Ongelykheid: Dis veel meer as net die gaping tussen ryk en arm

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Ongelykheid: Dis veel meer as net die gaping tussen ryk en arm

Dis geen maklike taak om ongelykheid die hoof te bied nie, blyk uit ’n verslag wat Nederland se Sociaal en Cultureel Planbureau onlangs uitgereik het. ANESCA SMITH vertel meer daaroor. DEBORAH STEINMAIR gee ’n kykie op dié week se Boeke- en Vrye Tyd-stories, en nooi jou na ons Cullinan-boekefees.

  • 11 Maart 2023
  • Daagliks
  • 4 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Hierdie maand is dit 10 jaar sedert ek in Nederland woon, maar ook 10 jaar sedert ek my man ontmoet het. Gepas dus dat ek hierdie week uit ’n romantiese oogpunt bepeins het waarom ons verhouding werk ondanks die feit dat daar ’n wêreld se verskil tussen ons kulture is.

Uit ’n meer nugter oogpunt: My man het my ook sosiale kapitaal gegee. Ekonomiese stabiliteit terwyl ek my voete aan’t vinde was in ’n nuwe land en ’n ready-made ondersteuningsnetwerk verskaf waaroor hy as gebore Nederlander reeds beskik het. Verliefdheid tersyde, ek glo ek sou veel slegter af gewees het hier as ek hom nie ontmoet het nie.

Wat nie sê dat ek self nie hard gewerk het nie. Soos toe ek ’n student was in Suid-Afrika vele jare gelede, het ek meteen naas my studies ’n werk gesoek toe ek in Nederland aangekom het. En danksy die persoonskapitaal wat ek in Suid-Afrika opgebou het – ’n goeie opleiding, werkservaring en selfvertroue (wat jou byna altyd meer aantreklik maak) – het ek feitlik onmiddellik ’n goedbetaalde werk gekry.

Ek sien myself as ’n goeie voorbeeld van wat Nederland se Sociaal en Cultureel Planbureau (SCP) probeer sê in ’n verslag wat hy dié week uitgereik het oor eietydse ongelykheid. Dat dit naamlik oor veel meer as net die gaping tussen ryk en arm gaan.

In die verslag word nie net gekyk na werk, inkomste en opleiding nie, maar ook na sosiale netwerke (wie jy ken, wie jou pa ken), jou gesondheid en selfs hoe fraai jy is!

Ek moet sê ek was meer as ’n bietjie verbaas oor die nadruk wat in die verslag geplaas word op die ontwikkeling van uiterlike aantreklikheid. Ja, ons leef in ’n tyd van filters en waar jy skynbaar altyd “kamera-gereed” moet wees soos die ondersoekers dit stel, maar of die owerheid hom daarmee moet loop en bemoei, is seker nie die oplossing nie.

Waarmee hy hom wel moet bemoei, seker in ’n land soos Suid-Afrika, is die gesondheid van sy inwoners, want ook dit speel ’n rol in kansgelykheid.

Ander faktore wat ’n rol speel in ongelykheid, is kulturele kapitaal (jou leefstyl, byvoorbeeld, wat ’n aanduiding is van status en kennis soos byvoorbeeld hoe jy jou moet gedra in ’n duur restaurant, jou kennis van klassieke musiek, museumbesoeke, die aankoop van duursame voedsel, energie of kleding). Andere kapitaal wat jou vooruitgang in die samelewing help, is basiese digitale kennis, Engelse welsprekendheid, jou agternaam, jou sosiale en professionele netwerk, toegang tot mediese en regeringshulpbronne sowel as geestelike en liggaamlike gesondheid.

Die verslag maak ook korte mette met die idee dat as jy arm is, dit grotendeels jou eie skuld is of dat jy net lui is.

“Arm mense het byvoorbeeld nie toegang tot kapitaal as hulle ’n onderneming wil begin nie of hulle kan nie belê in aandele nie, want hulle is óf in ’n oorlewingstryd of vasgevang in ’n siklus van skuld. Dit is ook moeilik vir mense om in nie-finansiële hulpbronne te belê as hulle nie bekend is met kulturele kodes nie, ongemaklik is binne sekere kringe of dit onmoontlik vind om ongesonde leefstyle af te skud.”

Die samestellers van die verslag erken dat dit dus geen maklike taak is om ongelykheid die hoof te bied nie, maar moedig die regering aan om op ’n ander manier na die gaping tussen ryk en arm te gaan kyk in die samestelling van beleid.

Mooi week
Anesca


Dis weer naweek en oor 'n bietjie meer as 'n maand vier ons boekefees in Cullinan! Bespreek nou jou kaartjies by Quicket. En vier solank fees met ons Boeke- en Vrye Tyd-bladsye propvol vermaak en inligting.


BOEKE

Deborah Steinmair het twee onweerstaanbare topverkopers verslind.

Misverstand en misdaad


Louis Gaigher bekyk Denis Hirson, wat tans in die land toer, se sonderlinge memoires.

Denis Hirson se herinneringswerke


Kerneels Breytenbach bekyk die internasionale boekemark en wonder hoe ons van die konsepte kan verwerk vir die plaaslike mark.

Komkommertyd vir uitgewers


Joan Hambidge wonder waar is Freud in Afrikaanse fiksie en bespreek The White Hotel van D.M. Thomas en Gedeeltelik bewolk van Ruan Kemp.

Waar is Freud in Afrikaans?


Episode 6 van Zirk van den Berg se spannende vervolgverhaal oor moord op 'n afgesonderde kusdorpie.

Episode 6: In die skadu van Tafelberg


Ons lesers deel hulle kreatiwiteit. Lees vandag ’n kortverhaal van Hannelie Schutte. E-pos jou bydrae aan Deborah Steinmair vir ’n kans om ’n boek te wen.

Sing soos jy gebek is of voertsek


VRYE TYD

Kerneels Breytenbach vertel watter “onbekende sangeres" die Grammy voor Beyoncé weggeraap het.

Wie is Bonnie Raitt?


Laureen Rossouw gesels met die redakteur van Ons Klyntji.

Die erwe van sy vaad’re herbedink


Laureen Rossouw stel 15 vrae aan Sandra Prinsloo, wat Maria Callas so onvergeetlik op die verhoog vergestalt.

15 vrae aan Sandra Prinsloo


Louis de Villiers kyk hoe ly ons arme rugbyspelers op oorsese reise.

Oor ’otdogs, wasgoedwas en bankrot rugby


Aletta Lintvelt ontdek die Koreane se geliefde gochujangsous en vind sommer opnuut geesdrif vir die lewe.

Rissiesous vir ’n nuwe begin

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.