Sonko, na sy wegholoorwinning in die onlangse verkiesing.  

7. Die Oekraïense President, Volodymyr Zelensky, het in 'n televisie- onderhoud wat Saterdag uitgesaai is, gesê hy hoop dat hy en die Switserse President, Viola Amherd, binne dae 'n datum sal kan vasstel vir 'n vredesberaad in Switserland waaraan tussen 80 tot 100 lande gaan deelneem.


Daar is 'n waarskuwing oor swaar reën wat tot vloede kan lei oor dele van die Wes-, Oos en Nood-Kaap asook Noordwes en Vrystaat. Die res van die land is vandag meestal bewolk met moontlike buie en donderbuie.

Kliek hier vir meer inligting.

Maksimum temperature: Pretoria 19°C • Johannesburg 17°C • Mahikeng 19°C • Mbombela 19°C • Kaapstad 18°C • Durban 26°C • Kimberley 23°C • Bloemfontein 20°C • Polokwane 20°C • Upington 22°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 22°C.


Ali van Wyk | Cyril roep die boere in

RW JOHNSON, die politieke kommentator wat deur radikale linkses gehaat word (en ja, sy gemymer is soms so polities onsensitief dit laat jou ineenkrimp), klink deesdae verbasend positief oor Suid-Afrika.

Min het dit sien kom, want Johnson se voorspellings oor hoe ver die land die moeilikheid in sou vaar, was ’n dekade gelede op 'n apokaliptiese vlak in ’n boek soos South Africa’s Brave New World. Ook toe is sy opinies verguis. Maar byna als het waar geword.

Deesdae sê hy die einde van die ANC, selfs as dit net die begin van die einde is, móét as goeie nuus gesien word, al weet ons nie waarmee die ANC vervang gaan word nie. Selfs al staar ons ’n onbepaalde tydperk van onstabiliteit in die gesig.

Hy reken ons kan seker daarvan wees die regering sal gaandeweg stukkie vir stukkie van die land se infrastruktuur, regeringsdienste en staatsmaatskappye privatiseer en verkoop, omdat hulle nie ’n keuse sal hê onder die geweldige druk om die ekonomie aan die gang te hou nie. Trouens, die proses het so stilweg al ’n hele ent met die pad af gevorder.

As indrukwekkend suksesvolle uitvoerbedrywe en werkgewers soos die sagtevrugte- en die sitrusbedrywe nie hulle vrugte by die hawens en deur die hawens kan kry nie, sal stukke spoorlyn en dele van die hawens, en selfs paaie, op die een of ander manier aan maatskappye oorhandig word om te bestuur.

Selfs al het Gwede Mantashe soos ’n neet probeer vasklou aan ’n steenkool-aangedrewe kragnetwerk, moes president Cyril Ramaphosa uiteindelik self toesien dat die bodproses vir hernubare energiebronne heropen word. Daar is baie voorbeelde.

Dit is bykans ondenkbaar dat die grootste Sondagkoerant in Suid-Afrika, die Sunday Times, net tien jaar gelede ’n voorbladstorie sou publiseer wat die adjunkpresident, Paul Mashatile, aanhaal dat die regering bekende konserwatiewe en hoofsaaklik wit organisasies soos Solidariteit en Afriforum, ander burgerregte-organisasies, en boere oor die algemeen, gaan vra om honderde verwaarloosde en gekrokte watersuiweringsaanlegte te help regmaak.

Ja, dit kan net verkiesingspraatjies wees, en dis nie ’n amptelike aankondiging nie. Ons weet ook hy sal eers die idee verby die ideologies-verstokte en beheersugtige sikofante in sy party moet kry, maar dit is nie ’n voorstel wat van Afriforum of die boere se kant af kom nie. Dis leiers in die nasionale regering wat onder baie groot druk is wat uitreik na mense wat nie vir hulle gestem het nie. Dit is mense wat besef dat ’n volskaalse waterkrisis oneindig meer moeilikheid kan veroorsaak as 'n elektrisiteitskrisis.

Dit moet as ’n positiewe stap gesien word.



Tel jou seëninge, Suid-Afrika, tel hulle een vir een 

Terwyl ons hier in Suid-Afrika dié maand die dertigste herdenking van ons demokrasie vier, dink die mense van Rwanda terug aan die verskriklike volksmoord wat op 6 April 1994 begin het, net voor ons verkiesing gehou het.

Die burgeroorlog tussen die noorde en die suide van Jemen het ook in April 1994 begin. En die vrede daar is steeds nie herstel nie.

Ook die mense van Bosnië-Hercegovina onthou vandag die bloedige burgeroorlog wat in 1994 steeds gewoed het. Meer as 100 000 mense is in dié oorlog dood.

Lees die volle brief hier.


Waar twee of drie in my naam vergader

haar ma hang rosekranse bo haar bed
maak haar heilige water drink
wat Rooms-Katolieke nonne op gebid het

vra haar sy moet weer begin bid
sê haar gebede het hulle huis gedra
hulle huis was mooier
toe sy nog gebid het

sy rook rustig haar gwaai
blaas die rook uit, sê

Ma, god en battered woman syndrome
is ewe min genadig

– Lynthia Julius

Uit: Kinderlê

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.