Hier’s ons weer: haweloos, maar vuis omhoog

DONDERDAG MET ALI

Hier’s ons weer: haweloos, maar vuis omhoog

Soos alle ander Afrikaanse mense ouer as vyftig onthou ALI VAN WYK elkeen van die drie kere wat Vrye Weekblad toegemaak het. Daar is ook weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

KEEP ON TUCKIN' | Don't touch me on my studio, sê onse Angela.

Kliek hier om te lees


1. Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, het 'n konsepdokument van 26 bladsye uitgereik met die oog op die sogenaamde Transformation Fund van R100 biljoen. Die publiek het 30 dae om daarop kommentaar te lewer. Onder andere die DA en Business Unity SA is sterk teen só 'n fonds gekant.

2. Eskom het gisteraand fase 2-beurtkrag aangekondig wat tot vanoggend om 05:00 van toepassing sou wees. Dit is glo genoodsaak deur die verlies van vyf opwekkingseenhede net voor die spitstyd in elektrisiteitsgebruik.

3. Die saak teen die Oos-Kaapse taxibaas Gabs Mtshala is gistermiddag in die Oos-Londen-landdroshof teruggetrek, slegs enkele ure ná sy inhegtenisneming. Mtshala is 'n bondgenoot van Yakhe Kwinana, 'n voormalige voorsitter van SAA Technical sowel as 'n raadslid van die lugdiens self. Inwoners van Bhongweni in Oos-Londen het beweer dat Mtshala gewapende wagte gereël het om Kwinana te beskerm nadat hulle beswaar gemaak het teen huur betaal op grond wat glo aan haar behoort.

4. Die gedragsowerheid vir die finansiële sektor werk aan ’n plan om biljoene rande se onopgeëiste aftree-, skeidings- en sterftevoordele vir armoedeverligting in te span. Unathi Kamlana, kommissaris van dié owerheid, het aan Bloomberg gesê 'n totale bedrag van R88 biljoen is ter sprake. “People are interested genuinely in getting this right because in a country with an unemployment rate such as ours, anything that provides any kind of alleviation is acceptable."

5. 'n Totaal van 67 042 mense het belangstelling getoon om na Amerika te verhuis ingevolge die aanbod wat deur 'n uitvoerende bevel van pres. Donald Trump moontlik gemaak is, volgens Neil Diamond, president van die SA Chamber of Commerce in die VSA. Die navrae was meestal van “Afrikaners tussen die ouderdomme van 25 en 45 en met gemiddeld twee tot drie afhanklikes", het Diamond aan Newzroom Afrika gesê.

6. Sielkundiges is in “voortdurende verbinding" met die span wetenskaplikes in Suid-Afrika se Sanae IV-navorsingsbasis in Antarktika, het Dion George, minister van omgewingsake, gesê in reaksie op bewerings van aanranding en seksuele teistering wat teen spanlede gemaak is.

7. Donald Trump en Volodymyr Zelensky het gister 'n “baie goeie" en “reguit" telefoongesprek van net meer as 'n uur gevoer waarin hulle die volgende stappe bespreek het om 'n skietstilstand in werking te stel en die Russiese inval in Oekraïne te beëindig. Trump het ingestem om maniere te vind om Oekraïne se lugafweerstelsels te verbeter, en Oekraïne het ingestem tot minder aanvalle op Russiese energie- en infrastruktuurteikens.


Laat ons aanhou om deur die stront te sny

Vir oulaas, dagsê geliefdes in die afvallige geledere

Ek het al soveel keer vertel wat dit vir my beteken het toe Vrye Weekblad in 1988 op die rakke van die Griek se kafee in ons dorpie in die Suidoos-Transvaal beland het, maar hier’s dit weer. Toe ek dié vreemdsoortige Afrikaanse koerant met die mooi voorblad daar tussen Beeld en The Citizen sien lê, het ek dit uit nuuskierigheid opgetel en begin lees.

Ek moes ’n paar keer stop en weer voor begin om seker te maak ek maak nie ’n fout nie. Ek is gespeen op die Afrikaans van Beeld en Huisgenoot en jeugverhale in ons piepklein bibliotekie (wat frases gebruik het soos “weerbarstige krul”).

