Hoe en hoekom mens vriende verloor

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Hoe en hoekom mens vriende verloor

Wat doen jy as iemand op een mooi dag besluit hy wil nie meer jou vriend wees nie, wonder ANESCA SMITH. DEBORAH STEINMAIR gee ’n paar lusmakertjies oor dié week se Boeke- en Vrye Tyd-stories. En ELNA VAN DER MERWE herinner jou aan Vrye Weekblad se Stilbaai-boekefees aan die einde van die maand.

  • 04 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 5 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre!

“O, lekker. Weer ’n praatfilm,” sê my man en rol sy oë toe hy hoor ek wil The Banshees of Inisherin, die nuwe rolprent van die regisseur Martin McDonagh, kyk.

En inderdaad, ek het ’n swak vir “praatfilms”. Een van die bestes tot nog toe was Locke, waarin jy vir die volle duur van die film net ’n man in ’n voertuig op die snelweg sien ry terwyl hy op sy selfoon praat. Maar die tema van dié film is so universeel dat ek dit nog ’n honderd keer kan sien sonder om my ’n minuut te verveel.

In The Banshees leer ons twee vriende, Colm en Pádraic, ken wat op die eiland Inisherin woon – binne hoorafstand van die Ierse burgeroorlog wat rondom 1923 op die agtergrond afspeel. Elke middag klokslag om tweeuur vat Pádraic, ’n eenvoudige siel, die grondpad na die huis van sy musikant-vriend voor die twee die res van die dag in die kroeg deurbring.

Tot Colm op ’n dag besluit hy wil nie meer vriende wees nie. Volgens hom is Pádraic – iemand wat vir ure oor koeistront kan praat – te vervelig. In plaas van sy lewe verby klets wil Colm, met sy musiek, ’n naam maak in die wêreld. Iets wat mense vir ewig sal onthou. Soos Mozart.

Pádraic verstaan niks van die plotselinge ommekeer in sy vriend nie. Sterker nog, hy weier om dit te aanvaar.

Daar is baie maniere om vriende te verloor. Sommige vriendskappe rafel oor tyd en soms afstand uit. Ander vriende verloor jy weens ’n onenigheid – iets waaroor talle mense ná Covid-19 kan getuig. Maar die heel ergste is waarskynlik as jy nie weet waarom iemand met wie jy ’n hegte band gevorm het, jou skielik op ’n dag die rug toekeer nie. Dit knaag en dit pyn en gee slapelose nagte.

Toe Pádraic, heeltemal uit die veld geslaan, by die huis kom, vra sy suster of hy en Colm ’n uitval gehad het. Hy antwoord: “I don’t think we’ve been rowin’. Have we been rowin’?”

Hy was nog altyd onder die indruk dat om ’n goeie, vriendelike mens te wees genoeg is op dié aarde. Jy hoef nie uitsonderlik slim te wees of uitmuntende prestasies te behaal om te tel nie. Jy hoef nie Mozart te wees nie.

Dit laat my dink aan ’n aanhaling wat aan die skrywer Maya Angelou toegedig word: “I’ve learned that people will forget what you said, people will forget what you did, but people will never forget how you made them feel.”

Colm op sy beurt vind vriendelikheid vry nutteloos in die wêreld wat ons leef. En vir nuttelose vriende het hy ook nie meer tyd nie.

Of dit ooit weer goed kom tussen die twee? Gaan kyk maar die film en besluit: Is dit beter om vir ewig onthou te word of moet jy dankbaar wees as jy maar vir een ander persoon ’n goeie vriend was?

Tot volgende week

Anesca


20 dae voor ons Stilbaai-boekefees

“Wat ’n voorreg om deel te neem aan hierdie wonderlike projek wat deur sterk vroue georganiseer word. En dit is juis waaroor Vier Susters gaan: sterk vroue wat teen die patriargale stroom swem. Stilbaai gaan allesbehalwe stil wees. Lewendige gesprekke oor lieflike boeke op ’n lieflike plek.”

Kom luister hoe gesels Gerda Taljaard oor haar jongste roman, Vier susters, waarvoor sy die kykNET-Rapport-prys vir fiksie ontvang het.

In ander nuus: Vrye Weekblad se boekeredakteur, Deborah Steinmair, kom heelpad uit die noorde Stilbaai toe vir die boekefees. Ons sien uit dat sy die gesprek op Saterdag die 25ste om 09:30 lei met die aktrise Lindie Stander (Agter my glimlag) en die pastoor Ivor Swartz (Kies die lewe).

Dis naweek – maak tyd om die program te bekyk en bespreek dan hier.

Ons sien julle in die markiestent – kom sê dag by die Stammtisch!

– Elna van der Merwe


Dis naweek en die meeste van ons het vrye tyd op hande. Ons Vrye Tyd- en Boeke-afdelings bied uitmuntende leesstof vir ledige ure op die bed, bank of langs die swembad. Behalwe vir ’n spannende kortverhaal deur ’n bekroonde skrywer, lees ook oor die jongste boeke, ’n topakteur se smake en voorkeure, sewesrugby, die tennisspeler wat die meeste van ons lief om te haat, en vele meer.


BOEKE

Deborah Steinmair gesels met Bettina Wyngaard oor haar jongste naelbyter, Lokval, en die magic van stories maak:

Bettina Wyngaard se stories en karakters lei jou in ’n lokval


Kerneels Breytenbach, ons boekkenner, kies die warmste internasionale boeke wat vars uit die oond kom:

Oor katte, Suid-Amerika, selfhelp en dierekommunikasie


Louis Gaigher, ons letterkundekenner, kyk na die ryke opbrengs van resensies en artikels in oorsese letterkundige tydskrifte.

Die skitterende glans van oorsese literêre tydskrifte


Mercia Burger, ons korrespondent in Washington, kyk na hondespore in die literatuur.

Skrywers en hulle bekkige brakke


Zirk van den Berg, bekroonde skrywer, se spannende vervolgverhaal het gister begin: “Droommoord”. Lees dit in Vrye Weekblad.

Episode 1: Drywende lyk op Hakkiesbaai


Hester von Wielligh, Michelle de Villiers, C.M. Pretorius en Annalize Stead skryf hierdie week vir ons gedigte. Stuur jou bydrae aan Deborah Steinmair vir ’n kans om 'n boek te wen.

Ons taal het soveel digters


VRYE TYD

Laureen Rossouw stel 15 vrae aan Albert Pretorius, wat erken dat hy nie seker is hoe hierdie acting ding werk nie en bang is dat hy sy oudag op sy suster se bank sal moet deurbring.

15 vrae aan Albert Pretorius


Kerneels Breytenbach skryf oor twee uiteenlopende musikante wat vandeesmaand oorlede is: David Crosby en Jeff Beck.

Windgat Crosby en Beck, ’n ordentlike tiffie


Laureen Rossouw kyk na Antonia Steyn se gunstelingfoto's.

Skyfies uit ’n loopbaan


Louis de Villiers skryf wêreldrugby gaan die sewesformaat aanpas, want less is more.

Snoeisker ingelê onder sewesrugby


Zirk van den Berg wonder waarom ons nie lief is vir Djokovic nie.

Djokovic – die beste, nie die gewildste

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.