In die institusionele geheue ingebak: energiek, stroomop,...

TEMPLAAT VIR DIE TOEKOMS

In die institusionele geheue ingebak: energiek, stroomop, ruimhartig, woke

Toe HANS PIENAAR weer ná meer as 30 jaar by Vrye Weekblad aansluit, was dit opmerklik hoe sekere dinge nie verander het nie.

EK onthou dit nog soos gister, die dag toe ek besef het ons het ’n onafhanklike Afrikaanse anti-apartheidskoerant nodig. Die geleentheid was die publikasie van my en Hein Willemse se Die Trojaanse Perd, met onderhoude en artikels oor die berugte moorde op kinders van agter ’n spoorwegpolisietrok in 1985. Die uitgewer, Taurus, het nie juis omgegee oor of geweet van bemarking nie en jy moes maar voetslaan om jou publikasie te versprei.

So beland ek voor Anton Harber, die redakteur van die Mail & Guardian, wat ook die boekeblad behartig het. Die polisie was op ons spoor en ek het gehoop op eenvoudige solidariteit. Harber het egter die boeke oor sy lessenaar gesmyt en gesê: “WTF must I do with this.” 'n Ander senior man, Adrian Hadland, het die persverklaring opgeraap en begin spot met 'n woord wat hy gemeen het verkeerd gebruik is.

Nou ja, lang storie kort, almal van ons met soortgelyke gewaarwordings in die 1980’s het na mekaar gegraviteer, en terwyl die meeste van ons in die gees van daardie tyd nog praat van roterende redakteurs en kollektiewe besluite, het Max du Preez na vore getree en Vrye Weekblad met 'n tradisionele redakteur, hy self, op die been gebring.

Ons was 'n klomp weerbarstige mense en dus was die VWB-milieu een van meningsverskil, mekaar verkeerd opvryf en groot ego’s. Die beste talent in die Afrikaanse joernalistiek het die een ná die ander hul tydjie kom werk en weer vertrek – die “churn” was hoog. Nou ná al die jare is dit egter duidelik, dit was ’n tyd waarin groot ego’s nodig was, daar was geen ander manier waarop VWB kon oorleef nie.

Natuurlik het dit om die persoon van Max gedraai – elkeen het naderhand ’n Max-storie gehad. Maar elkeen van daardie stories is altyd gebalanseer met Max se ander sy, van ’n ruimhartige gees wat met die grootste nuuskierigheid op enige onkonvensionaliteit gereageer het. Hy kon met gemak die tradisionele Boerseun wees en terselfdertyd en sonder omhaal hom skaar by die randeiers van ons samelewing: enigiemand van ’n transgender skisofreen tot ’n bode wat digter wil word.

Wat ek veral van daardie tyd onthou is die geweldige geestesenergie wat losgelaat is, maar ’n plesierige variasie daarvan, soos ook uitgedruk in die Voëlvry-toer. Dit het gedemonstreer: Verandering kan dalk nie sonder pyn geskied nie, maar dit gaan definitief ’n jol wees.

Ek ook het my amper ’n  jaar as nuusredakteur deurgebring en toe die fout van my lewe gemaak, om my vertroue in die Afrikaner-establishment te plaas en Rapport toe te gaan, toe die gerug loop dat ’n ou mentor van my redakteur sou word en ’n verligte koerant sou uitgee. Pleks daarvan was dit Izak de Villiers in 'n regse gedaante – maar dis 'n storie vir 'n ander dag.

’n Hele loopbaan later het ek weer by VWB aangesluit, en al die ooreenkomste met die eerste iterasie was opmerklik: Weereens ’n klomp sterk persoonlikhede met dinamiese selfbeelde, groot talente met stewige CV’s, almal met die potensiaal vir gedurige koppestamp. Max was steeds baas, hy het ons gebiljoen en daarom het ons mekaar gebiljoen; die enigste plek waar Max nie gaan biljoen nie, is sy boedel.

Die friksie en spanning van destyds was egter weg. Ek is steeds verwonder dat ons spannetjie so goed oor die weg gekom het. Lewenservaring tel seker, en so ook dat ons almal op dieselfde politieke golflengte was. Maar dit het ook te doen gehad met daardie ruimhartigheid, daardie grootgeestigheid wat ingebak is in VWB se institusionele geheue.

Verbeelding was aan die orde van die dag, en so ook grappigheid. So sterk was die vloei op ons WhatsApp-produksienet van kwinkslae, swetsery en gekskeerdery dat Ali van Wyk, van alle mense, ons op ’n kol tot orde probeer roep het. VWB was ver van perfek, soms frustrerend selfs, maar ek glo dat hierdie uitbundige gees van kreatiwiteit die eintlike impak van VWB was.

Daar is die ander konstante kenmerk van VWB, van toe en nou: Die politiek-morele kompas wat ons veral in Max se skrywes gekry het. Terwyl jy nog wik en weeg oor T’s & C’s, het hy al die saak namens jou gestel: In forse, heldere en aantreklike taal. So ook Piet Croucamp en Ali van Wyk, om maar net twee ander skrywers te noem. 

’n Goeie voorbeeld was Max se verklaring dat hy woke is. Agterna moes jy saamstem: Dis so eenvoudig soos dit, ons is woke soos in die oorspronklike betekenis van die woord uit die 1960’s: Wakker oor die onreg wat aan groepe mense gedoen word. Maak nie saak wie of wie nie – AfriForum is die wakkerste beoefenaars van woke, hulle weet dit net nie – VWB was altyd daar vir almal van hulle, nie net vir die eie groep nie.

Hierdie morele kompas sal ek in my sak bly dra, en so ook, glo ek, VWB se opvolgers, want hulle gaan beslis daar wees in watter vorm ook al, daarvoor was VWB se impak net te sterk.

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.