’n PROJEK wat my lankal fassineer, is die wêreld se langste aaneenlopende ondersoek oor wat mense gelukkig maak – die Harvard Study of Adult Development. Dit het in 1938 begin om jaarliks die fisieke en emosionele welstand van 724 jong mans te bestudeer, en dit gaan steeds voort.
Robert Waldinger is slegs die vierde studieleier van die projek – jy kan sy baie gewilde TED Talk oor die projek op YouTube kyk, of sy boek The Good Life lees. Dit sê vir jou presies wat mens kan doen om ’n gelukkige lewe te lei.
Die vorige studieleier, George E. Vaillant, het ook boeke oor die projek geskryf, onder meer Triumphs of Experience, in 2012. Wat in my kop bly vassteek het, is die bevinding dat mans wat teen 50 ’n gesonde lewenstyl aangekweek het ’n goeie kans het om gelukkig ouer te raak en goeie verhoudings te handhaaf.
Maar die kans op ’n gelukkige oudag vir ouens wat teen 50 steeds wild leef, oorgewig is en daagliks rook en drink, is véél skraler. Ek het die boek op 42 gelees en my plegtig voorgeneem om teen 50 ’n fikse Zen Adonis te wees. Wel, dit het nie gebeur nie, maar dit het tog ’n invloed gehad daarop dat ek stadig maar seker meer gesondheidsbewus geword het.
Ek is 51 en die afgelope sewe maande stap ek soggens rondom sonop ’n flink 4,5 km in ’n laaste desperate poging om my lewenstrajek op die regte kurwe te kry. Ek wens al vir dekades dat ek kan verslaaf raak aan oefening en die endorfiene wat dit vrystel. Maar vergeefs.
Ek raak wel kriewelrig as ek ’n oggend mis, maar dis nie oor min endorfiene nie, dis omdat die stappery ’n soort daaglikse teenwig geword het vir die chaotiese toestand van die wêreld. Suid-Afrika, veral, is in ’n ongemakliker posisie as in 25 jaar, en die stroom van daaglikse emosionele reaksies op sosiale media maal deur my brein as ek soggens in die donker van my huis af wikkel en die Tielman Marais-park binnestap.
‘Alles gaan vir die honde’
My eggo-kamer op veral Facebook bestaan meestal uit liberale, wit middelklas-kollegas, vriende en kennisse, so tussen 35 en 60 jaar oud. Oor die algemeen is die jonger mense, die generasie wat raak aan die millenniërs, versigtiger oor hulle uitsprake oor Eskom, De Ruyter, Russiese oorlogskepe en dinge wat Amerikaanse diplomate kwytraak.
Maar tussen die ouer wit liberale is daar ál meer ’n geneigdheid om apokaliptiese uitsprake te maak. Frases soos “totale ineenstorting”, “alles gaan vir die honde” en “mislukte staat” kom daagliks vele male oor my rekenaar se skerm.
Laat ek dit duidelik stel: Ek het simpatie met mense wat angstig voel oor wat in Suid-Afrika aan die gang is. As jy in ’n land woon waar die kragnetwerk wankel, waar moordbendes daagliks op konstruksiepersele mense intimideer en vermoor, waar 73 mense daagliks vermoor word, waar die waterverskaffing in vele dorpe en nou selfs stede opdroog, en waar die infrastruktuur van ’n goeie spoornetwerk eenvoudig van die grond af gesteel word, dan moet jy bekommerd wees.
Ek probeer my egter indink wat dit beteken as “alles ineenstort”. Hoe lyk Johannesburg byvoorbeeld as dit ineenstort? Soos watter ander stad sou dit lyk? Mens kan kies op ’n glyskaal. Die ergste sou wees Nagasaki ’n uur ná die bom, ’n bietjie minder erg is Mogadishu soos dit nou lyk, en dan Lagos, en ’n bietjie beter is Lusaka, nog beter Kigali, en dan Buenos Aires.
Totale ineenstorting is Nagasaki ’n uur ná die bom. Johannesburg is nie eers naby aan Mogadishu nie, wat ’n groot puinhoop is. Ook nie heeltemal Lagos nie, hoewel dit op sy trajek tans binnekort soos Lagos kan lyk.
