Om te blom in onherbergsame gebiede

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Om te blom in onherbergsame gebiede

ANESCA SMITH skryf oor ’n entrepreneur wat onthou sal word vir die (veldskoen-)spore wat sy getrap het ten behoewe van swart bemagtiging – iets wat verder as mode strek. DEBORAH STEINMAIR vertel meer oor hierdie week se Boeke- en Vrye Tyd-stories en herinner jou aan die Cullinan-boekefees wat binnekort plaasvind.

  • 01 April 2023
  • Daagliks
  • 4 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Dagsê vriende

’n Boek wat ek nie kan wag om te lees nie is Wildflower: A Memoir van Aurora James wat in Mei verskyn.

James is ’n jong Kanadese entrepreneur wat iets besonders reggekry het. Sy het naamlik verskeie groot winkelkettings soos Bloomingdale’s, Nordstrom, GAP en Macy’s in Amerika oortuig dat 15% van die handelsmerke wat hulle verkoop dié van swart ondernemers moet wees. Ten einde die skreiende rasse-ongelykheid in die ondernemingswêreld teen te werk.

En jy kan sê dit het alles begin met Suid-Afrikaanse vellies – oftewel die nederige veldskoen.

Image: ANGELA TUCK

James het in 2013 haar spaargeld van $3 500 gebruik om die skoenhandelsmerk Brother Vellies in Brooklyn, New York, op te rig ná ’n besoek aan Suid-Afrika waar sy van digby aanskou het hoe veldskoene nog met die hand in klein plattelandse werkswinkels gemaak word.

“Destyds het ek gedink dat as ek Brother Vellies oprig, kan dit ’n manier wees om tradisionele skoenmaaktegnieke in Afrika lewend te hou en werk te skep. Dit gaan ook om die viering van Afrika-kultuur,” het James aan Vogue Italia gesê. Min het sy geweet van die revolusie waartoe dit sou lei.

Toe ek in die 1980’s in die Boland opgegroei het, was daar selfs op ons klein dorpie ’n oop werkswinkel waar veldskoene gemaak is. Dit het aan die Vermeulens behoort en elke middag ná skool het ek daar verby geloop. Tot ek op ’n dag gemerk het dat die winkel gesluit was. Dit kon nie meer stand hou teen die vlaag van goedkoop Chinese skoene wat die mark oorstroom het nie.

James, wat haar onderneming begin het deur die vellies op ’n vlooimark in Brooklyn te verkoop, het nuwe lewe geblaas in die vervaardiging van skoene hier. Sy verkoop nou meer skoene as vellies – vir honderde Amerikaanse dollar – maar hulle word steeds op duursame wyse in onder meer Suid-Afrika, Kenia, Marokko, Ethiopië en selfs Haïti gemaak.

In 2015 het James die CFDA/Vogue Fashion Fund-prysgeld van $300 000 gewen waarmee sy haar onderneming verder kon uitbrei. Sterre soos Beyoncé en Zendaya is groot aanhangers van haar handelsmerk.

Hoe vind sy skoenmakers in Suid-Afrika en elders in Afrika waar dit miskien moeilik is om ’n voorsieningsketting aan die gang te hou? “Deur ons ore op die grond te hou en letterlik kilometers in die land af te lê waar ons soms toevallig op hulle afkom,” het sy aan Vogue Italia gesê.

Mode kom en gaan. En wie weet of Brother Vellies stand gaan hou? Maar ek vermoed James sal eerder onthou word vir die (veldskoen-)spore wat sy getrap het ten behoewe van swart bemagtiging – iets wat verder as mode strek.

Sy sê een van die redes waarom sy die boek geskryf het, is sodat mense die pad wat sy geloop het, kan sien – hóé sy dit gedoen het – en miskien daaruit kan leer oor wat om te doen, maar ook wat om nié te doen nie.

Die titel van die boek? “Dis ’n verhaal oor hoe jy kan blom op plekke waar mense nie verwag dat enigiets sou bloei nie. In onherbergsame gebiede en ’n moeilike klimaat.”

Mooi week
Anesca

*Wildflower: A Memoir is vanaf 9 Mei beskikbaar.


Oor minder as twee weke vier ons boekefees in Cullinan! Bespreek nou jou kaartjies by Quicket en bespreek verblyf vir die hele naweek! Kliek hier om die volle program te sien. En vier solank fees met ons Boeke- en Vrye Tyd-bladsye propvol vermaak en inligting.


BOEKE

Deborah Steinmair lees graag oor karakters wat hul vaardigheid blink geslyp het. 

Meesters van moord en veeltaligheid


Louis Gaigher bring hulde aan ’n rare, blink vos van ’n skrywer.

Die skrywer as vos: Dubravka Ugrešić


Kerneels Breytenbach deel weer die sappigste nuwe aanbiedings op die rak met ons. 

Memoires, misdaad en ’n Nigeriese skoonma


Mareli Stolp bekyk  Sjaka S. Septembir se debuutroman met ’n houtoog.

Die bardo van bloubal April


Lees die eerste aflewering van Gerda Taljaard se aangrypende verhaal in twee episodes.

Episode 1: Die dae van die wit dahlia


Stuur jou kreatiewe bydrae aan Deborah Steinmair. Hierdie week trakteer Emma Steynberg ons op twee sketse.

’n Pie-storie en ’n storie oor ’n geel wa


VRYE TYD

Elna van der Merwe en David Kramer gesels kopstukke.

David Kramer gaan soek stories en musiek Ver in die Wêreld


Louis de Villiers spoel mond uit oor skeidsregters.

Is dit die refs of is dit die verspotte reëls?


Henk Serfontein skryf oor Marsi van de Heuvel se kuns.

Haar kuns kleur in wat geskiedenis wou uitvee


Elna van der Merwe stel 15 vrae aan Antoinette Kellermann.

15 vrae aan Antoinette Kellermann


Gerhard Greyvensteyn ondersoek kluitjies oor kulture heen.

Die hele wêreld bak kluitjies

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.