Nostalgie vir ’n ou Toyota

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Nostalgie vir ’n ou Toyota

Haar fietsryery in Nederland is beter vir die omgewing, maar die hemel weet, sommige dae mis sy nog haar ou, betroubare Toyota wat spontane trips na vriende, die strand en eindelose teater- en restaurantbesoeke in Suid-Afrika moontlik gemaak het, skryf ANESCA SMIT.

  • 18 Maart 2023
  • Daagliks
  • 4 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Dagsê vriende

Toe ek in 2008 Londen toe trek om as buitelandse korrespondent te werk, verkoop ek álles.

Wel, alles van waarde wat aandui dat jy nou ’n volwassene met ’n maandelikse salaris is.

Soos my woonstel in Goodwood wat ek nog vir ’n appel en ’n ei by die vorige eienaar gekoop het en my ou Toyota. Nie omdat ek gedink het ek waai nou en kom nooit weer terug nie, maar omdat ek my wou losmaak van besittings en ligter deur die lewe wou stap.

Oor die woonstel is ek nie spyt nie, maar elke nou en dan raak ek nostalgies vir my kar.

Die eerste motor in my ouerhuis was so ’n oranje Toyota met fake fur-sitplekoortreksels – hel in die middel van 'n Bolandse somer. Wat ek van dié kar onthou, is dat my ma, ’n onderwyser by die plaaslike laerskool, byna elke oggend laat was en hoe daar met skreeuende bande om die draaie gejaag is terwyl ek op die agterste sitplek rondval sans sitplekgordel − want ja, dit was die 1980's.

My man – wat fanaties oor veral vinnige motors is – sal dit nooit erken nie, maar ek is verreweg ’n beter bestuurder as hy. Kalmer en boonop uitstekend as dit kom by parallelparkering.

Alles te danke aan die eerste paar jaar as joernalis toe ek die Wes-Kaap moes platry agter stories aan. Ek het meer gery as geskryf. Soms só diep die platteland in dat ek moes oorslaap. Gelukkig nie in die kar nie.

Die koerant het ’n parkeerplaats vol karre gehad. Tough luck as jy die dag een van daardie outydse Citi Golfs gekry het. Ek het eendag amper in ’n muur vasgefoeter omdat die ding se pedale so smal is dat ek op die petrol in plaas van die rem getrap het. Ook nie so handig as jy jou op ’n plek bevind waar jy jou vinnig uit die voete moet maak nie, soos midde-in ’n bendeskietery op die Kaapse Vlakte.

’n Paar maande ná my studies koop ek my eerste motor en ’n wêreld van vryheid gaan vir my oop. Selfs al staan jou bankrekening op nul net voor die einde van die maand, was daar altyd nog ’n bietjie petrol in die tenk om na ’n vriendin se huis te ry en lekker te kuier.

’n Kar het spontane trips na die strand moontlik gemaak − vensters wyd oop, musiek wat uit die luidsprekers blêr – en om laataand vriende of ’n moontlike liefde vir drankies te ontmoet. Eindelose teater- en restaurantbesoeke.

Voertuie maak finansieel natuurlik nie soveel sin nie. Dis duur om te koop, duur om te onderhou en die waarde styg nie met die jare nie. En dis sleg vir die natuur.

Die fiets wat ek nou gebruik om heen en weer werk toe te ry is veel beter. Maar die hemel weet, sommige dae mis ek nog daardie ou, betroubare Toyota van my.

Mooi naweek

Anesca


Dis weer naweek en oor minder as 'n maand vier ons boekefees in Cullinan! Bespreek nou jou kaartjies by Quicket. En vier solank fees met ons Boeke- en Vrye Tyd-bladsye propvol vermaak en inligting.


BOEKE

Kom kyk hoe sewe vroueskrywers die pot roer. Michèle Meyer is die Moer in, Marida Fitzpatrick is so bitter soos Mara, Renée Rautenbach Conradie hys Die Vierkleur in Parys, Gerda Taljaard is so uitgeslape soos een van Vier susters, Bettina Wyngaard gaan vir jou in 'n Lokval lei, Celeste Theron sal jou Helder oordag laat droom en Emma Bekker gaan onder jou Vel kom. Hulle deel hulle geheime met Deborah Steinmair. 

Kliek hier om die volle program te sien.


Deborah Steinmair skryf oor aweregse vroue wat weier om in te pas.

Vroue wat nie aan verwagtings voldoen nie 


Gielie Hoffmann bespreek Alexandra Fuller se meesleurende oeuvre.

Om onder ’n stukkende stoepdak na ’n krokodil te sit en staar


Lees Dianne du Toit Albertze se kortverhaal oor  Girla van die Vlei en 'n Judaswindjie.

Die kerkhoed


Kerneels Breytenbach deel sy wenslys en toekomsmusiek. 

Knutselwerk en memoires


Lees die voorlaaste aflewering van Zirk van den Berg se vervolgverhaal.

Episode 7: Wat op dees aarde is Projek Morpheus?


Sjaka Septembir en Igno van Niekerk deel hulle gedigte.

Was ek maar ’n digter


VRYE TYD

Louis de Villiers tel die dae tot die Wêreldbeker-rugbytoernooi en verlekker hom in die Pommies se geploeter.

Dis nog net 207 slapies


Madeleine Barnard deel haar voorliefde vir vintage-klere.

Verleiding uit die oude doos


Renée Rautenbach Conradie kuier by kunstenaar Johan van Heerden.

Beeldhouer Johan van Heerden: “Ek is tevrede"


Melvyn Minnaar besoek Twee Jonge Gezellen.

Kuns en wyn in die Tulbagh-vallei


Elna van der Merwe vra vir Chase Rhys die kuns af.

15 vrae aan Chase Rhys

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.