Ek probeer gereeld kommentators lees wat uit ’n ander hoek as my kennisse daarna kyk, soos prof. Steven Friedman. Hy’s ’n oudvakbondman en ’n sosialis. Hy ken Suid-Afrika se politieke geskiedenis oor die afgelope 40 jaar beter as die meeste mense.
Hy reken die praatjies oor Suid-Afrika as ’n “failed state” is bog. Trouens, hy sê die term “failed state” is ’n konsep wat deur die Amerikaners uitgedink is, ná September 2001, as deel van Amerika se “war on terror” om te verwys na state in Afrika en Asië wat nie sterk genoeg was om op te staan teen anti-Westerse terrorisme nie.
Hy reken alle state misluk in een of ander stadium op verskeie terreine, selfs die Verenigde State, wat nie sy burgers kan beskerm teen die volgende massaskietery nie, en ook die Verenigde Koninkryk, wat op verskeie vlakke misluk het met die hantering van die koronavirus.
Suid-Afrika het groot staatsmislukkings op verskeie terreine, maar ons is steeds ’n demokrasie met geregshowe wat funksioneer.
In watter mate dinge in Suid-Afrika “ineenstort” het beslis met elke mens se perspektief te doen. Vir baie mense is enige verlies aan lewenstandaard amper dieselfde as ’n verlies aan lewe. As mense voorregte moet opgee, skop hulle oorlewingsinstink in.
As jou inkomste minder word, en jy moet een van jou voertuie opgee, jy moet dalk in ’n kleiner huis gaan bly, en jy moet by Shoprite gaan inkopies doen in plaas van Woolworths, is dit ’n pynlike ervaring. Ek sê dit nie met behae nie, ek het simpatie daarmee. Wanneer mense hulle lewe lank hard gewerk het om ’n sekere standaard te bereik, en hulle verloor ’n deel van daardie standaard, is dit pynlik.
Die duiweboere!
Hierdie soort gedagtes, aangepor deur die vorige dag se stemme op sosiale media, maal deur my kop as ek soggens flink in die pad af stap langs die Hoërskool D.F. Malan in Bellville. Wanneer ek deur die parkeerterrein langs Frans Conradie-rylaan stap, met die son wat net-net ’n rooi skemer gooi oor die winkels langs Durbanweg, dan sien ek sommige oggende ’n ritueel afspeel. ’n Wit Tata-bakkie met ’n sleepwa wat spesiaal omgebou is om sowat 100 enerse bokse te kan laai, staan omring deur ’n klompie mans wat skerts en lag in ’n wolk tabakrook.
Die ouens kom met afgeleefde klein halftonner-bakkies uit die Kaapse vlakte, of met Mercedesse uit Welgemoed, om wedvlugduiwe in bokse op die bakkie te laai. Die bakkie ry dan ’n ent en laat die duiwe vry om terug te vlieg na hulle onderskeie hokke toe. Dis nou die begin van die seisoen, so hulle ry maar net Paarl toe, want die jong duifies moet nog eers sterk word, maar later in die jaar ry hulle verder, tot selfs by Colesberg, om die duiwe vry te laat.
Wanneer ek dit sien, dink ek ’n samelewing waarin daar nog ’n aktiewe duiwe-wedvlugkultuur is wat mense oor ras- en ekonomiese grense aan mekaar verbind, en wat voortgaan ondanks kragonderbrekings, bendegeweld, werkloosheid in families en dwelm-epidemies, dan is daar mos iets in ons samelewing wat wérk en wat gesond is.
‘Dis die klein dingetjies …’
Ek het ’n dosent in filosofie gehad wat iets gesê het wat ek nog altyd onthou. Hy was ’n kleinerige, saggeaarde man met ’n ronde bril en snor en ’n effens verslete sportbaadjie met leerlappies op die elmboë. Hy sou persoonlik mymeringe met sy tweedejaarstudente deel, wat dit laat deurskemer het dat ’n mate van ontnugtering hom ook ingehaal het in sy mid-40’s. Hy sou ons byvoorbeeld vermaan dat die huwelik ’n projek is waaraan ’n mens elke dag moet werk.
Hierdie man het vertel hoe hy en ’n ander filosofieprofessor weereens ’n gesprek gehad het oor wat dit is wat die lewe betekenis gee, en hy het tot die slotsom gekom dat dit die klein alledaagse dingetjies is. Iets soos ’n fietsrit, of om die roosbome te snoei, of ’n verkleurmannetjie op ’n tak.