Hier voor my was dinge wat ek nog nooit in Afrikaans gelees het nie. Dinge waaroor mense in die nag in ons dorp deur die Suid-Afrikaanse Polisie aangerand is, doodgeskiet is in Siyathemba, die township op die bult. Dit was in ’n direkte soort Afrikaans sonder die pretensie van destyds se geskrewe taal, sonder die obsessie oor ligte anglisismes, sonder om te worry oor kragwoorde waar dit spontaan en gepas was.

En dit was nie net politiek nie. Hulle het geskryf oor shows wat aangaan in Johannesburg en Pretoria, nie net musiekblyspele in die Staatsteater nie maar in plekke soos Hillbrow, veelrassige bands in klubs in Rockeystraat in Yeoville, vuige kabarette in teaters soos die Black Sun met die nuwe boerepunks wat kak maak teenoor PW, Magnus, Vlok en die res van die onverbiddelike oompies. Dit het geskryf oor queer skrywers en boeke. Ek kon  my donnerse oë nie glo nie.

Ek het dadelik gedink dit moet ’n fout wees en dat polisie met die skoolhoof en die dominee kort op hulle hakke enige oomblik hier gaan inmarsjeer en die stapeltjie koerante voor die onthutste George die Griek konfiskeer en op die sypaadjie aan die brand steek. Dit was soort van die presedent. Ek het gesien hoe kinders hulle Abba-plate verbrand nadat Rodney Seale op uitnodiging  van die Junior Rapportryers die skoolkinders die vrees van God kom inja het oor seks en Satan in popmusiek.

Maar so waar as padda manel dra, pryk dié balhorige koerantjie die volgende week weer daar op die rak, en sommer in die dorp se boekwinkel ook, wat beslis meer establishment as George se kafee was. Dit was die eerste keer wat my prille adolessente boerkind-brein kon begin verstaan dat die Nasionale Party se tyd verby was. Dat die wêreld nooit weer dieselfde sou wees nie. Wat vorentoe sou gebeur het ek geen idee van gehad nie, maar dit was ’n besonder opwindende idee.    

Dis amper onmoontlik om vir ’n millennial of selfs ’n stadsmens van daardie tyd te verduidelik hoe suksesvol die Nasionale Party se isolasie van inligting en idees selfs net 80 km buite Johannesburg was. Radio, televisie en publikasies, dus alle inkomende media-inligtingstrome, was volledig gesensureer. Die feit dat die liberale Progressiewe Federale Party nie eens die moeite gedoen het om ’n kandidaat in die Standerton-kiesafdeling aan die verkiesing te laat deelneem nie, behoort ook vir jou die leidraad te wees dat nie veel progressiewe inligting rondom braaivure gedeel is nie, behalwe miskien as mense van die “fokken kommuniste” gepraat het en dit was nou nie juis ’n betroubare bron nie.

Daar was wel comrades in die township, maar hulle het meestal net uit die Oos-Rand na ons dorp gevlug as PW ’n noodtoestand afgekondig het en hulle het letterlik onder beddens en in klerekaste weggekruip. ’n Kansie vir ’n chat was daar nou nie juis nie.

Ek kan nie eintlik veel van my emosie onthou toe Vrye Weekblad se papierweergawe dood is in 1994 nie. Ek was natuurlik jammer, maar toe was ons opgeswiep in die ontstaan van die demokrasie en mens het half gedink iets nuuts sal kom, of verskeie nuwe dinge sal gebeur wat soos Vrye Weekblad sou wees.

Maar toe Vrye Weekblad 2.0 (die eerste aanlyn weergawe) in September 2022 weer toegemaak het, was ek baie hartseer. Ek was nie deel van die redaksie nie, ek was ’n leser, en hier is ’n uittreksel van wat ek destyds op Facebook gepost het.

“Ek probeer uitpluis hoekom die tweede dood van Vrye Weekblad vir my amper erger is as die eerste keer. Dis asof iemand in my familie weg is. Toe Max en Anneliese destyds mense genader het om die ikoniese (en ek gebruik nie die cliché maklik nie) handelsmerk te laat herleef, moet ek erken dat ek een van die skeptiese siele was. Ek het gereken hulle moet eerder iets met ’n ander naam doen en Vrye Weekblad moet rus sodat die mooi herinnering van die ou papierkoerant/ -tydskrif behoue kan bly.

