Dagsê
’n Predikant-vriend van Riebeek-Kasteel in die Wes-Kaap kla dié week oor hoe misdadigers – veral inbrekers – die kerk gereeld teiken. Dit wissel van slote wat rondom geboue gegrawe word om koperpype uit te haal tot kraankoppe wat afgekap en verkoop word. Selfs die gemeente se tuine, waar groente gekweek word om onder meer sop te maak vir die armes, word geplunder.
Hy skryf: “In ’n gemeenskap kan mense gou vir jou sê wie jôl met wie, wie kwaad is vir wie, wie watter eiendom beskadig het, wie se geld is uitbetaal en hoeveel het die persoon gekry. Wie het wie se dogter swanger gemaak en wie het vir wie sleggesê. Wie word drieuur in die oggend deur ’n getroude man afgelaai en wie kruip vyfuur die oggend uit watter huis. Hulle weet ook wie het watter siekte en watter kleur pille dié mense gebruik.
“Maar wanneer daar ingebreek word, het niemand iets gehoor, gesien, geruik of aangevoel nie – selfs as die inbreker met die grootste gemak en geraas sy ding doen.”
Ek vra hom of dwelm- en drankmisbruik op die dorp ’n rol speel. Maar ek wonder ook hoeveel aandag die Suid-Afrikaanse regering skenk aan die verband tussen misdaad en geestesgesondheidsprobleme, met inagneming van die gewelddadigheid van ons samelewing. Volgens die Mental State of the World Report van 2021 is Suid-Afrika een van die slegste lande as dit kom by die behandeling van geestesgesondheid. Slegs 5% van die land se gesondheidsbegroting word daarvoor aangewend.
Dít terwyl wetenskaplikes wêreldwyd al hoe meer aandag gee aan en kennis opdoen oor die brein (hersens in Nederlands) van misdadigers – die sogenaamde “kriminele brein”.
In Nederland is daar byvoorbeeld vanjaar ’n soort dagkliniek geopen waarheen verdagtes gestuur word wat vermoedelik ’n neurologiese probleem het sodat ’n span deskundiges ’n uitgebreide ondersoek kan doen.
“Internasionale ondersoeke toon dat sowat 35% van aangehoudenes ’n vorm van ’n nie-aangebore breinskade (hersenletsels) het. In die gewone bevolking is dit sowat 5%,” het ’n kliniese sielkundige by die kliniek gesê.
Die verskil het vermoedelik te make met die harde lewe wat misdadigers dikwels lei. Hulle word byvoorbeeld meer gereeld aan dwelmmisbruik, geweld en roekelose gedrag blootgestel as die gewone bevolking. En dikwels al vanaf ’n jong leeftyd.
’n Ondersoek wat ’n tyd gelede in die vakblad Brain Imaging and Behaviour gepubliseer is, toon dat van die 800 deelnemers aan die studie, diegene wat moord gepleeg of probeer pleeg het, aansienlik minder grysstof het as ander oortreders.
“Meer grysstof beteken meer senuselle en gliaselle (glia is Grieks vir ‘lym’). Dit is wat jy nodig het om berekeninge te doen en inligting te verwerk – of dit nou emosionele inligting is wat jy byvoorbeeld gebruik om empatie vir ander te voel of inligting wat jy gebruik om jou gedrag te beheer,” het een van die ondersoekers gesê.
Mooi naweek
Anesca
VWB se eerste Melkbos-boekefees is om die draai. Ilza Roggeband het 'n uithalerprogram gereël met, benewens boeke, ook drama en iets vir die kleingoed. Hou 17 tot 19 Augustus oop. Hier is die skakel vir Quicket-besprekings.
Augustuswinde waai en die winter is uiteindelik aan die wyk, maar boeke sal altyd in seisoen wees. En Vrye Tyd, al het ons min daarvan, is noodsaaklik vir ons geestelike gesondheid. Snuffel gerus deur ons aanloklike stories en versamel idees vir lees, kreatief wees en leeglê.
BOEKE
Deborah Steinmair was onthuts, vervreem en betower deur S.J. Naudé se jongste roman.
Gerda Taljaard wonder wat het haar besiel om E.L. James se nuutste hygsensasie te lees.
Louis Gaigher raak liries oor Max Porter se trilogie oor seunwees.
Kerneels Breytenbach slyp weer ons aptyt vir die jongste blitsblaaiers op die mark.
Joan Hambidge besin oor abba-tekste wat op die rug van ander ry.
VRYE TYD
Laureen Rossouw gesels met die deurwinterde musikant en skrywer.
Troeteldiere anker jou, skryf Jan Barend Wolmarans.
Emilia Smuts skryf oor die kroon op Sondag-feeste op 'n wynplaas.
Louis de Villiers vertel van die Netbal-wêreldbeker en Banyana se balbesit.
The Good van Banyana, The Bad van die netbal, The Ugly van ons sokkerbase
Bianca du Plessis is verskeurd tussen 'n legio gesondheidsgiere.
Hier is items wat jou lewe lekkerder en makliker kan maak.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.