Dit was duidelik ’n man wat opgegee het oor die idee dat lewensin van ’n god af kom, of van groot ideale, of selfs die mens se goedheid. Ek moet erken ek het destyds gedink dis nogal ’n “loser” houding.
Maar hier is ek elke oggend besig om vreugde en betekenis te put uit ’n klompie duiweboere wat rondom ’n bakkie klos. Miskien is dit iets wat in mens se middeljare gebeur.
Maar dis nie net die duiwemanne wat my staptog opkikker nie. Ek stap soggens deur twee parke op my roete. Die een is die Tielman Marais-park. So kort soos ses jaar gelede sou ek nie alleen my voete in die park gesit het nie, enige tyd van die dag of nag.
Die park is minder as ’n kilometer van die Bellville-middestad af en dit is eintlik ’n groen strook langs die Elsieskraalrivier. Die Elsieskraal is deesdae eintlik net ’n sementsloot.
’n Klompie jaar gelede het verskeie haweloses permanent in die park gewoon; die meeste van hulle was dwelmslawe wat ’n swak graad heroïen ingespuit het. Die stadspolisie of die buurtwag het hulle nou en dan verjaag, maar die probleem is nooit opgelos nie.
Die park was ook ’n ontsnaproete vir misdadigers in die rigting van die middestad. Vele male is diewe op heterdaad betrap en agtervolg, net om deur die park se duikweë te verdwyn. Jy sou ook snags sien hoe skadufigure rekenaar- of televisie-onderdele verbrand om by kopermetaal uit te kom.
Die probleem is egter heeltemal opgelos ná die stigting van ’n CID, oftewel ’n stadsverbeteringsdistrik. ’n CID, ook bekend as ’n Special Rates Area, is ’n liggaam wat ’n gemeenskap volgens wetgewing mag stig wat die gemeenskap toelaat om geld in te samel deur die munisipaliteit se belastingnetwerk. Die geld word dan deur ’n raad van inwoners gebruik om die gebied te verbeter.
In Boston, ons woonbuurt, het die CID byvoorbeeld ’n beheerkamer met twee voertuie wat die gebied dag en nag patrolleer. Die CID het ook kringtelevisiekameras op die meeste van die toegangsroetes in ons buurt geïnstalleer. Die CID koördineer opruimingsaksies deur die werklose mense wat aanmeld by die NG Kerk se nie-regeringsorganisasie, MES. In die Tielman Marais-park het die CID heinings geïnstalleer wat vinnige ontsnaproetes vir misdadigers afsny sonder om toegang tot die park te belemmer.
Nou deesdae, as jy op ’n Saterdagmiddag in die park kom, sit gesinne of paartjies en piekniek hou, veilig en onbelemmerd. En dit is nie wit Afrikaners wat die park vir hulleself gevat het nie – dit is ’n goeie mengsel van wit en bruin en swart mense, wat verskeie Somaliërs en Ethiopiërs insluit.
Die bestuurder van die CID, Jean Beukman, sê voor daar ’n CID was, is daar minstens 35 voorvalle van inbrake of diefstal uit tuine per maand aangemeld. Hierdie statistieke is af na aan een of twee per maand.
’n CID val nie uit die lug uit nie. Dit is ’n lang, pynlike wetlike proses wat deur vrywilligers in ’n gemeenskap gedryf moet word. Verskeie mense in Boston het jare van hulle tyd opgeoffer om dit te laat gebeur. Op ’n punt in die proses moet 60% van die eiendomseienaars in die gebied ’n vorm invul en teken om toestemming te gee vir die CID. In ’n buurt soos Boston, met ’n groot persentasie afwesige eienaars omdat hier verskeie woonstelblokke en studentehuise is, is dit moeilik om die eienaars op te spoor, en dit werk boonop met ’n spertyd.
Ek onthou goed die monumentale moeite wat tientalle vrywilligers in 2019 ingesit het om dit te laat gebeur. Dit is die soort verskynsel wat ’n mens baie hoop gee in Suid-Afrika.