“Ek was verkeerd. Binne maande was dit vir my duidelik dat daar nie alleen ’n gemeenskap van lesers is wat dit nodig gehad het nie maar ook ’n gemeenskap van skrywers. Veral ’n gemeenskap van skrywers en joernaliste wat uitstekende werk doen maar wat net nie meer mooi inpas (of nooit ingepas het), by die beperkende en krimpende omgewing van die kommersiële Afrikaanse Netwerk24 -publikasies nie.

“Moet geen fout maak nie, Netwerk24 se publikasies se grootste gemene motief is oorlewing, en hulle doen alles in hulle vermoë om aanklank te vind by hulle teikenmark. Daar is absoluut niks hiermee fout nie, maar een van die redes hoekom ek nog altyd by Vrye Weekblad aanklank gevind het, was dat dit nog nooit Vrye Weekblad se grootste waarde was nie.

“Ek het ’n kleintjie dood aan die sêding ‘ons is nie almal so nie’, want ons is vanselfsprekend nie verdomp almal so nie, en die dag wat ek moet toertjies doen en argumente voer om aan mense te bewys dat ek nie ’n Afrikaner van die klipkop-variëteit is nie, is ook die dag wat ek vir my ander mense moet kry om mee te stry oor minder vanselfsprekende goed. Maar Vrye Weekblad was tog die sigbare bewys van ’n gemeenskap waarvan ek myself deel voel, en dit is tienduisend keer beter as daai gemeenskap meer sigbaar is deur ’n publikasie soos Vrye Weekblad as wat dit nie is nie, want as dit nie sigbaar is nie begin mens soms wonder of daar ander mense is wat soos jy dink en soos jy leef, want ons is maar dun gesaai oor die geknelde land.

“Mens wil nou nie melodramaties oor die ding raak nie, maar dis ’n soort geestelike tuiste vir skewe Afrikaners soos ek. Selfs al het ek nie eers elke uitgawe gelees nie, was dit net goed om te weet dit is daar. En wanneer ek gatvol gevoel het vir min of meer alles anders lees, sou ek op Vrye Weekblad klik om sommer enigiets daar te lees. En nou is dit weer moertoe.”

Terug na die hede. Ek is die afgelope twee en ’n half jaar as joernalis betrokke by hierdie legendariese publikasie, eers as soort van permanente vryskut en vir die laaste jaar as inhoudsredakteur. Dit is ’n feit waarop ek baie trots is. Hierdie slag belewe ek die einde van die publikasie van binne af, en dit is anders. Ek is so bietjie soos ’n sjef wat ná twee uur voor die potte sy eie bredie nie meer lekker kan proe nie. Ek is nog te besig in die middel daarvan om die volle impak te beleef.

Maar oor ’n week is ek haweloos. Figuurlik en tot ’n klein mate letterlik ook. Joernaliste soos Max du Preez se stem het vir my altyd helderder geraak in donker tye – dit sny deur die stront, om nou Bitterkomix aan te haal. Ook die laaste ses jaar. Hierdie slag vuis in die lug teen die verterende nuwe elite. En in die laaste tyd ook teen die kruipende regse invloed. My hoop is dat hierdie stemme nie verdwyn nie maar in nuwe volhoubare formate invloei en helder bly klink oor ons desperate landskap.

Vanaf April af woeker ek saam met Anneliese Burgess, Piet Croucamp en Laureen Rossouw by Binne+Land, ons nuwe nuusbriefplatform. Jy kan hier gratis registreer.

Alles van die beste, 

Ali

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Dislojale verset

Jou oë kaats
die onvermoë om vrees
in myne raak te lees.
Jy ruik nie die asem
wat honger
deur gebarste lippe wasem.
Jy bly doof
vir my storie wat vertel
van daklek en winterhel.
My koker met die Quink trek leeg,
ek vul dit aan by Total in ’n steeg.
Ek pen sò my verhaal
in die ontvlambar
twaalfde taal.

- Gerhard Barkuizen

Uit: Versindaba


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.