Verdagtes in moord op Wendy Kloppers sterf in skietgeveg

WOENSDAG MET WILLEM

Verdagtes in moord op Wendy Kloppers sterf in skietgeveg

ANNELIESE BURGESS berig oor die vermeende moordenaars van een van die land se bekendste slagoffers van konstruksiemafias. WILLEM KEMPEN verken die moontlikhede van kulturele veganisme, en daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 10 April 2024
  • Daagliks
  • 4 min om te lees

Goeiemôre!

Anneliese Burgess | Wendy Kloppers se vermeende moordenaars doodgeskiet

Wendy Hendricks Kloppers se vermeende huurmoordenaars is sowat drie weke gelede in 'n skietgeveg met die polisie in Kaapstad dood, het betroubare bronne gister aan Vrye Weekblad bevestig. Speurders het kort tevore inligting ontvang wat hulle op die spoor van die verdagtes geplaas het, maar dis onduidelik waarom dit nou eers aan die lig kom en hoeveel van hulle doodgeskiet is.

Kloppers was ’n inspekteur van die Stad Kaapstad se departement van omgewingsake wie se dood landwyd opslae gemaak het. Sy is in Februarie verlede jaar op 'n kort afstand deur die voorruit van haar wit BMW by 'n bouterrein in Delft doodgeskiet tydens ’n roetinebesoek om die luggehalte na te gaan by een van die Stad Kaapstad se mees ambisieuse laekoste-behuisingsontwikkelings.

Kloppers, ’n pligsgetroue munisipale amptenaar met 25 jaar diens, was die sesde slagoffer op dié perseel van die sogenaamde konstruksiemafia, misdaadbendes wat landwyd aktief is en omkoop- en beskermingsgeld op bouterreine eis.

Malusi Booi, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, het ten tyde van die moord gesê die stad gaan gebuk onder afpersing, misdadigheid, vandalisme, gemeenskapsonrus en onwettige besetting by 12 behuisingsprojekte oor die metro heen.


1. Jacob Zuma mag as 'n kandidaat van die MK Party in die verkiesing staan, het die Verkiesingshof gister beslis. Die OVK het vroeër gesê Zuma mag nie ’n kandidaat wees nie omdat vyftien maande tronkstraf aan hom opgelê is weens minagting van die hof.

2. Eskom sal die publiek teen einde April inlig oor hoeveel beurtkrag in die winter op die land wag, het Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, gister gesê. Hy het die afgelope byna twee weke sonder beurtkrag aan die volgehoue beskikbaarheid van opwekkingskapasiteit, genoeg noodreserwes en lae aanvraag gedurende die Paasnaweek toegeskryf.

3. Nuwe regulasies oor werksvisums wat op 28 Maart in die Staatskoerant aangekondig is, sal hersien word en weer gepubliseer word. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het erken dit was 'n fout om die regulasies te publiseer net 'n dag voordat die sperdatum vir openbare kommentaar op die konsepweergawe verstryk het.

4. MTN is in Brand Finance se nuutste opname as Suid-Afrika se waardevolste handelsmerk aangewys, gevolg deur VodacomStandard Bank en Nando's

5. Meer as 100 000 mense in Rusland en Kazakstan is beveel om hulle huise te ontruim nadat smeltende sneeu tot die ergste oorstromings in die gebied in minstens 70 jaar gelei het. Riviere soos die Oeral en die Tobol het binne ure gestyg tot die hoogste vlakke wat al aangeteken is.

6. Arizona se hoogste hof het beslis dat 'n aborsiewet uit 1864 opnuut van krag is nadat dit dekades lank nie afgedwing is nie. Dit verbied aborsie in feitlik alle gevalle in 'n deelstaat waar dit reeds net in die eerste 15 weke van swangerskap wettig is. In 1864 was die Amerikaanse Burgeroorlog nog aan die gang en het Arizona se vroue nog nie eens stemreg gehad nie.

7. Istanbul-lughawe, een van die wêreld se besigste vervoersentrums, het vyf opgeleide dienshonde in gebruik geneem om angstige reisigers te help kalmeer. Die terapie sluit in dat mense hulle kan vryf of net hallo sê, het AP berig.


Dit lyk of die reënbuie voortbeweeg het, behalwe vir dele van die Wes- en Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Die res van die land is vandag deels bewolk tot bewolk en koel tot warm.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 24°C • Johannesburg 22°C • Mahikeng 24°C • Mbombela 25°C • Bloemfontein 21°C • Polokwane 25°C • Kimberley 22°C • Upington 27°C • Kaapstad 18°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 21°C • Durban 25°C.


Biegrede van ’n kulturele veganis


Selfs die afvalliges spot nie meer dat die afkorting “C.H.O." eintlik vir Chips, Hamburgers en Ontug staan nie. Dis nie meer nodig om daaroor grappies te maak nie, want niemand noemenswaardig verwys meer amptelik na hulleself as kruisvaarders vir Christelike Hoër Onderwys nie. En in elk geval is almal dit deesdae eens dat Die Eet van Vleis in die vorm van hamburgers 'n groter sonde is as om jou buurman se esel of diensmaagd te begeer, if ever that was a thing.

Tog sien mens nog dikwels die nasate van CHO en sy jonger boetie, Christelike Volkseie Onderwys, iewers rondhardloop (hulle onderskeie gades is natuurlik mede-verantwoordelik vir die aanwas).

Lees die volle brief hier.


jeugfoto

’n verbleikte foto van ons wys ek en jy
is tienermusikante – ek met ’n tjello,
jy die dwarsfluit – Jik-wit hemde, moue wyd.
ons speel hysbakmusiek op ’n skoolsaalverhoog –
die dandy duo van ’n plattelandse myndorp
(in die skaakbordvierkant “moffies”, kant en klaar).
die aand van daardie foto onthou ek nie,
maar ek merk dat ek glimlag vir jou “Memory”
op die maat van my basso continuo.
soms is ’n oomblik ’n ganse bestaan,
uitgevoer, toegejuig, die gehoor huiswaarts.
jou fluit is in stukke vandag en ek aarsel
met my tjello voor die foto op my kas
– ’n bewys dat ek en jy eens musiekmakers was.

– Jaco Barnard-Naudé

Uit: Facebook

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.