Basta met later pensioen – jy moet die lewe geniet! Of hoe?

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Basta met later pensioen – jy moet die lewe geniet! Of hoe?

Met die Franse wat protesteer oor hul verhoogde pensioenouderdom (van 62 tot 64) en Nederlanders wat skynbaar lakoniek daaroor is, het ANESCA SMITH gewonder of die een nasie nie dalk saai is en die ander weet hoe om die lewe te geniet nie. DEBORAH STEINMAIR herinner jou aan ons Cullinan-boekfees in April en vertel meer oor ons jongste Boeke- en Vrye Tyd-stories.

  • 25 Maart 2023
  • Daagliks
  • 4 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Dagsê vriende

Il faut profiter de la vie (jy moet die lewe geniet).

Dít is die reaksie wat jy veel hoor as jy die Franse vra waarom hulle so hewig gekant is teen die feit dat hulle nou later op pensioen moet gaan.

Die afgelope week was daar massa-proteste in die hele Frankryk hieroor. Die regering wil naamlik die pensioenouderdom van 62 na 64 jaar verhoog en het besluit om dié hervorming deur te voer sonder dat daar in die parlement gestem word uit die vrees dat dit nie genoeg steun sou kry nie.

In Nederland word die pensioenouderdom al sedert 2013 stapsgewys verhoog. Vanjaar is dit byvoorbeeld 66 jaar en 10 maande. Volgende jaar kry jy eers ’n staatspensioen as jy 67 jaar oud is.

In teenstelling met die Franse is Nederlanders taamlik lakoniek oor die feit dat hulle elke jaar ’n bietjie langer moet werk voor hulle op pensioen geregtig is. Hoekom, vra ek my man. Nederlanders hou optogte oor die regering se klimaatsbeleid, oor die land se behuisingskrisis en teen rassisme en diskriminasie. So waarom nie oor die verhoogde pensioenouderdom nie?

Hy dink dit het met kultuurverskille te make: Kortom, die Franse is lui en Nederlanders is hardwerkend. Hier in die lae lande word die oë ’n bietjie gerol as ons hoor dat daar al wéér protesoptogte in Frankryk is. ’n Land waar die werkweek immers reeds tot 35 uur teruggedwing is.

Ek sê maar nie wat ek dink nie, naamlik: Nederlanders is saai en die Franse weet hoe om die lewe te geniet. Die Nederlandse gesegde: “Doe maar normaal, dan doe je al gek genoeg” getuig daarvan. Bly bedees en moet jou om hemelsnaam nie uitspattig loop en gedra nie.

Is die feit dat Nederlanders minder oor arbeidsprobleme protesteer dus ’n teken dat hulle dit meer geniet om te werk as die Franse? Ek twyfel. Al wat ek weet, is dat kapitalisme met veel meer geesdrif hier as in Frankryk omarm word. Miskien noodgedwonge omdat Nederland so ’n klein landjie is en van ouds af afhanklik is van handel en die innoverende werksvaardighede van sy bevolking eerder as grondstowwe?

Toevallig is die 2023-Wêreldverslag oor Geluk ook dié week uitgereik. Nederland staan vyfde op die ranglys en Frankryk 21ste. Finland is nommer een van gelukkigste lande. Soos gewoonlik word die eerste 10 plekke deur Europese lande oorheers – net Israel (4) en Nieu-Seeland (10) is buite Europa.

Terselfdertyd het ’n ander verslag – van die Gallup-navorsingsgroep – verlede jaar getoon dat Europeërs ongelukkiger is oor hulle werk as werkers in enige ander deel van die wêreld. Net 14% staan soggens met genoegdoening en tevredenheid op om kantoor toe te gaan – die res karring maar aan.

Ek vra my man of, as hy môre ’n paar miljoen euro wen, hy onmiddellik sy werk sal opgee. “Nee,” kom die antwoord, “dit lyk vir my ook saai om die hele dag niks te doen nie. Ek sal wel minder ure werk en meer met vakansie gaan.”

Miskien lê die antwoord in ’n balans tussen die Nederlandse en Franse opvatting oor werk.

Mooi week

Anesca


Eersdaags vier ons boekefees in Cullinan! Bespreek nou jou kaartjies by Quicket en bespreek verblyf vir die hele naweek! Kliek hier om die volle program te sien. En vier solank fees met ons Boeke- en Vrye Tyd-bladsye propvol vermaak en inligting.


BOEKE

Deborah Steinmair kan nie slaap nie en wonder wat gaan aan by die bure in die stikdonker nag. Sy skryf twee huishoudelike rillers voor.

Swart soos noir is die beurtkragnag


Mercia S. Burger volg die voetspoor van Zelda Fitzgerald se gefolterde laaste dae. Lieflike, aangrypende skryfwerk.

Dearest Do-Do, the hills are steeped in cosmic regret


Nanette van Rooyen raak liries oor die jongste Salman Rushdie-boek.

Pienk apies, ’n swanger padda, mirakels en die fluistering van fiksie


Kerneels Breytenbach, ons letterkundige smulpaap, onthul die jongste treffers op die boekrak.

’n Taai klap, tyd, fopnuus en eko-aktiviste


Joan Hambidge, ons letterkundige, vertel waarom Jochem van Bruggen nog trefkrag het in hierdie dae.

Waarom is Ampie nog relevant?


Lees die laaste aflewering van Zirk van den Berg se vervolgverhaal oor moord en gekonkel op 'n afgesonderde kusdorpie.

Episode 8: Wie is mevrou Wepener werklik?


VRYE TYD

Almal van ons is nie altyd vlymskerp nie, maar dit help as jy vir jouself kan lag, skryf Zirk van den Berg.

Stories oor simpelgeit


Louis de Villiers reken City Football Group kan dalk een van ‘daai aaklige wêreldwye brands’ soos KFC word.

Fifa se besnede vyf-voet-tien-penis


Elna van der Merwe verskaf riglyne vir gedrag op sosiale media, sodat jy nie jou naam met 'n plank slaan nie.

15 reëls as jy sosiale media gebruik


Aletta Lintvelt vertel hoe jy jou lyf met gesonde kos kan regdokter. 

Kos is nie kasterolie nie


Kerneels Breytenbach vertel hoe Pink Floyd rockmusiek 'n ander rigting laat inslaan het met The Dark Side of the Moon.

Pink Floyd blaas ons ore oop

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.