Goeiemôre
Ek onthou die dae toe daar elke jaar ’n nuwe telefoonboek by ons huis afgelewer is – die geelbladsye en die een waarin mense se name en adresse gelys was.
Die laaste keer toe ek nog so ’n boek gebruik het, was aan die begin van my loopbaan as joernalis. Om mense op te spoor vir stories. Hard luck as die persoon ’n algemene van gehad het soos Van Wyk, De Villiers of September, want jy kon maklik ure aan die telefoonlyn hang om die regte persoon in die hande te kry.
Self is ek behoorlik ingenome met my eie agternaam. Dis soos die Amerikaners se John Doe – kan enigiemand wees. En blykbaar het byna elke land sy eie weergawe van John Doe. In Bulgarye is dit Ivan Ivanov, in Frankryk Jean Dupont en in Nederland Jan Jansen.
Ek weet nie hoe dikwels Suid-Afrikaners van ’n naam ontslae probeer raak wat hulle nie aanstaan nie, maar in Nederland is daar ’n styging in mense wat hulle familienaam wil verander. En geen wonder nie, want Nederland kraai koning as dit kom by belaglike agtername.
Ja, ek weet mens moet nie lag vir buitelanders se stom name nie, want hulle dink waarskynlik jou naam is ook stom, maar in die geval van Nederland is dit waar.
Neem byvoorbeeld ’n brief wat my man onlangs kry van ’n Mev. Poepjes (’n Friese agternaam). Of wat dink jy van Jabroer, Slettenhaar, De Dood, Kroes, Rotmensen, Zeldenthuis, Naaktgeboren, Nattekaas en Scheefnek?
Gelukkig is die vanne wat die meeste voorkom nog fatsoenlik: De Jong, Jansen, Janssen, Van den Berg, Bakker en Van Dijk – laasgenoemde spruit glo uit die Nederlanders se obsessie om die see uit die land te hou.
Trouens, die aanvoerder van die Nederlandse sokkerspan, Virgil van Dijk, is een van dié wat ontevrede is met sy van – weens ’n slegte verhouding met sy vader – en speel daarom altyd met sy voornaam op sy sokkertrui.
Maar waarom het Nederlanders eintlik sulke rare agtername? Die verhaal lui dis alles te danke aan Napoleon. Dat tydens die Franse besetting in 1811, inwoners gedwing is om agtername te registreer vir belastingdoeleindes. Om die Franse belaglik te maak het mense allerhande bespotlike name vir hulself uitgedink.
Ander bronne soos Netwerk Naamkunde betwis dié opvatting en voer aan dat toe Napoleon op die toneel verskyn, hét die meeste inwoners al ’n van gehad. Op plattelandse gebiede was die “patronimiese stelsel” (’n agternaam wat afgelei is van die voornaam van die vader) nog volop in plek. Sommige vanne het ook hul ontstaan uit die gebied waaruit iemand kom of sy beroep, ’n opmerklike eienskap (Zondergeld, Leeflang, Avontuur) of iets wat gebeur het ten tye van die persoon se geboorte, soos Posthumus (“gebore nadat sy vader oorlede is”).
Hoe dit ook al sy, Napoleon is gou verslaan, maar sommige van dié verbeeldingryke agtername bestaan steeds vandag en dis nie maklik om daarvan ontslae te raak nie – behalwe vir regshulp, het jy ook sowat €1 000 nodig om jou naam te verander.
Mooi loop
Anesca
Dié van julle wat nie ons Stilbaai-boekefees kan bywoon nie – onthou, daar kom ’n Cullinan-fees in April vir Gautengse boekvrate! En intussen kan jy by die huis feesvier met ons Boeke- en Vrye Tyd-aanbiedings.
BOEKE
Deborah Steinmair glo ’n mens kyk maklik blink klippies voor jou eie agterdeur mis, want die internasionale aanbod is so oorweldigend.
Marita van der Vyver skryf oor toevallighede wat ’n mens se leesgedrag lei en hoedat sy ou boeke herbesoek.
Joan Hambidge spreek boekdele oor die fyn spel tussen feit en verdigsel.
Kerneels Breytenbach skryf oor die soms ongemaklike metamorfose van boek tot silwerskerm of kassie.
Lees die vierde aflewering van Zirk van den Berg se spannende vervolgverhaal oor moord op ’n afgesonderde kusdorpie.
Lees ons lesers se bydraes: ’n Kortverhaal oor visnetkouse en ’n bildungsgedig. Stuur julle bydraes aan Deborah Steinmair vir ’n kans om ’n boek te wen met die komplimente van Graffiti.
VRYE TYD
Laureen Rossouw skryf oor ’n eerstejaartjie wat ’n swewende werfswaan word. Maar ’n oordosis eksistensialisme en Shawn Phillips op repeat kan ’n meisie rusteloos maak.
Henk Serfontein skryf oor die ragfyn kuns van kloskant wat ingespan word om homo-erotiese kuns te skep.
Gideon Lombard vertel vir Laureen Rossouw hoe hy post-kokaïen die kruin na sukses begin klim het as akteur en regisseur.
Debbie Loots skryf waarom dit ’n wêreldwye trend geword het om ’n geleentheidsdrinker of geheelonthouer te word.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.