Mag wysheid maar met grysheid kom vir Nederland se koning

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Mag wysheid maar met grysheid kom vir Nederland se koning

Aan die vooraand van Willem-Alexander se verjaardag, en ná 10 jaar op die troon, skryf ANESCA SMITH oor die koning se blapse. DEBORAH STEINMAIR gee ’n kykie op vandeesweek se Boeke- en Vrye Tyd-stories.

  • 08 April 2023
  • Daagliks
  • 4 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Dagsê vriende

Dis nege jaar gelede geneem, maar daardie één foto agtervolg koning Willem-Alexander van Nederland steeds.

Dit was 2014 en die Olimpiese Winterspele is in volle gang in Rusland. Die Nederlandse koningsegpaar is ook daar en op een van die foto’s kan gesien word hoe hulle al laggend ’n lekker biertjie met Vladimir Putin aan die drink is. Proost.

Daardie foto het intussen sy eie lewe begin lei. Die koning probeer homself nog verweer. Eers verontwaardig: Hoe moes hy nou in hemelsnaam geweet het Putin sou ’n maand later die Krim binneval? Of dat pro-Russiese militêre ’n paar maande later vlug MH17 uit die Oekraïniese lugruim sou skiet? ’n Vlug waarin 192 Nederlanders omgekom het.

Nege jaar later voel hy hom genoodsaak om weer dáárdie foto te verduidelik. Nou meer gelate. Ag ja.

Want die koning (55) sit dié maand 10 jaar op die troon en om dit te vier maak hy ’n reeks podsendings oor koningskap. Die do’s en don’ts. Hy het veral ervaring met die don’ts. Skaats voortdurend op dun ys in ’n land wat hom toenemend afvra of koningskap in 2023 nog wenslik en paslik is.

Anders as die arme Charles het Willem-Alexander se ma, Beatrix – wat al dekades dieselfde valhelm-kapsel dra – hom nie 73-jaar laat wag voor hy die leisels kon oorneem nie. Nóg ’n gelukskoot is dat die wêreld so behep is met al die skandale rondom die Britse koningshuis dat niemand hulle veel steur aan wat die Europese koningshuise – dié wat nog bestaan – aanvang nie. Allermins die koninklikes in ’n klein landjie soos Nederland.

Willem-Alexander lyk na ’n hartlike man met ’n breë glimlag, rooiblonde hare en ’n rooiblonde baard wat hy laat uitgroei het toe baarde ’n paar jaar gelede nog hip was. Sy pakke is nooit nommerpas nie, meestal effens te ruim. Sy glansryke vrou, Maxima, het al na hom verwys as “’n bietjie dom”. Ongelukkig is hy ook iemand wat keer op keer bewys dat hy heeltemal uit voeling is met sy onderdane en ook nie soveel belangstel om in voeling te wees nie.

Neem byvoorbeeld die corona-pandemie. Terwyl die hospitale vol lê en die hele land op slot is, besluit hy, sy vrou en hul drie tienerdogters om met ’n privaat vliegtuig na Griekeland te verkas vir ’n vakansie in die son.

Die ophef onder die volk is egter so heftig dat hulle ná ’n dag of twee dikbek terugkeer. Dié keer, ewe teatraal, in ’n gewone KLM-vliegtuig. ’n Paar dae later kry ons ’n openbare boetedoening: Skuus, julle. Dan duur dit ’n paar maande voor hy weer in die goeie boekies van die volk is.

Jy kry die gevoel hy wil nie eintlik koning wees nie, maar is dol op die plesiertjies wat die pos meebring: ’n peperduur speedboat, ’n jaarlikse toelaag van meer as ’n miljoen euro, geen belasting nie, nog ’n paar miljoen om al die paleise in stand te hou.

Op 27 April is dit Willem-Alexander se verjaardag. Die koning is ’n jaar ouer en, kom ons hoop, veral wyser. Anders sien sy 18-jarige dogter dalk nooit die troon nie. Nie dat dít nou so ’n ramp sou wees nie.

Mooi naweek

Anesca


VWB SE CULLINAN-BOEKEFEES

Oor 'n week vier ons Vrye Weekblad se boekefees in Cullinan. Elke gesprek kos R90 en kaartjies sal by die deur ook te koop wees. Luister hier na my gesprek op RSG met inligting oor die fees. Onthou om plek te bespreek vir ons twee uithaler-etes: Frik de Jager en Lientjie Wessels s'n. Vir Frik se ete bespreek jy op Quicket, vir Lientjie s'n by haar: 082 531 6141.

Kliek hier vir die volledige program. 


Deborah Steinmair gesels met Pieter P. Fourie oor sy nuwe boek wat eersdaags verskyn, Ons skulde

Die seuntjie in sepia teen die klipmuur in Clarens


Kerneels Breytenbach deel soos gewoonlik nuus oor die jongste opwindende internasionale publikasies.

KI, koppesnellers, selfhelpers en selfdood


Lees die slotaflewering van Gerda Taljaard se verhaal oor vriendskap en onverwagse liefde wat vervlietend is. 

Episode 2: Die dae van die wit dahlia


Deborah Steinmair skryf oor vreeslose, vloeibare vroue wat hulle nie laat voorskryf het nie.

Letterkundige lesbians en appelkoosdrome


Joan Hambidge besin oor klassieke en hedendaagse boeke. 

Wat maak van ’n boek ’n klassieke teks?


Benoemde skrywer Dianne du Toit Albertze deel 'n verhalende gedig. Stuur jou kreatiewe bydrae aan Deborah Steinmair.

’n Vrou wat aanhou stap


VRYE TYD

Laureen Rossouw vra bekendes om hul kristalballe af te stof.

Oor 20 jaar: Ons kyk terug en vorentoe


Douw Steyn reël sy eie begrafnis en dit laat hom vergeet van sy kwale.

G’n Abba, g’n begrafnis


Laureen Rossouw stel 15 vrae aan die Liedjieboer.

15 vrae aan Anton Goosen


Aletta Lintvelt smag na outydse melktert, maar hoe gemaak sonder suiwel, meel of suiker?

Moderne melkpoedings vir outydse nostalgie


Louis de Villiers het eers later 'n Bul-ondersteuner geword, mits hulle nie teen die Stormers speel nie.

Vriende, Pretorianers, landgenote: Ek is hier om die Bulle te prys, nie te begrawe nie

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.