Ons gaan ons onsekerste verkiesing tegemoet

DONDERDAG MET BOUWER

Ons gaan ons onsekerste verkiesing tegemoet

BOUWER BOSCH gaan voortaan gereeld vir ons skryf; lees hieronder sy eerste geselsbrief. WILLEM KEMPEN wonder of 'n nuwe soort regerende alliansie dalk op ons wag, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 11 April 2024
  • Daagliks
  • 5 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die organisasie Freedom Under Law (FUL) het die Verkiesingshof gevra om volledige redes te gee vir die beslissing waarvolgens Jacob Zuma weer bo-aan die MK Party se kandidatelys mag verskyn.

2. Motoriste wat agterstallige e-tolskuld het, sal steeds daarvoor aanspreeklik wees nadat die tolhekke in Gauteng môre amptelik afgeskakel word, het Panyaza Lesufi, Gautengse premier, gister in Centurion gesê. Hy gaan glo later bekendmaak presies hoe dié reëling afgedwing gaan word. 

3. Die MK Party het Bonginkosi Khanyile uit sy pos as tussentydse jeugleier verwyder. Geen rede is vir die stap gegee nie, maar Khanyile is in die spervuur sedert hy gesê het “daar sal geen verkiesings wees sonder MK en [Jacob] Zuma nie”.

4. Pres. Xi Jinping van China het aan die besoekende oudpres. Ma Ying-jeou van Taiwan gesê geen invloed van buite kan uiteindelik in die pad staan van 'n “familiereünie" tussen die twee lande nie, en dat daar “geen kwessies is wat nie bespreek kan word nie". Ma word in sy tuisland verkwalik dat hy nie tydens sy besoek aan China sterker klem op Taiwannese soewereiniteit gelê het nie.

5. Die jongste Amerikaanse inflasiesyfers dui daarop dat die Fed dalk vroeër te optimisties was oor die vooruitsigte vir spoedige laer rentekoerse, het Reuters berig.

6. Israel het tydens gesprekke oor 'n skietstilstand in Gaza sekere toegewings in beginsel gedoen, maar is nie oortuig dat Hamas werklik in 'n ooreenkoms belang stel nie, het bronne aan Reuters gesê. Israel is  glo te vinde vir 'n Amerikaanse voorstel dat 150 000 Palestyne sonder verdere veiligheidskontroles na die noorde van Gaza mag terugkeer in ruil daarvoor dat Hamas 'n lys uitreik van al die vroulike, bejaarde en siek gyselaars wat hulle nog aanhou. 

7. Byna 'n halfmiljoen Amerikaanse studente op negentig kampusse het nou al deelgeneem aan die jaarlikse Marriage Pact wat in 2017 by Stanford begin het, en dit word steeds gewilder, berig AP. Dit behels dat twee studente op grond van 'n vraelys met mekaar in verbinding gestel word, en dan onderneem om met mekaar te trou as hulle nie teen 'n bepaalde toekomstige datum of ouderdom reeds met iemand anders getrou het nie.


Daar is 'n waarskuwing teen skadelike wind en golwe langs die KwaZulu-Natalse kus waar buie en donderbuie ook verwag word. Dis vandag deels bewolk tot bewolk en koel tot warm oor die meeste dele van land hoewel ligte reën oor dele van Limpopo en die Oos-Kaap verwag word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 22°C • Mahikeng 23°C • Mbombela 20°C • Kaapstad 22°C • Durban 21°C • Kimberley 21°C • Bloemfontein 20°C • Polokwane 22°C • Upington 26°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 20°C.


Willem Kempen | Wag ’n nuwe regerende alliansie op ons ná die verkiesing?

Nog 'n week, nog 'n peiling oor moontlike politieke steun in die verkiesing wat om die draai is, en nog 'n gestry oor hoe ernstig ons dit moet opneem: Hoe wetenskaplik is die metodologie? Hoe groot is die steekproef? Wie finansier hulle? Maak die uitslae enige verskil aan hoe mense gaan stem? (Gaan lees gerus weer wat Piet Croucamp in Februarie oor verkiesingspeilings geskryf het.)

Dié week se peiling is deur die Social Research Foundation. Vir wat dit werd is, hier is die syfers oor nasionale steun:

ANC 37%; DA 25%; MK 14%; EFF 11%; IFP 5%; ActionSA 2%.

Indrukke: Nogmaals is MK se wins die ANC en selfs die EFF se verlies; die DA sal salig gelukkig wees as hulle selfs net naby dié syfer van 25% kom; dinge gaan al hoe rowwer raak in die provinsies waar van die groot partye se steun gekonsentreer is; MK en die EFF se steun is saam dieselfde as die DA s'n.

'n Heftige storm woed in die DA se teekoppie oor samewerking of 'n koalisie met die ANC. Daar is nie veel tekens van 'n soortgelyke debat in die regerende party nie. Hoekom sal daar wees, as selfs 'n morsige alliansie met MK en die EFF met minder pynlike kompromieë vir die ANC sal gepaard gaan?

Dalk wag daar selfs 'n nuwe Tripartite Alliance op ons, dié keer tussen die ANC, MK en die EFF. Met aan die verloorkant 'n lang lys van partye wat net naïwiteit en verspeelde geleenthede gemeen het.

(Kyk in môre se uitgawe uit vir Max du Preez se ontleding van 'n klompie permutasies van samewerking tussen die partye.)



Die dag toe ek die rebelse Jesus by my padel-klub raakloop

Nou die dag loop ek vir Jesus raak by my gunsteling-padelklub. Ek het nog altyd geweet hy hou van dien, maar nie geweet hy speel toernooie nie. Hy het hierdie informele toernooi sommer tussen hom en die twaalf dissipels gereël om bietjie weg te kom van al die geraas op sosiale media nadat hy mos oor Paasnaweek daai een prostituut se voete gewas het.

“Kyk, jy kan vir almal se sondes sterf maar moet net nie ’n prostituut se voete was nie,” skerts hy. “Mense kruisig my toe sommer weer en vergeet van daai lekker kuier waar ek vir almal verniet brood en vis gegee het.”

Lees die volle brief hier.


Stillewe met gedekte tafel

Maar kýk die dag
hoe wit mélk die wind
hoe skei die botter skei die wei
waai vensters oop
vir die nat blink druiwende wind
die herfs het gekom met perskes son
en die eerste jong wit steek van winterwyn.

– Sheila Cussons

Uit: die asem wat ekstase is

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.