Kom ons vat die Afrikaner-hand, probleme en al

MAANDAG MET MAX

Kom ons vat die Afrikaner-hand, probleme en al

MAX DU PREEZ skryf oor die verklaring wat Afrikaner-organisasies en -leiers gister uitgereik het. ALI VAN WYK meen Sanparke moet werk maak van klagtes oor geriewe wat agteruitgaan, en daar is soos gewoonlik sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 22 April 2024
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiedag!

1. China het 'n noodplan in werking gestel om meer as 127 miljoen mense in die Guangdong-provinsie te beskerm teen dreigende massiewe oorstromings en vloede weens aanhoudende swaar reën en stormweer. Skoolgaan is van vandag af opgeskort in sowat 1 103 skole in Zhaoqing, Shaoguan en Qingyuan, en wydverspreide kragonderbrekings kom voor, het die Chinese staatsradio gesê.

2. Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers het danksy ondersteuning van albei die groot partye 'n wetsontwerp goedgekeur vir “sekuriteitsbystand" van $95 biljoen aan hoofsaaklik Oekraïne, Israel en Taiwan. Die wetgewing moet nou ook deur die Demokraties-beheerde Senaat aanvaar word voordat dit deur pres. Joe Biden bekragtig kan word.

3. Die Huis het ook met 360 teenoor net 58 stemme wetgewing goedgekeur wat TikTok in die VSA sal verbied as die Chinese maatskappy ByteDance nie binne 'n jaar van sy belang in die gewilde platform ontslae raak nie. TikTok het gister in reaksie gesê: “It is unfortunate that the House of Representatives is using the cover of important foreign and humanitarian assistance to once again jam through a ban bill that would trample the free speech rights of 170 million Americans."

4. 'n Boeing 737 van FlySafair wat na Kaapstad sou vlieg, moes gister na die OR Tambo-lughawe terugkeer toe grondbemanning skade aan 'n wiel gesien het nadat dit opgestyg het. Die vlieëniers moes eers genoeg brandstof verbrand om 'n veiliger noodlanding moontlik te maak, maar kon ten spyte van die skade later veilig land, het News24 berig.

5. Kaizer Chiefs se miserabele seisoen het gistermiddag in Durban se King Zwelithini Stadium 'n nuwe laagtepunt bereik toe hulle met 0-1 teen Richardsbaai verloor het in die DStv Premiership-reeks. Die Amakhosi kon sedert die begin van die jaar nog net een wedstryd wen.

6. Donald Trump het in Maart $4,9 miljoen aan regskoste bestee, en het nou net $6,8 miljoen oor in die bankrekeninge wat hy gebruik om die prokureurs in sy onderskeie hofsake te betaal, berig Bloomberg. 'n Kontantvloeikrisis dreig glo as Trump nie dringend skenkings ontvang nie.

7. Die Finse besigheid Kaffa Roastery het kunsmatige intelligensie ingespan om 'n nuwe vermenging van koffiebone te ontwikkel wat hulle “AI-conic” noem. Die dominante van die vier variëteite wat daarin vermeng word, is die Brasiliaanse Fazenda Pinhal, berig AP.


Daar is 'n waarskuwing oor toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou vir dele van Vrystaat, Noordwes, KwaZulu-Natal en die Noord- en Oos-Kaap. Dit word ook baie warm in dele van die binneland terwyl buie en donderbuie in die Oos- en Wes-Kaap asook in KwaZulu-Natal verwag word.

Kliek hier vir meer inligting.

Maksimum temperature: Pretoria 32°C • Johannesburg 31°C • Mahikeng 32°C • Mbombela 31°C • Kaapstad 20°C • Durban 27°C • Kimberley 31°C • Bloemfontein 30°C • Polokwane 30°C • Upington 33°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 24°C.


Ali van Wyk | Sanparke móét kan werk

Die Sunday Times berig oor ’n afgetrede Britse paartjie, Ralph en Angela Spilsbury, se rampspoedige ervaring tydens ’n pas afgelope besoek aan die Krugerwildtuin. Die Spilsburies kampeer gereeld die afgelope 25 jaar al in die wildtuin, maar tydens ’n onlangse besoek het hulle eerder in ’n rondawel in Onder-Sabie tuisgegaan. Die rondawel was ongelukkig haas onleefbaar as gevolg van vlermuis-urine en -mis oral, van die dak-oorhange af, die stoep en opwasgeriewe, tot die stort en wasbak in die badkamer en die gordyne, linne en kussings.

’n Mens kry die gevoel die Spilsburies is nie hovaardige en selfgeregtigde Britse klakouse nie, maar doodgewone middelklasmense wat met nederige dog skoon en netjiese akkommodasie tevrede sou wees. Die volgende oggend het hulle die probleem vergeefs by die toerismebestuurder in die kamp probeer aanmeld – dié was nie op diens nie.

