Dagsê
Nederland is aan die shop vir ’n nuwe premier.
Die land moet oor ’n paar maande onverwags weer na die stembus omdat die huidige kabinet vroeër die maand geval het. Die partye van die samewerkingsregering kon nie ’n ooreenkoms bereik oor wat om te maak met al die vlugtelinge wat maar bly stroom na dié piepklein landjie nie. Dit skyn uiteindelik tot die bewindshouers deur te gedring het dat die land ’n veels te aantreklike asielbeleid handhaaf in vergelyking met die lande rondom hom soos Duitsland en Denemarke.
Wat my as Suid-Afrikaner met verbasing – en ’n tikkie jaloesie – na die hele stemproses laat kyk, is hoeveel vroue hier óf reeds aan die leierskap van politieke partye staan óf hulle beskikbaar gestel het vir die pos van premier. Aan die linker- sowel as die regterkant van die politieke spektrum.
En as die een faal, ontmoedig dit die ander nie om ’n sprong te waag in die volgende verkiesing nie. En dít kos moed, want selfs in Nederland krioel dit nog van vrouehaters wat bakke dreigemente op vroue-politici laat reën.
Boonop is talle van hulle jong vroue in plaas van die bejaardes waarmee ons in die Suid-Afrikaanse politiek opgeskeep sit. En daarmee bedoel ek nie noodwendig bejaard in jare nie – jy kan oud wees met ’n jong, vooruitstrewende gees – maar mense met verstokte idees wat al veels te lank aan hul pos en vergane glorie vasklou.
Neem byvoorbeeld die ANC-vroueliga met hul uit-die-oude-doos-uniform. Groen is my gunstelingkleur – dit staan immers as simbool vir groei (hoe ironies in die geval van die ANC) – maar as ek ANC-vroueliga-groen sien, kry ek hoofpyn.
Ek onthou toe ek doerie jare gelede as politieke joernalis in die parlement gewerk het, was daar altyd veel gewag gemaak van die feit dat die vroulike verteenwoordiging in die Suid-Afrikaanse parlement so hoog is. Maar so what?
Wat baat dit as die vertoonvenster goed lyk, maar die vroueliga bloot ’n verlengstuk is van die nasionale beweging en hulle maar weinig bemoei om seker te maak dat die ware kwessies wat Suid-Afrikaanse vroue in die gesig staar soos geweld, werkloosheid, armoede en die gevolge van korrupsie hoog op die agenda staan? Waar is die gees van die eerste parlement wat ’n hele string vrou-vriendelike wetgewing deurgevoer het rondom huislike geweld en aborsie, wetgewing wat mans wat nie kinderonderhoud betaal nie, vasgevat het?
En die huidige toestand is jammer, want Suid-Afrika is geseën met soveel jong vroue-aktiviste in nieregeringsorganisasies, die akademie, in die kunste en in die ondernemingswêreld. Vroue wat die interseksionele aard van feminisme in Afrika begryp.
Ek het groot bewondering vir Suid-Afrikaanse vroue. Hulle vermoë om staande te bly in moeilike omstandighede, hulle kreatiwiteit, hulle sin vir humor.
In die 2019- nasionale verkiesing het meer vroue as mans gestem. Dis tyd dat hulle dié meerderheidstem gebruik om hulle kwessies op die nasionale agenda te kry.
Mooi naweek
Anesca
Hierdie naweek kuier ons gesellig by Vrye Weekblad se eerste boekefees in die prentjiemooi Clarens in die Oos-Vrystaat. Of jy dit nou bywoon of nie, hier is heerlike Boeke-stories om jou in te verdiep, en ons Vrye Tyd-aanbieding is ook fantastiese leesstof. Elmari Potgieter se persoonlike gunsteling-artikel is Henk Serfontein s'n oor “Mavericks en die politiek van paaldans”. Moet dit nie misloop nie!
BOEKE
Deborah Steinmair het die filosoof Johann Rossouw se nuwe roman (met eggo’s van Karel Schoeman) gelees soos Grietjie wat 'n krummelspoor volg.
Nadine Petrick het met Egonne Roth gesels oor die boek waarin sy na antwoorde oor haar herkoms soek – ’n boek wat uiteindelik meer handel oor seks en identiteit as oor Hitler of Berlyn, soos sy later self sou besef.
Louis Gaigher het Lorrie Moore se werk met vreugde begin lees toe hy 19 was, maar haar werk in hierdie eeu stel hom teleur.
Mareli Stolp onthou die skrywer Milan Kundera deur haar vingers op die klawers en lees sy boeke met die Tsjeggiese komponis Leoš Janáček as begeleier. Kundera se boeke is meerstemmige musiek.
Kerneels Breytenbach deel sy gunstelingresepteboeke, oud en nuut, met ons. Wanneer jy kook, dan moet jy kóók, sê hy.
VRYE TYD
Rachelle Greeff vergelyk Julius Malema se slagmetodes met ’n respekvolle jaarlikse ritueel op ’n Swartland-plaas.
Seksuele kapitalisme is vreesloos, soos 'n man op Viagra, skryf Henk Serfontein nadat hy 'n draai by 'n luukse gentlemen's club in Kaapstad gaan maak het.
Klink tog ’n glasie op Aunt Mill wanneer jy hierdie smullekker gereg geniet – dit is iets wat jy nie moet misloop nie, skryf Emilia Smuts.
Terwyl Louis de Villiers die naweek vervaard van sportkanale verwissel het tussen Wimbledon, die Tour de France en die Bokke, was dit Carlos Alcaraz se epiese sege oor Novak Djokovic wat die kishou geplant het.
Nuwe liefling, Carlito Alcaraz, troef Djokovic, Tour én Bokke
Sy nuwe riller, Ons Skulde, is pas gepubliseer en gaan oor wat bemindes aan mekaar doen, vertel dié skrywer en professor in politieke wetenskap aan Laureen Rossouw.
Snuffel deur items wat jou lewe makliker en lekkerder kan maak.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.