EK voel soos iemand wat haar fantastiese stapskoene oornag verloor het en nou met haar Netwerk24-vellies of KykNET-plakkies haar laaste skofte van 'n ingewikkelde Camino-Suid-Afrika moet aanpak. Waar gaan haar hulp vandaan kom?
Ons Afrikaanssprekendes was eintlik nog altyd vasgevang in fake news: Joernaliste was destyds meestal NET met die apartheidsregering se manne gekonnoteer, en tans lyk my met niemand in die ANC-regering nie. Max du Preez en Piet Croucamp was in die laaste jare vir my twee onmisbare soekligte, my weeklikse brood, my noodsaaklike transfusie: Albei het ordentlike konneksies in die ANC, die werkersunies, die internasionale diplomatieke wêreld, albei lees en konsulteer wyd.
Piet sorg dat hy voortdurend op grondvlak beweeg tussen verkramptes, verwoestes en swart linkses, Max spreek talle groepe toe waar hy uit 'n wye netwerk temperature en menings waarneem. Daarby het albei 'n onskatbaar diep morele institusionele geheue oor waar ons in die land vandaan kom, wat ons verwagtinge was en wat dit nou behoort te wees.
Saakmakende bydraes
Ook is albei geseën met 'n fantastiese greep op taal. Dis louter plesier om hulle akkurate vasvatte, hulle briljante woede-uitbarstings, hulle tere versugtinge en onfeilbare insigte te lees.
Dan die nie-genoeg-geprese Anneliese Burgess se onvergeetlike beskrywings, aangrypende gewaarwordings, haar skerp onderhoude met belangrike mense waaraan niemand gedink het nie; ook Deborah Steinmair se boekeblad wat dreun en kreun en jubel van die interessante leeswerk. Vanweë die 5-mg-per-week-resensiedieet waarop letterkunde moet oorleef, is Vrye Weekblad se boekeblad 'n geil, robuuste boord. Wat gaan van ons lesendes word? En wie in die wye wêreld gee mens daagliks top Afrikaanse gedigte om jou wees te verdiep?
En so kan 'n mens, anders as by meeste nuusaanbiedings, almal by die naam, een vir een, noem met hulle besondere saakmakende bydraes, maar ek wil volstaan met Anastasia de Vries. Al die figure wat uitstaan by Vrye Weekblad is eintlik deur haar gesteun. Sy was die konteks. Sy het al die skrywes moontlik gemaak, die politieke perspektiewe en die geleefde werklikheid bymekaar uitgebring.
Einde van die verstandkant
Baie dekades gelede het ons as redaksie van Die Suid-Afrikaan by die Naspers-base gaan pleit om 'n ooreenkoms wat ons voortbestaan as linkse Afrikaanse nuustydskrif moontlik sou maak, maar hulle het ons goed laat verstaan dat Naspers nie 'n welsynsorganisasie is nie. Ek sal nooit vergeet toe ons by die deftige, hoë gebou onder by die Foreshore uitstap nie, hoe helder ek geweet het: Dit is die einde van die verstandkant van Afrikaans, die anderkant-toe-dink-kant: Ons, Die Suid-Afrikaan, gaan vou, so ook Vrye Weekblad, so ook Naspers se eie pronkstuk, Insig. En so was dit.
Ek voel weer so. Het al die Stellenbossers en Wilgenhoffers ingeteken op Vrye Weekblad? Almal in die diaspora? Jare gelede het ek gesê: Mense los Afrikaans soos 'n drol in die gras op pad geld toe. Dus. Ek aanvaar: Vrye Weekblad kon nie genoeg intekenare kry nie. Daarom is USA mos reg vir ons!
Max en Antjie ken mekaar van skooldae af. Sy het sy oog getref, al was sy in standerd 8 toe hy in matriek was – sy het immers reeds op skool ’n digbundel gepubliseer. Hierdie twee kamerade het diep spore getrap en gesels ligvoets oor taai onderwerpe. Een woord beskryf albei: aweregs. Luister hoe hulle voor ’n stampvol saal ’n hond uit ’n bos gesels by VWB se eerste boekefees in Clarens.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.