Toe hulle merk dat verskeie sosiale media-groepe en forums ’n geruime tyd reeds besaai was met klagtes oor die vlermuisprobleem in die oewer-rondawels in Onder-Sabie, het hulle ’n formele klagte na die toerismebestuurder gestuur, met geen reaksie nie. Daarna het hulle deur elke moontlik kanaal aansoek gedoen om ’n terugbetaling, puur verniet. Slegs nadat ’n joernalis die probleem op hoë vlak onder Sanparke se aandag gebring het, is ’n verskoning aangebied en is R2 089,05 aan hulle terugbetaal.

Hoewel nie so dramaties nie, het ek en my gesin ’n soortgelyke ervaring in Junie 2022 gehad. Na ’n kort vakansie in Hazyview het ons besluit ons kan nie die Wildtuin mis voor ons huis toe gaan nie, en ons het een nag bespreek in Biyamiti, tussen Krokodilbrug en Berg-en-Dal, ’n afgesonderde kampie met net 15 gesinshuisies.

Ons het eers teen middagete by Skukuza aangekom, en was verbaas oor die afgeleefdheid van die kamp. Die winkel en restaurant se grasdakke was in ’n vervalle toestand, die tuine  verwaarloos en die uitkykdek voor die restaurant oor die Sabierivier (sekerlik die bekendste toneel in die Wildtuin), is afgesper met wit en rooi plastieklinte as gevolg van strukturele probleme, en daar was duidelik geen herstelwerk aan die gang nie.

Ons huisie in Biyamiti was selfs in ’n treuriger toestand. Kasdeure was gebreek, vensterknippe was weg, die kombuisgereedskap was onvolledig en verwaarloos, mufkolle het teen die plafonne uitgeslaan, en so aan. Ons het die Wildtuin redelik swaarmoedig verlaat.

Ek het myself al dikwels gevra of my verknogtheid aan die Wildtuin en Sanparke se ander wonderlike natuurreservate eintlik ’n bevoorregte middelklas-verwenning is. Die hele nasionale bewaringsstruktuur is tog deel van ’n problematiese erflating. Noem dit maar white guilt, as jy wil. Ek omarm vir dekades al transformasie in Suid-Afrika. Ek aanvaar blymoedig dat dinge wat soms nie so maklik soos in die verlede vir my is nie, gebeur omdat hulpbronne deur baie meer mense gedeel moet word as toe. Maar ek aanvaar nie die dinge wat vir almal moeiliker raak as gevolg van korrupsie nie.

Die geskiedenis van die Wildtuin se ontstaan en die manier hoe mense van die grond verwyder is, is natuurlik kompleks en net nog ’n klein vertakking van die tentakels van kolonialisme. Ek het egter ook, ’n dekade gelede, ’n paar gesprekke met uitvoerende bestuurders in Sanparke gevoer, wat my verseker het dat dit onder ’n uitsonderlike regeringsdepartement resorteer het, een wat getransformeer en voortreflik was.

Terwyl Zimbabwe, Botswana en Namibië se bewaringsowerhede uitverkoop het aan oorsese besoekers se euros en dollars (wanneer laas moes jy vir ’n nag in Etosha of Mana-Poele betaal?) was Sanparke se filosofie dat hulle rentmeesters was van die diere, plante en grond, en die reservate het bekostigbaar en toeganklik vir mense gebly.

Seer sekerlik moet daar ’n manier wees om ’n werkbare vennootskap tussen bewaring en toerisme te integreer by ’n nuwe Afrika-samelewing? Mens sou verwag dat jy nou reeds meer township- kinders as middelklas woonwa-kampeerders en oorsese besoekers in die Wildtuin sal sien. Dit blyk nie die geval te wees nie, en dit lyk nie of dit gaan verander nie. Dit maak my hartseer.



Die ‘Afrikaner Verklaring’ – vát daai hand

Dertig jaar gelede, in die weke en maande voor ons bevrydingsverkiesing, het regse en konserwatiewe Afrikaners die geboorte van 'n demokrasie in 'n eenheidstaat met geweld probeer stuit.

Mense het in regse bomaanvalle gesterf en die gewese weermaghoof, genl. Constand Viljoen, het soldate en oud-soldate nasionaal gemobiliseer. Tot en met die verkiesing was daar wye vrese dat 'n terreurveldtog, selfs 'n burgeroorlog in die kleine, op ons gewag het.

Dié naweek, drie dekades later, het 'n “leiersnetwerk” van Afrikaners, meestal uit die dampkring van dieselfde mense wat 'n demokratiese bestel gevrees het waar die meerderheid regeer, 'n verklaring uitgereik waarin die hand van samewerking en vriendskap na die res van die nasie uitgereik word.

Lees die volle brief hier.


16 Desember 2009

op pad see toe
het mdantsane se pondokke
soos alles tevore ongesiens
verby die vensters
van ons double-cab geskiet

sus was karsiek en ooms op rsg
het oor geloftedag gestry

iewers was ’n ongeluk daar voor
’n taxi omgekeer op die teer
ons moes wag

iemand het langs die pad gelê
’n navy kombers om haar lyf
haar arms oop asof sy die gras
en die grond ten laaste terugeis

sus het bleek
en opgekrul
op die agterbank gelê
sy wou weet of ons al
die see kon sien

– Pieter Odendaal

Uit: Versindaba

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.