Hang af met wie jy ons vergelyk …
Soos ek verder stap van die Tielman Marais-park af na die groter Jack Muller-park, wonder ek of prof. Friedman reg is, en of die VSA se state en die VK ook op verskeie vlakke misluk. Dan besef ek ons moet onsself eerder met Argentinië vergelyk, of met Brasilië, of met Rusland of Oekraïne. Ontwikkelende lande, soos ons. Ek dink nie mense hoef oortuig te word dat Suid-Afrika die afgelope 30 jaar beter daaraan toe was as omtrent elkeen van hierdie ander lande nie.
Ons het nog nie ’n ekonomiese ineenstorting beleef soos Argentinië in 2001 nie. Ons politieke situasie het nog nie naastenby die onstabiliteit van Brasilië bereik nie, en selfs die korrupsie is erger daar. Suid-Afrika se afgelope vier dekades is ’n feëverhaal in vergelyking met die politieke en ekonomiese fluktuasies in Rusland, en oor Oekraïne hoef ek seker niks te sê nie.
Ons praat te maklik van ’n ineenstorting wanneer dit juis die tyd is wanneer ons ons hakke moet inslaan en ons talente gebruik om verandering rondom ons aan te bring. Een van die groot tragedies van die Suid-Afrikaanse maatskaplike landskap is dat die organisasies wat die beste toon hoe ’n gemeenskap iets vir hulleself kan doen, AfriForum en Solidariteit, Christelik-nasionale organisasies is, wat eintlik beteken dat hulle grootliks wit en kultuur-eksklusiewe organisasies is, al doen hulle hoeveel moeite om die teendeel te bewys. Ek vra myself gereeld af hoe goed dit sou wees as AfriForum ’n ding of twee by dr. Imtiaz Sooliman kon leer. Ons kon al ’n hele entjie vorentoe gewees het met rasseverhoudinge.
As ek verby die duiweboere is, stap ek oor die groot Frans Conradie-rylaan tot in die Jack Muller-park, ’n lieflike park van 13 hektaar met groot grasperke, verskeie ongerepte natuurgebiede, pragtige bome, ’n veld-gimnasium, ’n basketbalbaan, ’n kruietuin en ’n amfiteater. Dit sou egter nie so gewees het as dit nie vir die aktivisme van ’n paar Boston-gemeenskapslede in die vroeë 2000’s was toe verskeie ontwikkelaars (onder meer ’n N.G. gemeente) en die munisipaliteit gekonkel het om die park te ontwikkel nie. Veral ’n prokureur, Alistair van Huyssteen, en ’n staatsadvokaat, Wimpie Els, het eindeloos van hulle eie tyd bestee om die park te red en weer te ontwikkel.
Die son kom gewoonlik op wanneer ek deur die boonste deel van die park ’n toon klap, en ek lag elke oggend in my binneste as ek doer op die horison ’n reusagtige geel-en-rooi advertensiebord sien pryk op die hoogste gebou in Northumberlandstraat, waar daar verskeie fabriekswinkels is. Op die bord staan “Mr Video”. Die bord is slegs vanaf die park en die N1-snelweg sigbaar, maar nie vanaf die strate rondom dit nie.
Nou, die Mr Video-winkel wat dit adverteer, het al langer as 10 jaar gelede toegemaak, maar omdat die bord nie van naby sigbaar is nie, het mense vergeet om dit te verwyder. Dit sit nog daar soos ’n vet middelvinger aan die televisie-stromingsbedryf wat die videobedryf en ook stelselmatig die rolprentbedryf doodmaak.
Ek is nie iemand vir monumente en gedenktekens nie. Wanneer morbiede massakore om 12:00 op 16 Desember swaar Afrikaanse gesange sing in die Voortrekkermonument op Voortrekkerhoogte, wanneer die sonkolletjie op die gedenkteken val, dan sit ek eerder graag iewers langs die viswaters met ’n bier, baie dankie. Maar die Mr Video-teken het my eie klein monument geword, aan mense se veerkragtigheid, aan oustyl-elegansie, aan gemeenskappe wat nie opgee nie, en aan humor.
O ja, as jy wil weet wat die Harvard Study of Adult Development se belangrikste bevinding oor menslike gelukkigheid is ... Dit is goeie menseverhoudings. Dít, sal jou happy maak.
- Hierdie artikel is die eerste keer op 19 Mei 2023 in VWB gepubliseer.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.